Openbaring 22:6-21

Pelgrims, nie setlaars nie



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons weet almal dat die lewe maar altyd deur aan die verander is. Soms verander 'n mens se omstandighede stadig, en ander kere weer (en dit beleef ons baie naby aan ons in ons huidige tyd) verander dinge rondom 'n mens teen so 'n geweldige tempo dat 'n mens voel dat jy nie met alles kan byhou nie.

Want byhou móét 'n mens maar op een of ander manier, broers en susters. Dit is doodgewoon menslik dat alle mense vertroud wil wees met hulle omstandighede, wat mag en nie mag nie, wat van jou verwag of nie verwag word nie. Juis omdat elkeen van ons nie los kan leef van die dinge wat rondom jou gebeur nie. Of, kom ons sê dit in kort: elke mens se omstandighede, en veral veranderende omstandighede, stel eise aan hom/haar. Dit vra dat jy sal aanpas of weerstand bied, dat jy sal saamgaan met dit wat verander, of dat jy jou daarteen sal verset.

Een nadeel van dit alles, broers en susters, is dat dit dikwels gebeur dat die wêreld, maar ook die Kerk, so vasgevang of opgeneem word in alles wat verander, so spook om alles bymekaar te hou en standpunte oor alles en nog wat te formuleer, dit wil sê, só besig word met die dinge wat telkens maar net weer opduik, só besig word met dit wat maar net voorhande is, dat veral die Kerk begin vergeet waarheen hy op pad is.

Met ander woorde, die Kerk raak soms so besig met die elke dag se dinge, dat die Kerk (en sy lidmate) begin vergeet dat die dinge waarmee hy besig is nie alleen maar net van verbygaande aard is nie, maar ook begin vergeet wat sy eindbestemming is. Dat gelowiges begin vergeet dat die elke dag se dinge van hierdie wêreld nie in die laaste plek alles is waaroor dit gaan nie, maar eerder dat die Kerk, sy lidmate, God se kinders, op pad is, op weg is, 'n eindbestemming het, naamlik om eendag by God te wees.

Want so gebeur dit maar, broers en susters: ons besigwees met die wêreld en sy dinge, en die bedreiginge van so baie dinge in ons tyd, maak die hemel vir ons vaag en ons perspektief na Bo dof.

Want so maklik — en soms voel ons ons kan net nie anders nie — raak 'n mens se werk, jou besigheid, jou gerief, al die huiswerk, die betrokkenheid by die skool, die bou aan jou beroep, die opvoeding van jou kinders (noem maar op), vir ons so belangrik dat die wederkoms van Christus en die hemel vir ons vaag word. Dan word ons setlaars op aarde in plaas van pelgrims.

Ons lees iets hiervan raak sommer al in begin van die Openbaringboek, waar die sewe gemeentes aan wie hierdie boek in die eerste plek gerig was — omdat hulle nie meer geleef het in die verwagting van die nabyheid van die wederkoms nie, veral omdat hulle vasgevang geraak het in die eise van elke dag — begin het om allerlei aanpassings in hulle geloof te maak sodat hulle rustiger en gemakliker in die wêreld kon leef.

Kom ek noem net 'n paar voorbeelde (u kan dit later vandag breedvoeriger gaan nalees in Open 2 en 3): die gemeente in Efese het so hulle kragte ingespan om diegene onder hulle wat valse profete was te ontmasker, dat hulle nie meer God liefgehad het soos in die begin nie; Pergamum weer het hulle so besig gehou om die Jode onder hulle wat nog die wet wou sien as die enigste weg van verlossing uit die gemeente te weer, dat hulle, sonder om dit te besef, die leer van sommige van die heidene onder hulle begin aanhang het, en Loadisea het so in hulle welvaart opgegaan dat hulle begin reken het dat hulle God nie meer nodig het nie en daarom nie meer bruikbaar vir die Here was nie.

Maar kom ons vra, broers en susters: hoe lewe iemand, of hoe behoort iemand te lewe met die wete, of in die verwagting, van die dinge wat binnekort gaan gebeur (soos vers 6 dit stel), of eenvoudig gesê, in die verwagting dat die wederkoms voorhande is? In ons antwoord op hierdie vraag kan ons gebruik maak van die pragtige beeld wat ons gedeelte bevat oor 'n bruid (in vers 17).

Ons weet mos, broers en susters, wat die reël van 'n troue alles inhou. So baie dinge moet gereël word, uitnodigings moet uitgestuur word, die onthaal moet gereël word, die rok moet gemaak word, klere moet gekies en gekoop word. En gewoonlik is almal oor alles opge­wonde. Die familie, vriende, kollegas word as 't ware in opgewondenheid saamgesleep na die dag waarop alles voltrek sal word. En die oggend van die troue gaan sit die bruid om haarself met groot sorg te grimeer, en baie moeite word gemaak met hoe die hare moet lyk. Opgewonde word die trourok aangetrek, daar word vir die fotograaf geposeer, dit alles met opgewonde afwagting waar die bruid netnou haar bruidegom gaan ontmoet, om dan saam met hom die lewe in te stap.

