Markus 1:1-13


Hoe gaan ons hierdie jaar Kersfees vier?


 

Broers en susters in ons Here Jesus Christus:

Twee opmerkings voor ek by vanoggend se gelese gedeelte kom:

Een van die temas wat dikwels in Adventstyd in die prediking aangespreek word, is die wyse waarop ons somtyds Kersfees vier. Kersfees, hoor ons dikwels in die prediking hierdie tyd van die jaar, gaan nie net oor feeste en geskenke nie. Dit gaan nie net oor ‘n Kersfeestafel en vrolik wees nie. Dit gaan ook nie net oor vakansie en saamwees, of Kersfeesbome en versierings, of Kersvaders en soetsappige Kersfeesliedjies nie.

Ons almal ken die soort boodskap, broers en susters. Dit is dikwels vervelig, maar miskien soms tog maar weer en weer nodig. Want Kersfees gaan tog nie oor geskenke in die eerste plek nie, maar oor God se groot geskenk aan ons: Jesus Christus wat vir ons as Verlosser gebore is.

My tweede opmerking handel oor die gedeelte wat ons saamgelees het. Dalk het u al opgemerk dat daar seker die minste uit Markus gepreek word rondom Kersfees. En daar is ‘n baie goeie rede voor. Anders as byvoorbeeld Matteus en Lukas vertel Markus ons niks van Jesus se geboorte nie. Om die waarheid te sê, Markus vertel ons niks van die kind Jesus nie. Want wanneer ons die eerste keer vir Jesus in Markus ontmoet is hy ‘n volwasse man wat kom om deur Johannes gedoop te word, waarna Hy dan in die woestyn versoek word, terugkeer Galilea toe en die evangelie begin verkondig.

Dit beteken egter nie, broers en susters, dat Markus niks oor Kersfees tesê het nie. Inteendeel. En kom ons gee nou hieraan aandag.

Die Markus evangelie lê veral op een aspek van die lewe van Jesus klem, Jesus se gehoorsaamheid aan sy Vader in die hemel. Die Jesus van Markus doen altyd, en sonder uitsondering, die wil van sy Vader. Al vra dit wat. Al kos dit wat, al kos dit swaarkry en lyding, ja, al kos dit sy lewe.

Die Jesus van Markus is die nederige kneg van die God, die gehoorsame. ‘n Lewe wat geen vreugde inhou nie, maar eerder verguising en verwerping deur mense, wat vir Jesus bittere swaarkry en verskriklike lyding beteken het, en uiteindelik die marteldood aan die kruis.

Nie, broers en susters, dat hierdie aspekte van die lewe van Jesus nie ook in die ander evangelies na vore kom nie, maar die punt is: in Markus staan dit voorop. Die Jesus van Markus volg God, al beteken dit ook lyding.

Hoekom hierdie klem in hierdie evangelie? Een van die redes is die rol wat godsdiens in daardie tyd, en meer spesifiek daar waar Markus geskryf is, gespeel het. Die mense waar die gemeente van Markus was, was baie godsdienstig (en dit geld vir die Jode en Romeine in sy omgewing): godsdiens het letterlik en figuurlik elke aspek van hulle lewens geraak. Maar dan ‘n bepaalde soort godsdiens.

Hulle het geglo dat as jy goed lewe, jou god jou sou beloon. Bid, sodat jy iets van jou god sou kry (bv genesing, goeie gesondheid, ‘n langlewe). Gee genoeg offers, dan sal God jou ryk maak. Leef net reg, maak soos jou god vra, en alles sal nie alleen tot jou voordeel uitwerk nie, jou godsdiens sal beslis vir jou voorspoed bring.

Hierdie soort godsdiens, broers en susters, vind ons glad nie by Markus nie. Inteendeel. Markus gee vir ons presies die teenoorgestelde prentjie. As jy aan God gehoorsaam wil wees, beteken dit nie net lekker nie, maar ook, en miskien veral, swaarkry. Ons hoor dit pragtig uit die mond van Jesus self in byvoorbeeld Markus 8:34: wie my wil volg moet bereid wees om sy kruis op te neem en homself te verloën. Gehoorsaamheid bring nie noodwendig voorspoed mee nie — eerder lyding en swaarkry.

