Lukas 12:35-48

Verlang ons nog om aan God getrou te wees?



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Ons het die afgelope aantal jare geweldige veranderinge in ons land en omgewing deurgemaak. En dan nie alleen op politieke of staatkundige vlak nie, maar ook op die vlak van menswees. Mense, met ander woorde, het verander. Mense het bewus geword van hulle regte (as gevolg van verskeie omstandighede waarop ek nie wil ingaan nie, en ook waaroor ek nie 'n waarde-oordeel wil uitspreek nie). Mense, sê baie, het mondig geword. Ook kerkmense. Hulle wil nie meer net sommer aanvaar wat die kerk sê nie, hulle wil nie hê dat die kerk hulle voorskryf of hulle lewens reël nie. Party reken dat die kerk se boodskap in elk geval nie meer relevant vir die probleme van die dag is nie. Ons sien dit veral by jongmense wat dikwels al hoe minder en minder aanklank by die kerk en die kerk se boodskap vind.

Wat meer is, ook van buite af word daar deesdae geweldige kritiek teenoor die kerk uitgespreek. Sommiges beweer dat die kerk in die verlede 'n sekere politieke bedeling gesteun het wat nie Bybels was nie. Daarom, sê diesulkes, moet die kerk sy skuld bely deur verskoning te vra. Ander weer reken die kerk het nie gedwaal nie, daarom is belydenis nie nodig nie. In die pers word ook dikwels gewag gemaak van die boodskap van die kerk, veral waar mense skerp vrae begin vra oor die historisiteit van sekere gebeure wat die Bybel as histories beskryf. Het Jesus regtig opgestaan, was Jona regtig in die maag van die vis, is die soort vrae wat heerlik deur die pers opgeslurp word en daardeur die kerk en die boodskap van die kerk ernstig verdag maak.

Die feit is, broers en susters, of ons nou met sekere sake hierbo genoem saamstem of nie, baie mense het hulle vertroue in die kerk verloor (of hulle redes opreg is of nie). Waar die kerk voorheen deur baie gesien is as die volk van God, Christus se liggaam, die tempel van die Gees, predikante en ampsdraers as God se gesalfdes, mense wat nie foute maak nie, daar ontvang die kerk deesdae geweldige kritiek. En sê baie selfs: los my uit, moet nie eers met my oor die kerk praat nie, ek het algehele vertroue in die kerk verloor. Ek wil daarmee niks meer te make hê nie.

Hierdie onsekerheid wat baie oor die kerk en die boodskap van die kerk het, broers en susters, berus op 'n baie groot misverstand. Die misverstand waaroor dit ook gaan in Lukas 12:35-48.

Jesus vertel hier twee gelykenisse om te waarsku dat die mense gereed moet wees, wakker. Soos werkers wat gereed moet wees wanneer hulle werkgewer dalk onverwags van 'n bruilof kan terugkom, soos 'n huiseienaar wat gereed moet wees wanneer 'n dief onverwags inbreek. So, sê Jesus, moet mense gereed wees vir die onverwagse koms van Jesus eendag weer by sy wederkoms.

Maar Petrus, sien ons, verstaan nie wat Jesus hier sê nie, wie Hy nou eintlik wil waarsku nie. Wie is dit, wil Petrus weet, wat nou so waaksaam en gereed moet wees? Wie het hierdie waarskuwing nodig? Daarom vra hy vir Jesus: maar wie bedoel U hier? Vir ons as u dissipels, of vir almal?

Jesus se antwoord op Petrus se vraag is duidelik: Ek vertel dit vir julle. Vir julle as my dissipels, vir die kerk, vir gemeentes, vir predikante, vir ampsdraers, vir kerkrade. Vir almal wat geroep is om Jesus se dissipels te wees.

Hoekom, broers en susters? Omdat ons van God 'n roeping ontvang het, 'n bepaalde verantwoordelikheid wat ons moet uitleef. 'n Roeping en verantwoordelikheid waaroor ons beoordeel sal word wanneer Jesus weer kom. Oor hoe getrou ons was, oor hoe ons ons opdrag uitgeleef het, of dit wat ons bely het werklik deur ons geleef is. Met ander woorde, broers en susters, die vraag sal nie gaan oor of ons kerk was nie, maar hoe ons kerk was. Of ons predikante, ampsdraers, gemeentes of gelowiges was nie, maar oor hoe ons dit was.

Daarom vra Jesus in Lukas se gelykenis: Wie is die eintlike getroue en verstandige bestuurder? En dadelik verduidelik Jesus wat sy vraag beteken deur nog 'n gelykenis te vertel: daar was 'n bestuurder wat aangestel was met 'n opdrag. Hy moes die ander werkers versorg deur hulle hulle kos op die regte tyd te gee. En wanneer die eienaar terugkom, vertel Lukas, sal dit wees waaraan hy getoets sal word. Of hy gedoen het wat sy opdrag was. En as dit so is, sal hy gereken word as die getroue en verstandige bestuurder. As hy egter nie sy opdrag uitvoer nie, sal hy by die koms van die eienaar geoordeel word as onverstandig.

Die toepassing van die gelykenis vir ons tyd is baie eenvoudig. Is ons getrou en volhardend besig om ons opdrag uit te voer? Is ons as kerk en gelowiges besig met wat ons besig behoort te wees? Met ander woorde, leef ons so dat die Here maar kan kom?

