Psalm 80


God se koms na hierdie wêreld waarborg voorspoed


 

Broers en susters in ons Here Jesus Christus:

Kan `n mens werklik met God praat soos ou bekendes met mekaar praat, of soos mense wat werklik vir mekaar lief is, werklik vir mekaar omgee, met mekaar praat?  Met ander woorde, kan `n mens werklik met God praat oor die mooi dinge in jou lewe, sommer net so praat, oor die dinge wat jou gelukkig maak, die dinge waaroor jy opgewonde is, die dinge waarna jy uitsien?

Maar ook oor die dinge waaroor jy hartseer is, die dinge wat jou bang maak,die dinge waarna jy verlang? Ja, daardie dinge waaroor jy opstandig is, die dinge waaroor jy nie soseer wil praat nie, maar oor wil kla, selfs in oomblikke van swakheid en woede ten hemele wil skree? Of kan `n mens met God net oor sekere dinge praat, byvoorbeeld die dinge wat jou gelukkig maak? En dan net by wyse van formele gebed?

In Psalm 80 kry ons Israel in gesprek met God. En in hierdie gesprek is daar min dinge waaroor Israel gelukkig is. Hulle kos is hulle eie trane (vers 6), al wat hulle drink is verdriet (vers 6), hulle bure veg teen hulle (vers 7), hulle vyande lag vir hulle (vers 7), hulle vyande dryf met hulle die spot en beroof hulle (vers 13), en selfs die wilde diere van die veld val hulle lastig (vers 13).

En bo alles veg hulle met God (vers 5). Want God antwoord nie op hulle gebede nie. U is afsydig, sê hulle (vers 5). En daarom kla-sê hulle, roep-vra hulle, smeek-bid hulle, sonder ophou: laat dit tog weer met ons goed gaan, o God, verskyn tog tot ons redding (vers 4, 8en 20).

Maar dit is nie al wat Israel doen nie, broers en susters, hulle gaan sit nie net in sak en as nie. Nee. Want wat hulle tog het is herinneringe aan die goeie ou dae, die goeie ou dae toe God hulle as goeie Herder uit Egipte gelei het, toe God hulle as wingerdstok in `nnuwe land geplant het, en dat hulle kon groei en voorspoed kon beleef. Saam met hulle kla-sê, roep-vra, smeek-bid dink hulle ook terug aan die goeie ou dae.

Die interessante is egter, broers en susters, dat hierdie heimwee ten opsigte van die verlede nie hulle klagtes versag nie, inteendeel —dit roep dit juis wakker. Hulle herinnering word `n klag (hoekomgaan dit so swaar?), hulle kla `n kreet wat roep tot God se verskyning (laat dit tog weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!). Met ander woorde, hulle herinneringe aan die verlede maak hulle klagtes soveel intenser! Hoekom?

Juis omdat hulle toe gesmaak het wat dit beteken om God werklik in hulle lewens teenwoordig te kon ervaar. Omdat hulle toe beleef het wat dit beteken om God by jou te hê en voorspoed te beleef. Hulle weet hulle is die volk van God, hulle weet dat God hulle uitverkies het. Dus weet hulle dat God hulle op een of ander manier, op een of andertyd, tegemoet sal kom.

Juis daarom, broers en susters, praat hulle met God, kla hulle voor God, smeek hulle voor God — kom ons sê: praat hulle amper met God soos ou vriende praat. En wie so tot God roep, vloek nie, nee, broers en susters, wie so roep bid — bid omdat hulle glo.

Maar nou is dit so, broers en susters, en dit moet ons raaksien, dat om so te roep, te bid en te glo, nie beteken dat alles nou goed sal uitloop en dat alles nou ewe skielik in ons smaak sal val nie. Nee. Dit gaan goed op `n ander manier. Dit gaan goed omdat mense werklik glo dat God aan mense verskyn (op verskillende maniere) en sal verskyn, dat God nie alleen met ons is nie, maar ook by ons en in ons is.

