Genesis 3:6–11; Matteus 1:18–24


God wandel saam met ons


 

Jesus Christus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” Amen

Seën

Lofsang: Gesang344:1-3

Wet: Gesang354:1 en 4

Belydenis:  Gesang334:1 -3

Gebed

Skriflesing: Matteus1: 18–24; Genesis 3:6-11

Sang: Gesang353:1-3

 

Broers, susters en kinders

In Genesis 3 lees ons dat daar ‘n tyd was wat man en vrou, in vrede en harmonie met die natuur geleef het. Tussen die wilde diere het die mens gewandel asof alle diere getem is soos ‘n mak huishond of kat. Man en vrou het nooit met mekaar baklei of met mekaar verskil nie. Dit was nie nodig om tewerk nie. Hartseer en pyn en dood het hulle nie geken nie. Ek stel myself voor dat hulle heeldag gesit en visvang het, of dalk ‘n klompie vrugte gepluk het en piekniek gehou het. Alles was rustig, en vol vrede.

Wat meer is, in hierdie dae het God saam met die mens geloop. Wanneer die aandbriesie opkom, het God saam met die mens ‘n wandeling deur sy skepping geneem. Ons kan ons indink hoe God met die mens geloop en gesels het en al die plante en diere aan hulle uitgewys het. In hierdie tyd het God die mens seker ook gevra om aan al die diere name te gee. Miskien het God saam met hulle gestap en vrugte gepluk sodat hulle kon proe dat alles goed geskep is. God het seker ook vir hulle die boom in die middel van die tuin, die “boom van alle kennis” gewys, en vir die mens gesê dat hulle van daardie boom nooit mag eet nie.

Die skepping en die harmonie en vrede in die skepping was volmaak. Tot een dag. Soos gewoonlik het God saam met die aandbriesie gekom om saam met die mens te wandel, maar die mens wou nie te voorskyn kom nie. Ons lees in Genesis 3:8 “en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin”. Soos enige vader wat omgee, het God na die mens geroep en gevra: “Waar is jy? Het jy tog nie geëet van die boom waarvan Ek jou verbied het nie?”.

Broers, susters en kinders, deur een onbesonne daad het die mens skeuring tussen God en homself gebring. Verder is die harmonie tussen die man en vrou ook versteur, want skielik het hulle skaam gevoel vir mekaar en klere van vyeblare begin dra. Die mens wat sy eie behoefte bo God se wil gestel het, het ‘n breuk gebring in die harmonie en vrede wat daar in die natuur was, maar ook ‘n skeiding tussen God en sy skepping. As God trane kon stort, is ek seker sou die Tigris- en Eufraatrivier in vloed afgekom het.

En gemeente, wanner ons dit gesê het, dan klink dit vir ons so onwerklik, asof dit maar net ‘n storie is. En wanneer ons vandag na die slim en geleerde mense luister, dan vertel baie van hulle dat dit wel net ‘n storie is. Die hele paradysverhaal en skeppingsverhaal is net een groot storie. Weliswaar ‘n storie wat vir ons iets wil vertel van God en van die skepping en hoe alles ontstaan het. Die argumente wat hierdie mense aanvoer is baie goeie argumente, en die wetenskap dra ook nie daartoeby om sekerheid te bring nie, dit help inteendeel net die onsekerheid aan.

Maar gemeente, of die skepping nou was soos die Bybelse verhaal en of God op ‘n ander manier geskep het, dit maak geen verandering aan die feit dat alles en almal deur God geskep is en aan Hom behoort nie. En dat hierdie einste skepping God die rug gekeer en teen Hom in opstand gekom het. As ons werklik glo dat God almagtig is soos wat ons bely, dan sal ons ook moet erken dat Hy die mens kon vernietig het as Hy wou. Maar soos wat ons verlede Sondag in Lukas 2 gelees het, God het ‘n blydskap, ‘n vreugde, in die mens gehad, daarom het Hy die mens nie vernietig nie, maar laat lewe. Weliswaar nie meer so ‘n sorgelose en rustige bestaan nie, maar nogtans kon die mens aangaan met sy lewe.

Na die sondeval sien ons dat God nie sy Skepping vergeet het of aan hulle eie lot oorgelaat het nie. Hy is steeds betrokke by die mense in wie Hy ‘n vreugde het. Hy kies vir Hom ‘n volk wat Hom sal dien en Hom sal eer as God. Maar ook hierdie volk kan nie aan God se verwagtings voldoen nie. Nadat hulle volhard het in verkeerde dinge, en nadat God deur verskeie profete met hulle gepraat en gesmeek het, besluit God om hulle uit die beloofde land te laat wegvoer. God se volk verlaat die land van melk en heuning, net soos wat Adam en Eva die paradys moes verlaat.

Maar steeds los God hulle nie in die vreemde nie. Ons sien hoedat Hy ‘n gedeelte van die volk vanuit die vreemde terugbring om opnuut weer die land te bewoon en as God se volk voort te bestaan. Dit het geduur tot in die regeringstydperk van Koning Herodes.