Opregte godsdiens, ware godsdiens, wil Markus dus sê, beteken dat die mens God moet dien, nie dat God die mens en sy belange moet dien nie. Ware godsdiens, sê Mark 12:29-31, is die volgende: ‘Luister Israel , die Here jou God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Die tweede is : Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

Dus: opregte en ware godsdiens vra jou hele lewe; en nog meer: opregte en ware godsdiens verwag niks terug nie. Jy gee sonder om iets terug te verwag.

Opregte godsdiens vra gehoorsaamheid aan God, en dit waarborg geensins dat jy van lyding en swaarkry gespaar sal word nie. Godsdiens is nie ‘n handelstransaksie, ‘n iets vir ‘n iets nie. Godsdiens het met God te doen, die gans andere, die onverklaarbare God — dit het nie te make met dit wat die mense wil en wat die mense oor God dink, wat die mense van God verwag nie.

Presies soos Jesus dan ook aan Petrus in Markus 8:33 sê: ‘... jy dink nie aan wat God wil hê nie maar aan wat mense wil hê’.

Beteken dit dan nou, broers en susters, dat ons hierdie jaar nie ons Kersbome moet opslaan, geen Kerskaartjie moet stuur, en geen Kersgeskenk vir niemand moet koop nie? Dat ons ook tydens Kersfees geen vreugde moet probeer ervaar, of saam met ons geliefdes moet probeer wees nie?

Nee, broers en susters. Ons moet dit eerder so sien: Markus konfronteer ons hier aan die begin van die Adventstyd tot met Kersfees met ‘n paar uiters belangrike vrae:

  • Waaroor gaan dit vir ons in ons godsdiens, waaroor gaan dit vir ons met Kersfees? Gaan dit oor God, of gaan dit oor ons ?
  • In hoe ‘n mate gaan dit vir ons in ons godsdiens oor ons behoeftes, ons pyne, ons dinge — ons is bang vir die dood, daarom begeer ons ‘n ewige lewe; ons is bang vir siektes, daarom bid ons vir goeie gesondheid.
  • In hoe ‘n mate is ons godsdiens vir ons net lekker en aanvaarbaar solank ons alles wat met ons gebeur nog kan verklaar, solank dinge nog tot ons voordeel strek?
  • In hoe ‘n mate bedryf ons godsdiens met ‘n kleinletter ‘g’en is die godjies in ons godsdiens nie maar onsself en ons behoeftes nie ? Ja, in hoe ‘n mate het ons al verleer om godsdiens met ‘n hoofletter ‘G’ te beoefen, ‘n Godsdiens waarin dit gaan oor God en nie oor die mens nie?
  • En dan die laaste, en vir ons vanoggend die belangrikste vraag: in hoe ‘n mate weerspieël ons Kersfeesvieringe soms nie miskien ‘n skeefgetrekte godsdiensopvatting nie? Waar Kersfees byvoorbeeld gaan oor watter vrede, vreugde en welbehae ek wil ervaar, hoe ek die dag wil geniet. Waar die vrede en welbehae van Kersfees beteken dat daar vir mý vrede moet kom, en net vir my.

Jesus konfronteer sy dissipels in Markus 8:29 met die vraag : ‘Maar julle, wie sê julle is Ek?’ En uit Petrus se antwoord is dit duidelik dat selfs die dissipels nog nie heeltemal verstaan het dat Jesus die Christus is nie. Want hoekom anders sal Jesus net na Petrus se antwoord vir hulle vertel Hy moet ly, doodgemaak word en drie dae later sal opstaan?

Vanoggend vra Jesus weer hierdie vraag, en Hy vra dit direk aan elkeen van ons,aan u en aan my: ‘Maar julle, wie sê julle is Ek?’. Ons antwoord op hierdie vraag, broers en susters, gaan wees hoe ons hierdie jaar Kersfees gaan vier. Ons hoef nie een woord te uiter om hierdie vraag te antwoord nie. Dit wat ons gaan doen, sal doodeenvoudig hierdie vraag antwoord.

Geniet u Kerstyd, geniet Kersfees. Mag u so bevoorreg wees om rondom die Kerstafel hulle te hê wat vir u lief en dierbaar is. En mag tussen al die geskenkpapier, en in ons heerlike saamwees, iets sigbaar word dat ons verstaan wat die eintlike geskenk van Kersfees is.

En omdat ons hierdie eintlike geskenk van Kersfees ken, ons bereid sal wees om elke dag van elke jaar ons kruis op te neem en onsself te verloën. En so toon dat die voorreg om gehoorsaam aan God te wees die grootste geskenk is wat ons nog ooit gekry het!

Amen