Eks ê altyd vir myself, broers en susters, dat hierdie dalk ons definisie van voorspoed behoort te wees: as `n mens maar net weet, net werklik glo, dat God altyd by jou is, dan gaan dit goed, al gaan dit sleg, selfs al slegter. Want daarin is ook `n troos. Want hoe slegter dit gaan, hoe sieker ek word, hoe groter en groter my probleem word, hoe harder en gereelder moet ek roep: Here, verskyn tot my redding. En hoe harder en gereelder ons roep, hoe besiger raak ons met God, en hoe nader en nader beleef ons God.

Het Israel se gepraat, se gekla en gebede tot God gehelp? Ons kan sê ja: want hierna het hulle dikwels voorspoed beleef. Maar ons moet ook sê nee: want hierna het hulle ook baie teëspoed beleef. Maar dit maak nie saak nie, broers en susters. Want hierdie vraag is `n verkeerde vraag.

Want voorspoed en teenspoed moet ons op ander maniere meet. Nie noodwendig in terme van of dit met ons goed gaan of sleg gaan nie. Nee. Eerder in terme van die vraag of God by ons, met ons en in ons is, of glad nie. Vir Israel was hy die goeie Herder, die ware Wingerdstok. Daarom het dit met hulle goed gegaan, al was baie dinge sleg.

En vir ons, broers en susters, behoort dit presies dieselfde te wees. Anders moet ons nou ophou om advent of Kersfees te vier. Want met advent en Kersfees sê ons dat God in Jesus na ons toe gekom het. Ook as die goeie Herder, as die ware Wingerdstok — ja, as die Een wat ons lei en die Een aan wie ons kan vasgroei en so gevoed kan word.

Daarom gaan dit met ons goed. Nie omdat dit met ons goed gaan nie, dalkgaan dit baie sleg, maar omdat God by ons, met ons en in ons is —omdat God in Christus sy liefde vir ons onomwonde verklaar het, in Christus vir ons gesê het dat Hy altyd by ons sal wees. En ons dit glo!

Wat meer is, broers en susters, is dat ons nou, juis deur Jesus Christus, met God kan praat. Soos ou bekendes met God kan praat, soos mense wat vir mekaar omgee met God kan praat. Om hierdie woorde so te gebruik. Want dit is wat advent beteken. Dat God in Christus gekom het, en elke dag weer kom en sal kom. Dat God God by ons is. Immanuel.

Nou is dit ook so, broers en susters, dat advent en Kersfees ook die einde van die jaar beteken. En saam met die einde van die jaar kom die terug peinsing oor die jaar wat verby is. Ja, kom die positiewe en die negatiewe van die verbygegane jaar vlak in die gedagtes.

Daar is dinge wat in die verbygegane jaar gebeur het waaroor ons diep ongelukkig, hartseer, besorg en opstandig is. Daar is dinge wat ons, indien dit moontlik sou wees, anders sou doen. Ons sou dinge wat ons nagelaat het, nie nalaat as ons weer die jaar se tyd kan oorkry nie. En ek is seker dat, indien dit moontlik sou wees, ons sekere besluite vandag anders sou neem.

Maar dit is juis die dinge waaroor ons met God kan praat, die dinge waaroor ons voor Hom kan kla, kan huil. En dan, broers en susters,en dit is die boodskap van Psalm 80, gaan dit weer goed. Nie omdat al ons bekommernisse en probleme soos in `n sprokie ewe skielik opgelos sal word nie, maar omdat ons met ons angs, pyn en probleme kan uitkom by God. Want God is nou by ons.

En kan ons weet: soos ons in die adventstyd Jesus Christus se koms na hierdie gebroke wêreld vier, kom Hy elke dag na ons, reg in ons gebroke wêreld in. En waar God is, kan vrede wees, al is daar hoe groot onvrede, en rus wees, al is daar hoeveel onrus in my lewe. Dit beloof God aan elkeen wat tot Hom in opregtheid roep, wat bereid is om in die gebed met God te praat soos ou vriende in hierdie lewe met mekaar doen.

Amen