Matteus 14:22-33; 5:4


Die sleutel van die deur van die tronke waarin ons lewe


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Diegene van u wat verlede Sondagoggend se erediens bygewoon het, sal ons teksvers, Matteus 5:4, onmiddellik herken het, omdat hierdie vers ook toe aan die orde gekom het. Vanoggend se preek, broers en susters,is gebore — kan ek amper sê, — uit eie nadenke oor wat ek verlede week probeer sê het. Miskien was daar `n tekort, miskien was daar onduidelikhede, of, miskien is die saak wat toe aan die orde was, vir `n kind van God se geloofslewe so belangrik dat ons dalk maar gerus aspekte van verlede week weer aan die orde kan stel.

Ek wil begin, broers en susters, met `n algemene opmerking. Miskien is die opmerking waar van u lewe, miskien nie. Maar ek dink dit is ten minste `n opmerking waaroor ons almal weer, hier waar ons aan die begin van die Kerstyd staan, kan nadink. Die opmerking is die volgende: dit lyk soms werklik so, broers en susters, dat mense wat sê hulle glo in Jesus Christus, dus, wat sê hulle het die lewe, die ware/nuwe lewe in Christus ontvang, so lewe asof hulle nie die ware lewe ontvang het nie. In kort: ons sê ons glo, maar wat ons sê ons doen(glo) maak soms/ dikwels geen verskil in hoe en wat ons elke dag doen nie.

Wat ek so pas gesê het, broers en susters, wil ek illustreer met `n vertelling wat ek gelees het in een van Bonhoeffer se werke, te wete sy briewe uit die tronk. Hierin vertel hy die volgende verhaal:

Op `n keer was hy in die tronk besig om Bybelstudie saam met `n aantal gevangenes gedoen. Die tema wat aan die orde gekom het was die kruis van Jesus Christus, as sigbare teken van die liefde wat God in sy hart vir mense het. Dit het ook gegaan oor die hemel, dit wat niemand, die owerheid of die gaskamer van iemand kon wegneem nie.

Een gevangene het tot op hierdie punt baie ernstig geluister, maar toe die woord bekering aan die orde kom, het sy gesig verhard. Ja, woorde soos die liefde van God en die hemel het sy gesig laat ophelder, maar met woorde soos ‘ek was verkeerd’, ‘ek is skuldig’, ‘vergewe my’ was hy baie ongemaklik. Want hierdie man was iemand wat nooit vir iemand anders teruggestaan het nie, en hy was ook nie van plan om dit nou te doen nie, selfs al was daardie iemand God.

In `n laaste poging om met hom te vorder, het Bonhoeffer weer aan hom gevra: ‘maar wil jy nie hemel toe gaan nie?’. En sy antwoord: ja, ek wil. Maar moet my net nie vra om my lewe te verander nie. Die liefde aanvaar ek mos, die kruisdood aanvaar ek ook, maar moet net nie van my verwag Sondag hier in jou kerk te kom sit nie.

Hierdie man se eintlike tronk, dit waarin hy werklik vasgevang gesit het, skryf Bonhoeffer dan, was nie `n fisiese tronk met mure en tralies nie, maar die tronk van hoogmoed. Die tronk van hoogmoed vol mense wat glo wat hulle wil glo, en dan ook wil doen wat hulle wil doen. Dit maak ook nie saak wat hulle aan wie doen nie, al wat saak maak is dat hulle doen soos hulle wil. En dan ook te sê hulle glo.

In ons tyd, broers en susters, is daar baie sulke gevangenes. Dit is die alkoholis/werkoholis wat nie wil erken dat hy/sy `n probleem het nie, dit is die een wat weier om met ander te praat oor vrese, dit is die hulpelose wat weier om van ander hulp te vra, dit is die een wat reken dat almal foute maak behalwe hy. En miskien, broers ensusters, net miskien, as ons in die spieël gaan kyk, sien ons dat elkeen van ons, ek ingesluit, ook maar op een of ander manier `n gevange geraak het. Opgesluit in die tronk van hoogmoed, beterweterigheid, eie waan, of wat ook al. Met gereedskap soos regverdiging (dit was sy skuld, nie myne nie), rasionalisering (dit was omstandighede se skuld) of vergelyking (ander doen dit ook, daarom is ek nie so sleg nie).

Hierdie verskonings, broers en susters, klink soms baie goed, al klink hulle bekend. Hulle klink soms selfs oortuigend, ja soms oortuig ons selfs onsself. Jesus sê egter dat in die koninkryk hierdie opmerking hol en leeg klink. Want in die koninkryk, sê Jesus, kan iemand wat voor God kom staan, kan iemand wat werklik besef wie en wat hy/sy voor God is, nie anders as om te treur nie. Te treur oor eie gebreke en verbreking van God se gebod nie. Daarom ook dat sommige meen dat vers 4 ‘geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word’, goedskiks ook sou kon lees as ‘geseënd is die wat weet dat hulle verkeerd en anders as God is en verstandig genoeg is om dit te erken, want hulle sal bly gemaak word’.

