Jakobus 4:13-17

Die gevaarlike woordjie môre

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Ons gebruik soms woorde om dinge wat eintlik heeltemal verkeerd is, om sake wat nie stigtend/opbouend is nie, reg te probeer praat of sagter op ander se ore te laat val. So praat baie byvoorbeeld van `n liefdeskind, in plaas van 'n  kind wat buite die eg gebore word. Of iemand het iets nie gesteel nie, net gegaps.

Of, wanneer iemand homself of haarself te buite gaan wat die te drinke betref, is dit nie drankmisbruik nie, maar eerder net iemand wat lekker gekuier het. Ons skinder ook nie wanneer ons iets negatiefs van iemand by 'n ander oorvertel nie, nee, ons ruil maar net feite uit, gee maar net die feite deur. Net so is `n leuen en `n witleuentjie vir baie hoegenaamd nie dieselfde ding nie. En daar is nog baie ander voorbeelde, waarvan u seker baie beter voorbeelde kan noem.

Hierdie soort taalgebruik, broers en susters, is gevaarlik. Want so wil ons dikwels probeer om die werklikheid, of die werklike stand van sake,te misken, weg te praat. Daar is egter ook `n ander woord, broers en susters, as dit kom by die miskyk van die werklikheid, ontkenning van my werklike omstandighede, wat nog gevaarliker is: die woordjie môre. Nie vandag nie, môre. Ek kan nie vandag nie, ek sal môre.

Ja, broers en susters, hierdie woordjie môre waarvan `n bekende Afrikaanse digter geskryf het:

 Môre is `n hersenskim,

Môre is skone illusie, dit is kaf;

ja, môre is soete bedrog,

want jy leef nie môre nie, jy leef vandag.

 

Hoekom, sal u vra, is hierdie woordjie so gevaarlik? Want die woordjie môre, broers en susters, gaan dikwels hand aan hand met die woordjie uitstel. En wanneer dit kom by die saak van geloof, wanneer dit kom by die gelowige se persoonlike geloofsverhouding met God, ja, wanneer dit kom by die gelowige se verhouding met die ander in sy/haar lewe dan is die woordjie môre (en by implikasie uitstel) baie, baie gevaarlik.

 

Komek noem u so twee of drie voorbeelde van mense in die Bybel wat môregesê het toe hulle moes gesê het vandag:

 

Absalom se naam beteken vader van vrede. Maar ironies is dit juis hierdie vader van vrede wat die swaard teen sy eie vader, Dawid, opgeneem het om die koninkryk sy eie te maak. Eers het Absalom Dawid uit Jerusalem verdryf, en toe vir Dawid anderkant die Jordaan vasgekeer. Ons lees hiervan in 2 Samuel 16-18.

 

Toe Absalom egter die finale slag moes slaan, het hy getwyfel. Agitofel, een van sy raadgewers het gesê: vannag nog, hierdie nag Absalom, moet jy met 12000 uitgesoekte manne Dawid finaal oorweldig. Husai, `n ander vertroueling, het egter gesê: nie vannag nie, stel eers die grootte en ligging van Dawid se leër vas. Agitofel sê dus: vandag! En Husai sê: môre! En Absalom besluit om uit te stel.

 

Met die gevolg? In die geveg wat toe uiteindelik aanbreek word sy mag vernietig en bly hyself aan sy haarlokke in die woud van Efraim hang. Ook word sy liggaam later in `n sloot gegooi en soos die soldate verbybeweeg het elkeen `n klip op die prins se lyk gegooi. Waar hy dus in `n praalgraf in Jerusalem begrawe sou word waar die hele volk oor hom sou treur, lê hy nou in `n sloot in `n bos waar niemand oor hom treur nie. En dit net omdat hy gesê het: nie vandag nie, nie vannag nie, liewers môre.

 

`n Tweede voorbeeld is die van Feliks, van wie ons in Handelinge 23 en24 lees. Feliks was die goewerneur van die provinsie Judea, en hy moes Paulus verhoor nadat Paulus deur `n aantal Joodse leiers aangekla is dat hy die Joodse godsdiens regdeur die wêreldskeur, dat hy die opstanding uit die dood verkondig en dat hy die tempel sou ontreinig het.

