1 Petrus 1:17-25


Immanuel – God met ons


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Die storie word vertel van `n vrou wat baie siek was – sy het kanker gehad en sy was sterwend. Op `n dag het die dokter haar by die huis besoek en sy vra hom toe hoeveel tyd sy nog oor het. Die dokter het geweet dat haar tydjie hier op aarde baie kort was en wou die boodskap so simpatiek moontlik aan die vrou oordra. Deur die venster van die slaapkamer kon mens `n akkerboom sien. Dit was herfs, en die blare van die boom het verkleur en was besig om af te val. ‘Mevrou,’ sê die dokter toe, ‘as al die blare van daardie akkerboom afgeval het, dan sal jou tydjie verby wees’.

Die vrou en haar man was baie hartseer. In hulle hartseer het hulle nie gesien dat hulle sesjarige dogtertjie ook in die kamer kom staan het terwyl die dokter daar was nie. `n Rukkie later kyk die pa by die venster uit – en wat hy daar sien, het sy hart gebreek. Hulle dogtertjie was besig om die blare van die akkerboom wat op die grond gelê het, een vir een op te tel, en een vir een weer met garingdraad aan die boom vas te bind….

Die storie het my nogal geroer toe ek dit lees, maar ook laat dink. Sou dit nie wonderlik wees as die lewe so kon gewerk het nie — dat ‘n mens die gang van tyd so `n bietjie kon terughou, dat ‘n mens die kans kon kry om die horlosie net so `n bietjie te kon terugdraai, dat ons die kans sou gehad het om iets wat gebeur het, weer oor te kon doen, die kans om die herfsblare wat jy reeds verloor het, weer terug te kon kry.

Daar is so baie dinge in `n mens se lewe wat jy weet jy anders sou doen as jy die kans sou kry om dit oor te doen, so baie geleenthede wat jy `n verleentheid vir jouself veroorsaak het, wat jy definitief anders sou gedoen het as jy net weer daardie geleentheid oor kon kry. Dink maar aan:

  • daardie woord wat so hard geval het, wat so gewond het, so gekwets het, wat jy gesê het omdat jy woedend kwaad was, gesê het om seer te maak, alhoewel jy geweet het dat dit nie heeltemal waar is nie;
  • daardie verkeerde besluit wat jy in oorhaastigheid geneem het wat feitlik jou lewe verander het;
  • die afjak wat jy jou kind gegee het omdat jy moeg en beduiweld van die werk af gekom en het nie kans gesien vir nog iemand se probleme of emosies nie;
  • daardie een drankie wat jy te veel gedrink het wat rampspoedige gevolge gehad het;
  • daardiet elefoonoproep wat jy nooit gemaak het, die besoek wat jy nooitgebring het waaroor jy nou so spyt is, want dit is nou vir altyd telaat, die een vir wie jy wou kuier is nie meer daar nie;
  • aldie kere wat jy vergeet het om net te sê ‘Ek is lief virjou’ — en nou is die kans om dit te kan doen, vir altyd verby…

 

Soms, broers en susters, probeer ons ook wat hierdie dinge betref, die tyd om te draai, soos die dogtertjie wat met die garingdraad die blare weer aan die boom vasgemaak het. Ons gebruik net `n ander soort garingdraad: die garingdraad wat ons gebruik, is om te sê ‘Ek is jammer’. Al bedoel ons dit nie. Want eintlik probeer ons onsself net verontskuldig:

  • Dit is nie my skuld nie — dit is die probleme by die werk wat maak dat ek so beduiweld by die huis aan kom;
  • ek kan myself nie help nie, ek het nou mos eenmaal `n vinnige humeur;
  • dit is nie my skuld nie — dit is my kinders se skuld, dit is my werkse skuld, dit is my baie geld, my min geld se skuld.

En so kan ons aang aan: as ek net `n verskoning kan kry, as ek net die blaam geskuif kan kry — glo ons — word die moeilikheid, die probleem wat ek veroorsaak het, ongedaan gemaak…

Miskien nog voor mense, broers en susters, maar nie voor God nie. Nee. By God loop ons onsself vas. Want wanneer ‘n mens voor God kom staan, val die blare van ons pretensies en verskonings, die mooi fronte wat ons wil voorhou, die speletjies wat ons speel, soos die blare een vir een in herfstyd van `n akkerboom afval, ook van ons af. so val ons pretensies, die mooi fronte wat ons wil voorhou, een vir een van ons af.