Met ander woorde, broers en susters, die groot paradoks van die evangelie: jy word eers waarlik vry deur jou vryheid weg te gee, vreugde kom alleen deur droefheid, bevryding kom alleen deur belydenis. Dit waarvan Petrus in ons gedeelte vanoggend `n pragtige voorbeeld is.

Petrus, die man van die manne op die see van Galilea. Een ding waarvan hy iets geweet het, was die see, die lewe van `n visserman. Soveel, en genoeg, om beter te weet as om in `n storm vasgevang te word. En hierdie aand het Petrus geweet dat hy in die moeilikheid was. Die wind was van voor, die golwe was te groot vir die bootjie waarin hulle was. `n Storm soos hierdie het hy nog net van gehoor, daardie storms waarin saamroei nie `n snars help nie, daardie soort storm waarvan hy nog net die resultate gesien het: wrakstukke en opgeblaasde liggame wat op die kant uitspoel. Hy het dus maar te goed geweet: dit was nie nou tyd om vir jouself naam te maak nie, dit was nou tyd vir hulp soek, tyd vir gryp na elke stukkie uitkoms of hoop.

Dit is waarom Petrus, toe hy Jesus na hulle skuit sien aankom, die eerste een is om te sê: ‘Here, as dit regtig u is, beveel my om op die water na U te kom’. Baie van die kommentare op hierdie gedeelte, broers en susters, beweer dat ons in hierdie woorde van Petrus moet sien dat Petrus se woorde `n soeke na bevestiging is. Hy wil seker maak dat dit Jesus is, nie `n spook nie. Ek dink ons kan hierdie woorde van Petrus ook anders verstaan. Ek dink nie Petrus wil met sy woorde maar net seker maak dat dit Jesus is nie. Ek dink hy wou eenvoudig sy bas red. Want hy was maar te goed bewus van een groot sekerheid: hy gaan onder, terwyl Jesus bo bly. En dit neem hom nie lank om te besluit waar hy liewer wil wees nie.

Daarom, as Jesus hom nooi, laat Petrus nie op hom wag nie. Dit is nie werklik moontlik om op golwe te loop wat baie hoër as jy is nie, maar as jy te staan kom tussen `n sekere dood en die moontlikheid van lewe, weet Petrus baie goed wat om dadelik te kies.

Wat hierna gebeur het, broers en susters, weet ons almal baie goed. Ons almal ken hierdie vertelling. Maar kom ons kyk vir `n slag vanuit `n ander hoek na wat hier gebeur het. Want wat hierna gebeur, toon presies die verskil aan tussen Jesus, die man in die tronk met wie Bonhoeffer sy gesprek gehad het, en ook ons, wat miskien maar almal een of ander tyd in die gevangenes van hoogmoed of wat ook al sit.

Dit is die verskil tussen `n man wat sy probleem/nood/behoefte probeer wegsteek, teenoor iemand wat bereid is om dit ruiterlik te erken. Daardie harde man in die tronk sou liewer verkies om te verdrink as om sy vriende te laat hoor dat hy om hulp roep. Hy sal eerder op sy manier ondergaan as om op God se manier gered te word. Petrus, daarenteen, weet egter in hierdie oomblik dat dit beter is om die hand wat na Hom uitgesteek word te gryp as om dit weg te klap. Daarom sy woorde: ‘Here, red my!’

Ek meen die boodskap van hierdie gebeure, broers en susters , vanuit hierdie hoek gesien, is baie duidelik. Solank Jesus maar net een van my baie opsies is, is Hy geen opsie nie. Solank jy meen dat jy jou laste alleen kan dra, het jy nie `n lasdraer nodig nie. En helaas: solank jou situasie van sonde en verlorenheid jou nie in smart en nood voor God dompel nie, sal jy ook geen vertroosting ontvang nie. En solank jy Hom maar net vat en dan weer los, kan jy Hom net sowel maar los. Want God duld nie diesulkes wat Hom net halfhartig wil aanvaar nie.

Die teendeel is ook waar. Wanneer ons voor God begin treur oor wat ons is, wanneer ons erken dat daar geen ander uitweg is as om ons sorge op Hom te werp nie, en wanneer daar werklik geen ander naam is wat ons wil uitroep nie, dan wag Hy vir ons in die storm.

Maar tog, broers en susters: so maklik wil ons liewer ons pad stap, al weet ons dit is verkeerd, as om God se pad te stap. Vreugde, selfgemaakte vreugde, lei so dikwels tot hartseer. God se pad werk egter net anders om: hartseer oor wat jy behoort te wees voor God maar wat jy nie is nie, lei tot die vreugde van word wat God wil hê ons moet wees.

Alleen hierdie pad sal ons in die Kerstyd wat kom die Kind in die krip laat raaksien, en nie maar net die geskenke wat rondom die krip lênie.

Amen