1 Petrus 1:17-21

Ware vrees en eerbied vir God



Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Karl Barth, wat deur sommige beskou word as die grootste teoloog van hierdie eeu, en wie se denke oor verskeie sake ook in ons Kerk se teologie ‘n geweldige rol gespeel het en nog steeds speel, het by ‘n geleentheid ‘n reeks dienste van die opwekkingsprediker Jacob Vetter bygewoon. Aand na aand, word vertel, het groot skares in sy tent bymekaargekom en aand vir aand het Vetter dramaties oor die hel gepreek.

Tot in die fynste besonderhede, so word vertel, het hy die verskrikkinge van die hel beskryf: die groot poele van vuur, die martelkamers, die duiwels met hulle swepe en die geweldige gekners van tande en die geween van hulle wat tot die ewige poel verdoem is. Sonder verbeelding kon ‘n mens die vlamme sien opskiet, die swaeldampe ruik en die mense onophoudelik hoor skree.

Keer op keer het Vetter sy gehoor oor die kole gehaal, herhaaldelik het hy hulle op al hulle sonde gewys, tot in die fynste besonderhede. Sy strategie was eenvoudig: vul die mense so met vrees vir die verderf dat hulle daarvan wegvlug, laat hulle so die hitte van die hel voel, dat hulle na die hemel hunker. Met ander woorde, en soos ons baie keer hoor hoe mense dit stel, sy boodskap was een van bekeer jou of bars, draai of braai.

Een van Barth se studente — wat Barth se teologie baie goed geken het — het na ‘n week vir Barth gevra wat hy van alles dink. Barth se antwoord was dadelik en eenvoudig: `Nee, so werk God nie. Hier word die intreepreek van Jesus — bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby julle gekom (vgl Mark 1:15/Matt 4:17) — omgekeer. Dit word: bekeer julle, want die koninkryk van die hel het naby gekom.’ En dit, het hy bygevoeg, is nie die evangelie van Jesus Christus nie. Want die evangelie van Jesus Christus roep ons nie op om bang vir God en bang vir sy oordeel te wees nie.

Nie, broers en susters, dat dit beteken dat die Bybel ons nie oproep om God te vrees nie (soos die Ou Vertaling van 1 Pet 1:17 dit stel), of om eerbied vir God te hê nie (soos die Nuwe Vertaling van 1 Pet 1:17 dit stel). Inteendeel 1 Petrus 1:17 roep ons met beslistheid op om God te vrees, of dan, om vir God eerbied te hê.

Hierdie nodige vrees en eerbied vir God, impliseer 1 Petrus 1, moet egter nie gebore word uit ons vrees vir die hel nie. Nee. Dit moet gebore word uit twee ander sake wat vasstaan en waarvan ons almal weet: eerstens, dat ons almal slegs tydelik op hierdie aarde is, en tweedens, dat ons maar te goed weet dat ons almal eendag voor die regterstoel van God sal moet verskyn, sodat — soos 2 Kor 5:10 dit stel — elkeen kan ontvang volgens wat hy/sy tydens sy/haar aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Hierdie twee sake, broers en susters, moet ons as God se kinders nie bang maak nie, dit moet ons eerder stem tot besinning. En, die Godsvrees wat hieruit voortvloei, moet eerbied vir God wees, nie Godsangs nie. Want God, broers en susters, is nie ‘n bangmaakgod nie.

Die Bybel vertel ons tog nie van ‘n God wat, wanneer Hy met ons in gesprek tree (wat natuurlik op verskeie maniere kan plaasvind/gebeur) met ‘n kwaai kyk en opgehefde vinger ons afdreig en sê: As jy stout is, sal ek met jou sus of so maak nie. So ‘n houding, wat ons soms ook teenoor ons kinders of minderes inneem, kweek in elk geval nie eerbied nie, maar eerder kondisionering. En tussen hierdie twee is daar ‘n verskil so groot as tussen die hemel en die hel, wil ek amper sê.

Wat meer is, God wil nie hê dat ons Hom sal dien omdat ons vir Hom bang is nie, maar omdat ons Hom liefhet, en vir Hom die nodige eerbied het juis omdat Hy is wat Hy is. Dit is in elk geval ook waar dat angs net meer angs by ‘n mens skep. En angs maak dit vir ‘n mens al hoe moeiliker om ‘n vry mens te wees, vry vir God en vry om God met oorgawe te dien.