Ja, voor God besef ons baie gou: dit wat ek moes gedoen het, het ek nie gedoen nie, dit wat ek juis nie moes gedoen het nie, dit het ek gedoen. En so val die blare van my sondige optrede van my af. En wat bly uiteindelik oor? Om met die beeld van die akkerboom aan te gaan: al wat uiteindelik oorbly in my lewe is die kaal gestroopte stam van my sondige bestaan, die onooglike, knoetserige, vaal en lewelose ou stomp wat my lewe eintlik is…

Dit, broers en susters, is hoe ons voor God staan. Vir ander mense kan ons nog `n front probeer voorhou, kan ons ons lewens probeer versier soos ons `n kersboom met blink goedjies opmaak. Vir God sal ons egter nie so gebluf kry nie. Want Hy sien ons lewens vir wat dit regtig is.

Presies soos 1 Petrus 1:24, vanuit hierdie konteks verstaan, dit stel:

Die mens is soos gras,

en al sy skoonheid

soos ’n veldblom;

die gras verdor en die blomval af…’

Klaar. Afgehandel. Die boom is leeg. Al die blare het afgeval. Ons skoonheid is weg. Die blomme is weg. Die gras is geel. Dit is die mens. Dit is u, dit is ek!

Maar, broers en susters, dit is u en ek net sonder God. Net sonder Kersdag. Dit is u en ek sonder die woordjie ‘maar’ aan die begin van 1 Petrus 1:25. Want wat sê vers 25? Ja, die mens is soos gras wat verdor, al sy skoonheid is soos ’n veldblom wat afval,

MAAR,

 

maar die woord van die Here,

dít bly vir ewig.’

Op Kersdag, broers en susters, het hierdie Woord na ons toe gekom. Hoor hoe mooi sê Johannes 1 dit vir ons: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God…. 11 Hyhet na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore. 14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Op Kersdag het die Woord mens geword en onder ons kom woon. Nou was die mens nie meer alleen nie. En wat kom doen die Woord wat mens geword het toe? Kom ons luister mooi: as die engel aan Josef verskyn, sê hy oor Jesus: ‘Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want DIT IS HY WAT SY VOLK VAN HULLE SONDES SAL VERLOS.” Die engel wat aan die skaapwagters verskyn, sê : “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid DIE VERLOSSER gebore, Christus die Here!

Dit is wat op Kersdag gebeur het. Die Woord het mens geword, onder ons kom woon. God het Immanuel geword. God by ons. Nog meer. Toe Hy gebore is, toe Hy vlees geword het, het Hy dit geword as dieVerlosser, as die Een wat sy volk van hulle sonde sal verlos. Ons word kinders van God. Kinders wat nie meer met garingdraad hoef te probeer om die dooie blare van elkeen se lewe weer terug aan die boom vas te hang nie, maar kinders wat lewe, wat in die toekoms in lewe,lewe om nuwe blare (en blomme) voort te bring.

Hoor hoe mooi sê Johannes 15 dit: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie…. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.

Bly ons in Jesus, met ander woorde, leef ons naby aan Jesus, in gelowige verbondenheid aan Jesus, dan verander Hy ons lewens, bring hy ook vir ons nuwe lewe, soos daar in die lente ook nuwe lewe kom vir `n boom wat al sy blare verloor het.

Dit is wat Kersfees vir ons beteken. Kersfees sê MAAR. Ons dade is soos gras wat verdor, ons blomme val af,  al ons pogings om by God uit te kom is vergeefs, soveel van die blomme wat ons in die lewe voortbring is misplaas, MAAR:God het mens geword, onder ons kom woon, ons aan Hom verbind, om vrugte te dra wat sal hou.

Ek sluit af: die dogtertjie, hoe hard sy ook al probeer om die blare met garingdraad weer aan die boom vas te maak, sou nie die gang van tyd so kon keer het nie. Ook ons pogings om die dooie blare van ons lewens weer terug aan die boom te hang met die hoop dat hulle weer sal lewe en groen sal word, sal nooit werk nie.

God alleen gee lewe. Hy alleen gee nuwe lewe. Deur sy Seun as mensgebore te laat word. Op Kersdag. Wie in Hom glo, ontvang lewe. En kan nuut begin lewe.

Kom ons vier hierdie Kerstyd, broers en susters, ja, met die diep besef van hoe swak ons is, hoe baie foute ons maak, hoe nietig ons is, maar ook met die besef, die wete, wat Jesus kom doen het toe Hy gebore is daardie stille nag, daardie heilige nag — dat Hy sin kom gee het aan ons sinlose lewens, dat Hy ons kinders van God kom maak het —al verdor ons lewens soos gras en verwelk ons skoonheid soos `n veldblom. Hy maak ons nuut, Hy maak die lewe vir ons mooi!

Amen