Matteus 2:1-8, 13-16


Hoeveel konings is daar in jou en my lewe?


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ek het in ons Skriflesing gepoog om die klem in die gedeelte op Herodes, wat homself as die koning van ook die Jode gesien het, te laat val. Daar is ‘n rede voor: ek wil vanoggend se prediking met Herodes begin, en eindig. Tussen hierdie twee verwysings na Herodes wil ek vyf sake aan die orde stel: Jesus se geboorte, sy bediening op aarde, sy teregstelling, sy beweging (die begin van die Christendom), en vyfdens, wat van hierdie eerste beweging geword het (die Christendom vandag). ‘n Derde en laaste inleidende opmerking: die prediking vanoggend het in ‘n mate ‘n vreemde struktuur - dit bestaan uit vrae wat telkens geantwoord word. Die prediking sluit ook af met ‘n vraag, ‘n vraag wat egter nie geantwoord word nie, ‘n vraag wat ons elkeen maar op ons eie in God se teenwoordigheid moet gaan antwoord.

Kom ons begin by Herodes, soos belowe. Wat was Herodes se reaksie toe die berig aan hom gebring is dat die koning van die Jode gebore is (en dat hy dit dus eintlik nie is nie)? Maak hierdie kind Jesus dood. Want daar is vir net een koning plek in hierdie gedeelte van die wêreld. Hier is net ek koning, en niemand anders nie. Laat ons almal mekaar nou baie mooi verstaan.

Wat het ander van Jesus se geboorte geglo?

  • Die getal godsdienstige leiers wat geglo het dat die Messias in Betlehem gebore is? Nul, niemand.
  • Watter soort mense het dit wel geglo? Sterrekykers (heidene) en skaapwagters (die onreinstes en laagstes in die samelewing se oë).
  • Wat was Maria se beloning dat sy God in die wêreld gebring het? Twee jaar van verbanning en heel waar-skynlik die aanleer van die Egiptiese taal.
  • Wat was die gevolg van Jesus se geboorte van ander ouers in Betlehem en omgewing? Al hulle seuntjies van twee jaar en jonger is doodgemaak.

Wat kan ons sê oor Jesus se bediening?

Wat was die reaksie in die strate van Nasaret toe Jesus daarop aanspraak gemaak het dat Hy deur God gestuur is? Eienaardige familie hierdie. Het jy al sy neef, Johannes die Doper gesien?

  • Wat was sy tuisdorp se verdere reaksie? Hy is nie hier welkom nie, kom ons stenig Hom!
  • Wat was die mening van sy broers? Kom ons gaan haal Hom en stop hierdie skande. Kom ons sluit Hom liewers op.
  • Wat is die getal dissipels wat Jesus gewer het in sy drie jaar van verkondiging? Net sewentig.
  • Hoeveel van hulle het Jesus by die owerhede verdedig? Nul, nie een nie.
  • Wat het die mense oor hierdie volgelinge van Jesus gesê? Onreines, werkloses, mense wat niks beter het om te doen nie.
  • Hoeveel melaatses het Jesus by geleentheid op een geleentheid genees? Tien.
  • Hoeveel het kom dankie sê? Net een.
  • Hoeveel melaatses, siekes en blindes het Jesus in totaal gesond gemaak? Te veel om te tel.
  • Hoeveel van hierdie wat gesond gemaak is, het Jesus by die owerhede verdedig op die dag van sy dood? Ook nul.

En wat van sy teregstelling (kruisiging)?

  • Wat was die algemene opinie onder die godsdienstige leiers aangaande Jesus voor Hy die tempel gereinig het? Kom ons kyk ‘n bietjie hoeveel aanhang Hy het.
  • Wat was die algemene opinie onder die godsdienstige leiers aangaande Jesus nadat Hy die tempel gereinig het? Kom ons kyk ‘n bietjie hoeveel aanhang Hy nou verloor het.
  • Wat was die volk se antwoord op die vraag van Pilatus oor wie vrygelaat moes word? Barabbas.
  • Wat was die besluit van die Joodse Raad oor Jesus? Drie spykers, een spies en een kruis.
  • Wat was waarskynlik die algemene mening in die strate van Jerusalem nadat Jesus gesterf het? Hy moes miskien maar liewers, soos sy pa, ‘n skrynwerker gebly het.
  • Hoeveel kere het Jesus sy dood en opstanding voorspel? Drie keer.
  • Hoeveel van sy dissipels het dit gehoor? Almal.
  • Hoeveel van hierdie dissipels het by sy graf gewag om te sien of Hy gaan doen wat Hy gesê het? Nul, nie een nie.
  • Die getal van sy volgelinge wat in die opstanding geglo het voordat dit gebeur het? Doen maar self die somme.
  • Die kanse wat iemand die dag na sy kruisiging gegee het dat Jesus se naam na 2000 jaar nog bekend sal wees? Seker nie baie nie, miskien niemand nie.