 

Feliks en sy vrou Drusilla (`n Jood), so vertel Handelinge 24, het kennis gehad van die Christelike geloof, alhoewel hulle goddeloos gelewe het en die Christelike godsdiens nie aangehang het nie. Tog laat Feliks vir Paulus kom om meer van die Christelike godsdiens te hoor. En wanneer Paulus die geleentheid kry om voor Feliks en sy vrou te getuig, sien ons speel Paulus nie.

 

Hypraat oor `n lewe van gehoorsaamheid voor God, hy praat oor selfbeheersing, hy praat oor die komende oordeel en oor die opstanding van die dooies. Hierdie woorde van Paulus het Feliks laat bang word oor sy eie lewe en toekoms. En daarom het hy gesê:dit is nou, vir vandag genoeg. Gaan maar, as ek weer tyd het, miskien môre, sal ek jou weer laat kom.

 

Wat het met Feliks gebeur: sy gewete het hom vir die eerste keer in `n lang tyd weer begin pla, hy het skuldig oor sy lewe begin voel, hy het angs en skuld begin beleef. Maar hy wou die saak nie vandag regstel nie. Miskien môre, het hy gesê. Miskien moet ek wag tot môre. Môre is nog `n dag. Met die gevolg? Nie baie lank daarna nie is Feliks deur Porcius Festus opgevolg, en kon hy nooit weer met Paulus praat nie.

 

`n Laaste voorbeeld: ons almal ken die gelykenis van die ryk dwaas in Lukas 12:13-21. Sy grond het goed gedra, so goed dat sy skure te klein geword het om alles op te gaar. Toe besluit hy: ek sal die oues afbreek en nuwes bou, ek sal alles wat ek het en wat ek vir die toekoms nodig sal hê daarin bêre, en dan sal ek vir myself sê: ou maat, jy het baie goed gedoen, en baie weggesit vir die jare wat voorlê. Hou op met werk, want van nou af, môre en oormôre en die dag en dae daarna kan hy lekker eet, drink en leef.

 

Maar wat sê die gelykenis, broers en susters? Terwyl die ryk man besig was met môre, was God besig met vandag. Jou dwaas, het God gesê, vannag nog sal Ek jou lewe kom opeis. Met die gevolg? Die volgende dag het die mense, wat gekom het om die fondament van sy nuwe skure te grawe, sy graf gegrawe. En sy besittings en vol skure is deur ander gebruik, nie deur homself nie.

 

Hoekom, broers en susters, is die woordjie môre so gevaarlik? Wat is verkeerd daarmee om te sê: nie vandag nie, ek sal dit môre doen. Of, ons sal môre na daardie stad toe gaan.

 

Of, broers en susters, miskien wil u vra: maar wat het die woordjie môre te make met die vier van Kersfees, of met adventstyd. Wat het die woordjie môre te make met die fees van vrede en vreugde wat ons nou vier.

 

Alles, broers en susters. Tydens adventstyd vier ons die koms van Christus na hierdie aarde toe. Ons vier, by implikasie, ook die koms van Jesus Christus na elkeen van ons toe, na elkeen van ons se harte toe. En waar is Christus, broers en susters, werklike binne ons harte, of buite of dalk darem so halfpad binne?

 

So halfpad binne dat daar baie liefdevolle woorde teenoor ander op ons tong lê, maar dit nog net nie uitgespreek het nie. Ons sal  miskien môre. Of dat ons nog dankie wou sê, of nog daardie guns wou bewys, of nog hierdie of daardie een wou vergewe, of nog hierdie of daardie saak wou regmaak.

 

Ons weet ons moet dit doen. Christus dring ons daartoe. Maar nog nie hard genoeg nie. En tog net nie vandag nie. Miskien môre, miskien sal die regte geleentheid homself môre voordoen. Dan sal ek.

 

Of: dit is goed dat Christus kom. Dit is goed dat ons sy koms na hierdie aarde herdenk. Dit is goed dat ons die fees van vrede vier. Maar Christus moet net nie hierdie jaar, of vandag, te naby aan my kom nie. Hy moet net nie vandag van my vra om myself ten volle aan Hom te wy nie. Hy moet my net nie vra om vandag met hierdie of daardie een te gaan vrede maak nie. Miskien, môre, miskien volgende jaar. En miskien sal ek volgende jaar die volle betekenis van Kersfees soek. Net nie hierdie jaar nie. Nee, hierdie jaar wil ek nog Kersfees vier soos ek wil.

 

Die probleem is net, sê Jakobus — julle weet nie eers hoe julle lewe môre sal wees nie.

Amen