Alles wat ek tot dusver gesê het, broers en susters, beteken natuurlik nie dat God tog soms wel oordele oor die wêreld, oor ons as mense en soms ook oor die kerk uitspreek nie. Maar wanneer God dit doen, doen Hy dit nie om ons bang vir Hom te maak nie. Nee. Hy doen dit om ons tot inkeer te bring en ons te louter. Die Bybel verstaan loutering, en dit is baie interessant, daarom dikwels juis as oordeel.

In 1 Petrus 4:17 vind ons byvoorbeeld ‘n goeie voorbeeld van ‘n oordeel van God se kant af: `Die tyd van oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God’. Maar, broers en susters, en dit is die groot maar, wanneer God ons oordeel, oordeel Hy nie om ons te dreig nie. Nee. Hy oordeel en louter ons dat ons tot inkeer kan kom. En wat meer is: selfs wanneer God oordeel, is God se oordeel nooit, soos Jacob Vetter geoordeel het, die sentrum van die evangelie nie, en wat meer is, Hy vind ook nie vreugde daarin om ons te oordeel nie. Want hoor hoe mooi Psalm 30:6 dit stel: God se toorn duur net vir ‘n oomblik, maar sy goedheid duur vir lewenslank’.

1 Johannes 4:8 sê God is liefde. Hy is nie ‘n spioengod wat met ‘n groot, kwaai oog deur ‘n vergrootglas uit die hemel op die aarde neerkyk, gereed om die geringste oortreding met ‘n oordeelsknal aan die kaak te stel en die oortreder vir ewig te verdoem nie. Dit is dus eerder God se liefde as sy oordeel wat ons tot inkeer en bekering wil oorreed. En hoor hoe mooi stel Paulus dit in Romeine 2:4: `God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld. Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?

Met alles wat ons gesê het, broers en susters, kom ons probeer nou die vraag, en tema van vanaand se prediking te beantwoord. Hoekom moet ons eerbied en respek vir God hê? In die eerste plek omdat ons weet ons lewe nie vir altyd nie, en dat ons eendag beslis deur God geoordeel sal word. In die tweede plek, en veral, omdat ons weet dat God ons liefhet. En juis omdat Hy ons liefhet oordeel Hy soms oor ons lewens, ‘n oordeel met die oog op loutering. Maar ook dan is God se oordeel en loutering ‘n daad van liefde.

Eerbied en vrees vir God mag daarom nooit sy grond vind in die feit dat ons vir die hel of vir God bang is nie. Dit, het Karl Barth gesê, is nie die evangelie nie. Nee. Ons moet eerbied vir God hê omdat ons raaksien hoe lief Hy ons het, hoeveel Hy vir ons omgee, en vir wat Hy alles sal doen om ons by Hom te kry en ons by Hom te hou. Ons moet eerbied vir God hê omdat ons nie anders kan nie, omdat ons so deur sy liefde oorweldig word, dat ons nie anders kan as om vir God respek en eerbied te hê nie. Dit, het Karl Barth gesê, dit is die evangelie.

Dit bring my by my laaste opmerking. En kom ek stel dit so: Godsvrees, eerbied vir God, respek vir God word daarom altyd deur Godsvisie voorafgegaan. Of ander gesê: die beste manier om eerbied vir God te ontwikkel, is om na Jesus Christus te kyk!

En dit stel Petrus vir ons pragtig in hierdie gedeelte. Wanneer hy hier aan die vroeë Christene skryf wat gevaar loop om terug te val in hulle geloof, dreig hy hulle nie. Hy klim nie met die spreekwoordelike sambok of karwats onder hulle in nie. Inteendeel. Hy hou Jesus aan hulle voor. Want hy weet: daar is niks wat die gelowige of die kerk so kan motiveer, so kan opwek as om weer die kruis en die opstanding van Christus uit die dood voor hulle te hou nie. En deur die eeue heen was dit bepaald altyd so: waar Christus ontdek, en herontdek is, het die kerk herleef. Neem maar gerus die Reformasie hier as voorbeeld.

Want wanneer ‘n mens met die kruis en die opstanding van Christus gekonfronteer word, wanneer ‘n mens so met God se liefde gekonfronteer word, kan ‘n mens, soos Hebreërs 12:1-2 dit stel, elke las van jou afgooi, alles wat ons so maklik verstik en verstrik, juis omdat jy die oog gevestig hou op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

Dus: wie reg kyk, sal reg leef, en die regte eerbied, gesag en respek vir God en sy gebooie hê.
Amen