Net so, broers en susters, beskryf Openbaring wat die kerk se ingesteldheid moet wees in afwagting op die wederkoms van die Here. In ons gedeelte word die kerk met 'n bruid vergelyk: 'n bruid wat, soos 'n gewone bruid nie kan wag om haar bruidegom in die kerk te ontmoet nie, nie kan wag om sy Heer en Verlosser te ontmoet nie. En omdat die kerk as bruid nie kan wag vir hierdie ontmoeting nie, doen die kerk alles vir die bruidegom wat hulle kan, en met verlange en opgewondenheid kan hulle nie wag om die hemelse Bruidegom te ontmoet om vir altyd saam met Hom te wees nie.

Maar kom ons beskryf die ontmoeting tussen bruid en bruidegom ook anders, broers en susters: gestel die bruid besluit die oggend van die troue dat sy nie meer met haar bruidegom wil trou nie, hoe swaar moet al die bruidsverpligtinge en bruidsvoorbereidings nie op haar druk as sy nie meer na haar bruidegom verlang en nie meer die behoefte het om saam met hom haar lewe te sluit nie?

Is dit nie, broers en susters, miskien die waarste beskrywing van die kerk vandag nie? Omdat ons so vasgevang geraak het in die alledaagse, in die elke dag se, verlang ons as gelowiges, as Bruidskerk, nie meer na ons Bruidegom in die hemel nie. Ons wil eintlik nie meer by Hom wees nie. En juis daarom, broers en susters, word al ons verpligtinge, kerklik of andersins, vir ons soms so 'n sware las. Ons doen dit darem nog soms, maar dan is dit soveel moeite. En bo alles broers en susters, is dit eenvoudig waar: Waar die Bruidegom nie meer verwag word nie, daar sterf alles in en om die bruid 'n stadige dood. Is dit nie dalk wat God sien as Hy na sy Kerk kyk nie?

Maar tog, broers en susters, wil ek amper sê, is alles nog nie verlore nie. Ons kan weer begin leef in die verwagting en verlange dat God gou sal kom. Eerstens omdat God ons die geleentheid gee dat elkeen van ons se bruidskleed weer skoon en wit gewas kan word. Geseënd is hulle, sê vers 14, wat hulle klere laat was om so reg te hê op die boom van die lewe en die loon wat Jesus saam met Hom sal bring. En tweedens: al verlang ons dalk nie meer na die Bruidegom nie, die Bruidegom bly roep: ‘Kyk, Ek kom gou’. ‘Ja, Ek kom gou’. So word ons dus nie alleen weer die geleentheid gegee om in die regte verhouding met God te kom nie, maar word ons daardeur herinner dat elke dag vir ons soos 'n troudag behoort te wees, want die Bruidegom bly roep: Kyk, Ek kom. Wees gereed. Maak alles reg, Ek kom!

Ek wil afsluit met 'n laaste saak. Die nabyheid van die Here in 'n mens se lewe, broers en susters, het natuurlik te make met 'n verlange na die koms van die Here. Die nabyheid van die Here in 'n mens se lewe het egter ook met ander sake te make, en neem daarom ook ander gestaltes aan as net sy wederkoms. Met ander woorde, wanneer die Here eendag kom, sal ons naby aan Hom kom, by Hom wees, maar dit beteken nie dat dit nie ook nou al so kan wees nie. Want wie van ons het nie al in ons persoonlike stiltetyd, of in tye van ernstige gebed en smeking voor die Here sy nabyheid op 'n intense manier in ons lewens ervaar nie?

En toe daar krisisse in ons lewens was, tye van siekte, bekommernis en selfs dood, het baie van ons nie ook toe ervaar dat die Here by ons was, dat Hy die Een was wat ons hand in die swaarste en benoudste oomblik vasgehou het nie? En selfs in die erediens, broers en susters: het u nie al beleef dat wanneer die gemeente uit volle bors sing, of wanneer u werklik die woord van die kansel af hoor as die woord van God, dat God intens by u teenwoordig was nie?

Ek hoop so. Want dit is juis hierdie ervaringe van God se teenwoordigheid wat maak dat ‘n mens uitsien en daarna verlang om altyd by Hom te wees. En dit beteken dat 'n mens leef met die oë opwaarts gerig, waar 'n mens met verlange uitsien en kyk na wanneer die Bruidegom gaan opdaag.

Die teendeel is egter ook moontlik: ons kan so deel word van hierdie wêreld, ons kan so vasgevang raak deur ons verpligtinge, ons kan so aangegryp word deur die wêreld en al sy moontlikhede, dat ons nie meer kan of sal verlang na ons Bruidegom nie. Dan sal die kerk 'n stadige dood sterf. Is dit wat vandag in die wêreld aan die gebeur is, of is dit nie?

Die wyse waarop ons as bruid verlang om by die Bruidegom te wees, sal hierdie vraag beantwoord!
Amen