'n Baie belangrike vraag, hierdie, broers en susters. Hoekom? Want die versoeking vir die kerk en vir gelowiges is maar altyd daar om te sê: nee wat, die Here talm om te kom, daar is nog baie tyd oor. Daarom baie tyd vir my eie dinge en min tyd vir die Here se dinge. Hierdie lewenshouding, broers en susters, is een van die grondmotiewe in Lukas se evangelie: die feit dat die wederkoms uitbly, moet nie die kerk laat dink dat hy maar ontrou aan sy opdrag kan raak nie.

Wat, geliefdes, is die inhoud van hierdie versoeking? Die volgende, sou ek sê: ons raak onbewus van God se teenwoordigheid by ons, ons dink God is ver, daarom dat Hy nie eintlik aanspraak op my lewe het nie, en die feit dat Hy my geroep het om op 'n bepaalde wyse teenoor Hom, myself en ander te lewe, word vir ons al hoe meer en meer 'n saak van minder en minder erns.

Hoe gebeur dit, broers en susters? Op eenvoudige, soms onsigbare maniere. Die kerk bly kerk, Christene bly Christene, gelowiges bly gelowiges, en as lidmaat van die kerk bly ek maar net lidmaat. En terwyl ons wag op die koms van die Here, rig ons nog geboue op, hou vergaderings, woon eredienste by, vul ons ons dae met allerlei vergaderings en geleenthede vir toerusting. Maar in dit alles is die Gees van Christus, die feit dat ons weet ons het 'n roeping, dat ons dit doen vir die regte redes, dalk lankal nie meer teenwoordig nie. Dat ons so besig raak met die dinge van die Here, dat die Here van die dinge eintlik nie eers meer funksioneer in ons wyse van kerkwees, gelowig wees en gemeentewees nie.

Hoekom gebeur dit soms? Dit gebeur, sê Jesus in ons gedeelte, wanneer die kerk ontrou word aan sy dienskneggestalte en alleen homself begin soek en behaag. Dan, broers en susters, word sogenaamde diens aan God eintlik niks anders nie as selfdiens, selfsoeke, selfbehae, selfgesentreerdheid en selfsug. Dit is waarteen Jesus hier waarsku: dat gelowiges die intense verlange verloor om diensbaar en verantwoordelik voor God te lewe.

Die gevolg daarvan? Ons is nie meer gereed vir die koms van die Here nie. Ons dink God is nie meer by ons nie. Al weet ons dit is nie so nie. Juis daarom Jesus se waarskuwing in vers 47 en 48: hulle wat geweet het wat hulle eienaar wil hê (ons!), maar nie daarvolgens gehandel het nie, sal swaar gestraf word. Aan wie baie gegee is (dink maar aan al God se gawes elke dag in ons lewens), sal baie van geëis word. Harde woorde, broers en susters, maar woorde wat ons 'n slag weer aan die dink moet sit.

Wat ons moet laat besef: 'n goeie gemeente is nie in die eerste plek daardie gemeente wat aan al die uiterlike formaliteite van kerkwees voldoen nie, maar daardie gemeente wat verantwoordelik met sy roeping omgaan. Die vraag vir God is nie of daar iewers 'n gemeente X bestaan nie, wie hulle predikant(e) en kerkraadslede is of was nie, hoe hulle geboue, program en aktiwiteite lyk nie, hoe vol of leeg die eredienste is nie, maar: wat is die kwaliteit van hulle Christenwees. Arbei hulle in hulle roeping? Is hulle bereid om ander te versorg, is hulle gereed vir die dief wat by die venster wil inglip, of is hulle net besig met hulle eie dinge?

Daarom, broers en susters, kan die situasie waarin die kerk hom vandag bevind, met al die kritiese vrae wat na die kant van die kerk toe geslinger word, ook al die verwyte wat soms na die kerk se kant toe gegooi word oor dinge wat in die verlede gedoen is, eintlik net goed wees. Nie dat ek daarmee sê dat dit reg is. Nee, ek sê, goed. Goed, want dit dwing ons as' t ware weer tot selfondersoek.

Dit laat ons besef: maar ons mag nooit meen dat ons bo kritiek verhewe is nie. Ons moet altyd weer en weer bereid wees om te hervorm, daar waar dit nodig mag wees. Ons moet waak teen selftevredenheid, teen valse gerustheid. Ja, ons moet ons somse onberoulikheid weer raaksien, ook ons somse onveranderlikheid. Ons moet maar elke dag weer in die spieël van die Woord kyk, en bereid wees om te sê: ons, ek, het gesondig teen my Heer en teen my naaste.

Die vraag is nie, broers en susters, of Jesus by sy koms kerke, gemeentes en Christene gaan vind nie. Hy gaan. Daarvan is ek doodseker. Die vraag is egter of Hy geloof gaan vind, getroue bestuurders, gelowiges wat nog verlang, wat daarna smag, wat na niks anders in die lewe soek as om getrou God se wil te doen nie.

Ek wil afsluit met 'n laaste opmerking: ek het al dikwels gewonder, broers en susters, hoe anders my eie geestelike lewe, dit wat ek doen en sê, die bediening van baie predikante, die besoeke van baie ouderlinge, die debatte by kerkraadsvergadering en sinodes, die lewe van gemeentelede sou gelyk het as Jesus, sigbaar, altyd op 'n hoorbare afstand teenwoordig was. Daar in die hoek gesit en luister het na ons debatte, oor hoe ons beraadslaag, oor hoe ons met mekaar van mekaar praat, oor hoe en waaraan ons ons tyd spandeer. Dink u, ook soos ek, dat dinge dan dalk so effens anders sou gelyk het?

Die groot stuk ironie is egter dit: dit is so. Deur sy Gees is God so teenwoordig. Nie eers in die hoek nie, maar sommer by my, in my hart. Maar tog: lyk ons soos getroue en verantwoordelike bestuurders?
Amen