Broers, susters en kinders, dit was die prentjie na die sondeval. Die volmaaktheid van die paradys het tot ‘n einde gekom en die intieme verhouding wat daar tussen God en mens was, was oënskynlik weg. En dít gemeente, was nie vir God goed genoeg nie. Hy het só ‘n vreugde in sy skepping gehad, dat Hy besluit het om die verhouding van weleer te herstel.

God is nie ‘n vêr, onafsydige God nie, daarom wil Hy die verhouding met sy skepping weer herstel. Hy wil graag weer saam met die mens wandel en die mens uitnooi om saam met Hom te wandel, maar voordat dit kan gebeur, moet die sonde eers vernietig word. Want waar God is, daar kan die sonde nie wees nie. Daarom was dit vir God nodig om eers self die sonde te kom vernietig, en Hy doen dit deur sy Seun, Jesus Christus. En dit is waar ons teks van vanoggend aansluit: die verhaal van God wat mens word in Jesus Christus. Ons moet mekaar vanoggend vra: Wat is die doel van Jesus Christus?

Dit word weerspieël in die naam: Jesus. In die wêreld van díe tyd, was ‘n persoon se naam van groot betekenis. Dit het reeds iets bekend gemaak van die wese van ‘n mens. In die naam Jesus hoor ‘n mens iets van die doel van sy koms. Jesus beteken: God is my heil of my verlossing. Sy Naam tipeer sy lewe en werk. Hy het mens geword ter wille van die verlossing wat God gebring het. Die engel voeg daarby: ‘ want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos’. Daar moet geen onduidelikheid wees oor die doel van sy koms nie. Hy is die Immanuel, God met ons, wat gekom het om ons van ons sonde te verlos. Hy het die liefde en genade van God na ons toe gebring!

Hierdie liefde kan nêrens beter raakgesien word as in die stofstrate van Galilea nie. Daar waar Jesus saam met sy dissipels loop en koringare afpluk en eet. Daar waar Jesus aan die oewers van Galilea stap en die menigtes voed met vis en brood. Waar hy saam met die armes ingaan en oornag. Waar Hy by die vroue sit en gesels. Dit is amper asof God weer saam met die mens gewandel het, soos die dae in die paradys.

Ook die mens kon nou ‘n smakie kry van hoe dit moes gevoel het om saam met God in die paradys te wandel. Hy het die siekes genees; blindes kon weer sien, melaatses is weer toegelaat in die tempel. Selfs dooies het Hy weer lewend gemaak. In Jesus Christus is dit asof die paradys weer wil deurbreek. Asof die vrede en harmonie waaraan Adam en Eva gewoond was, wil wil realiseer in die strate van die dorpies in Galilea. God is weer tussen sy skepping.

Maar gemeente, soos wat die mens is, moet hy altyd alles verongeluk. Deur die toedoen van die mens word hierdie paradys weer verander in ‘n woestyn. Die Seun van God word aan ‘n houtkruis vasgespyker. Maar God is hierop voorberei, want Hy ken die mens, en gebruik hierdie geleentheid om die mens te red van die sonde wat deur Adam en Eva indie wêreld gebring is. Deur die sonde self, bring God oorwinning oor die sonde. Voortaan sal die vloek wat God op die mens geplaas het opgehef wees vir hulle wat uit genade, in Jesus Christus,glo.

Broers, susters en kinders, dit beteken geensins dat God nie meer vandag saam met ons wandel nie. Deur die Heilige Gees is God steeds elke oomblik by sy kinders teenwoordig. Deur die kerk praat en leer God ons steeds elke Sondag wat sy wil is. Ons hoef nie meer bang en alleen te wees nie. Ons moet ons oë oopmaak dan sal ons sien dat God steeds by ons is. Wanneer ons siek is sal ons sien dat God langs ons siekbed waghou. Wanneer ons alleen is, kan ons gerus met God praat, Hy sal ons antwoord. Wanneer ons bang is, is dit God wat die vrees verdryf. Gemeente, God is vandag steeds met ons en Hy wandel steeds saam met ons, want Immanuel — God met ons — is ongeveer 2000 jaar gelede gebore. En daardeur het God bevestig dat Hy ‘n vreugde in die mens het. Het God weer vrede tussen Homself en ons gebring. Wanneer ons raaksien dat Jesus Christus se geboorte die betekenis het dat God met ons is, dán broers, susters en kinders, kan ons die ware vreugde en vrede, van advent en Kersfees geniet. God is by ons en Hy roep ons gereeld: “Waar is jy?” Gaan ons ook wegkruip omdat ons skaam is, of gaan ons God se uitnodiging aanneem, en saam met hom ons lewenspad bewandel.

Amen

Gebed

Slotsang: Gesang358: 1–3

Gesang: 348: 1–3

Seën: Mag die Here ons seën en ons beskerm; mag die Here tot ons redding verskyn en ons genadig wees; mag die Here ons gebede verhoor en aan ons vrede gee.