En wat gebeur toe? Kom ons vra so paar vrae oor sy eerste volgelinge, die begin van die beweging wat later bekend begin staan het as die Christendom:

  • Wat was die amptelike reaksie van die Joodse leiers op die gerugte dat Jesus opgestaan het? Natuurlik sê hulle dat Hy lewe. Hulle moet. Wat anders kan hulle sê? Maar ons weet mos: hulle het eintlik maar net sy lyk uit die graf gesteel.
  • Die werklike reaksie onder van hierdie Joodse leiers nadat hulle gehoor het dat Jesus opgestaan het? ‘n Groot aantal priesters het gelowig geword (Hand 6:7).
  • Wat was die besluit van die Joodse leiers oor die kerk? Laat staan hulle, want as wat hulle doen mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal niemand dit kan keer nie (Hand 5:38-39).
  • Hoe het die kerk gereageer? Die gelowiges het steeds meer geword (Hand 6:1).

En so, broers en susters, het hierdie Jesus-beweging gegroei. In Antiogië is hulle vir die eerste keer Christene genoem, die Christene het meer geword, in getal maar ook al hoe meer verspreid.

In die 18de eeu sê die Franse filosoof, Voltaire, van die Christendom: Die Bybel en die Christendom sal binne een honderd jaar tot niet gaan. Hy sterf in 1778, en ons is nog hier.

In 1882 maak Nietzsche sy bekende uitspraak: God is dood. Soos die wetenskap sy weg vind, so sal die Christendom verdwyn. Die wetenskap het sy opwagting gemaak, ons kan eintlik nie daarsonder nie. En die Christendom gaan voort.

Enkele jare terug het ‘n kommunistiese woordeboek die Christelike geloof soos volg beskryf: ‘It is a collection of fantastic legends without any scientific support’. Die kommunisme bestaan feitlik nie meer nie, die Christendom woeker voort.

Die feit is, broers en susters: die Christendom bestaan vandag uit meer as twee biljoen navolgers van Jesus Christus.

Hoe is dit moontlik? Hoe verklaar ons dit? Jesus was in die oë van die mense van sy tyd ‘n agterlike plattelander. Hy was afkomstig van Galilea ‘van die heidene’. Hy het nooit ‘n boek geskryf nie, nooit ‘n belangrike pos beklee nie. Hy het nooit verder as ongeveer drie honderd kilometer van sy tuisdorp af gereis nie. Sy vriende het Hom verlaat. Een van hulle het Hom verraai. Die mense wie Hy gehelp het, het van Hom vergeet. Voor sy dood het hulle Hom verlaat. Hy het alleen gesterf.

Wat het die verskil gemaak? Die feit dat God nooit sy mense gelos het nie. Eers het Hy by ons kom woon. Toe is Hy die graf in, maar het weer na ons toe gekom. Toe gaan Hy weg, maar sy Gees kom woon weer by ons. En eendag sal Hy weer kom.

Hoekom doen God dit? As u en ek die rede daarvoor wil hê, gaan kyk na wat u in u spieël sien. God doen dit vir jou en vir my.

Ons vier vandag derde Adventsondag. Ons sê vir mekaar tydens die vier Adventsweke dat ons die koms van Jesus afwag. Maar ons sê dit verkeerd. Advent (die Latynse woord is adventus), beteken dat God na ons toe kom. Hierdie Kerstyd kom Hy weer na ons toe. Soos Hy elke dag na ons toe kom en by ons is. Om soos geen ander Koning vir sy kinders te sorg nie.

Herodes was reg: daar kan net een Koning wees.

Hy kom hierdie Kersfees weer, soos al die vorige Kersfese wat ons feestelik gevier het. Hoe leef u en ek in hierdie tyd? Dat almal kan sien dat Hy die enigste Koning is en kan wees? En dit is die vraag wat vanoggend in die prediking nie beantwoord gaan word nie, die vraag wat maar deur ons elkeen self beantwoord moet word. Is daar net een Koning in u en my lewe? Of maar net so ‘n klomp aangename gewoontetjies rondom Kersfees?
Amen