Matteus 2:1-12


Kersfees dwing ons om te kies


 

Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:

Wie aan Kersfees dink, dink onwillekeurig aan die alombekende `ster` en die `wyse manne uit die ooste`. Dit bly maar `n verhaal wat bepaalde sentiment by ons oproep. `n Verhaal wat kinders met sterre in die oë kan laat, en vir ons wat ouers is, met `n knop in die keel.

Dat hierdie verhaal baie gewild tydens Kerstyd is, broers en susters, blyk baie duidelik uit die neerslag wat dit gevind het in die kuns, musiek, poësie en eintlik alles wat met Kersfees gepaard gaan. Dink maar net aan al die Kerskaartjies, Kersliedere en Kersversierings.

Verder, broers en susters, het daar rondom die sterrekykers en die ster `n geweldige klomp legendes (verhale wat voorgee om waar te wees maar nie is nie). Kom ek noem u `n paar:

Daar is byvoorbeeld die verhaal van Propasin, die sogenaamde vierde wyse. Propasin (die naam beteken `vir almal`) was saam met die ander drie sterrekykers, baie opgewonde, op pad na Jesus toe. Sy geskenk het uit drie kosbare edelgesteentes bestaan. Op pad vind hy egter `n kind sonder `n moeder, soek summier vir hom `n moeder en gee aanhulle een edelsteen om hulleself mee te versorg. Net daarna vind hy `n weduwee met baie kinders en gee nog `n edelsteen weg sodat hulle versorg kan wees. Die derde edelsteen word gebruik om `n oorlogsgevangene los te koop. Daarna verkoop hy sy duur gewade vir die armes (d w s, vir almal). En later doen hy in die plek van `n veroordeelde slawediens op `n skip en word `n ou, gebroke man in boeie. Na baie jare word hy vrygelaat en eindig by `n groot stad waarhy drie kruise sien staan. Bokant die middelste kruis sien hy `n ster, dieselfde ster wat hy jare gelede saam met die ander drie sterrekykers gesien het. En hy weet, uiteindelik is hy by die koning van die Jode. Nou kan hy Hom ontmoet. Maar wonder hy, het hy nie te laat gekom nie? En dan is dit asof die Koning vir hom sê: Jy het nie te laat gekom nie, inteendeel, ek is lankal reeds by jou. Daar waar jy almal so versorg het, het jy gewys jy ken My reeds.

`n Verhaal soos hierdie, broers en susters, kan die trane vlak laat sit,en die moontlikhede om hierop uit te bou in die prediking tydens die Kerstyd, is byna onbegrens. Die feit is egter: ons het niks van hierdie verhaal in die teks voor ons nie. In Matteus 2:1-12 is nie sprake van `n vierde sterrekyker nie. Trouens, daar word nie eers vermeld dat daar drie was nie. Hierdie afleiding is in die verloop van die kerkgeskiedenis gemaak, gegrond op die aantal geskenke. Maar nêrens lees ons hulle was drie nie.

In die lig van Psalm 72:10 en Jesaja 60:1-6 is die sterrekykers mettertyd ook tot die status van konings verhef. Hulle het selfs name gekry: Kasper (die jongeling), Melchior (die gryse), en Baltasar (die man). En later ook ouderdomme: 20, 40 en 60. Ook hulle geskenke het bepaalde betekenis begin kry: goud (die gawe om die evangelie te kan verkondig), wierook (die krag om te kan bid) en mirre (ernstige berou en boetedoening).

So ook die ster, broers en susters. Allerlei verklarings is al vir die ster gegee, waar dit vandaan sou kom en wat dit sou wees. Party meen dit was `n eenmalige verskyning van `n bepaalde ster, ander meen dat dit `n verskietende ster/komeet was, en ander weer meen dit was `n bepaalde konstellasie van sterre wat so teen 7 v C verskyn het.

Maarkom ons dink so `n bietjie, broers en susters. Waarmee het ons onsself die afgelope vyf of wat minute besig gehou? Met die sterrekykers, met die ster, met die geskenke. Party sal sê: met Kersfees. Ja, broers en susters, met Kersfees, maar met Kersfees sonder Christus.

Wantdit is juis die groot gevaar wanneer ons oor al die `ekstras` rondom Kersfees praat. Ons raak so besig met al die mooi verhaaltjies, die geskenke, die saamwees, die vrede, die vreugde, die kaartjies, dat die Kindjie gaandeweg op die agtergrond verdwyn, of ten minste dan, `n minder belangrike rol begin speel.

En dan, broers en susters, is en kan Kersfees nie meer Kersfees wees nie. Want sonder Christus in die prentjie van Kersfees — in die middelpunt van Kersfees — is daar nie Kersfees nie. Want Kersfees handel oor Christus, en sonder Christus sou daar nooit Kersfees gewees het nie, en kan daar ook nie in ons tyd werklik Kersfees wees nie.

Dit is wat Matteus 2:1-12 onder andere baie duidelik wil sê. In die Kersverhaal is Jesus in die middelpunt. Hy is die belangrikste. Alles draai om Hom. En wat meer is, Hy dwing ons om te kies, vir Hom of teen Hom. Kom ons kyk gerus maar wat sê die teks vir ons hieroor.

Matteus vertel dat die sterrekykers uit die Ooste kom om na Jesus te kom kyk. `n Ster kom op om hulle na Jesus te lei. Toe Herodes, die koning van daardie tyd in hierdie streek, van Jesus, die nuwe koning van die Jode se koms hoor, laat hy sy adviseurs kom om hom raad te gee. Die skrifgedeelte waarmee sy adviseurs hom antwoord dui daarop dat daar vir Israel `n leier sal kom. Dan laat Herodes die sterrekykers kom om te hoor van die ster. Hy stuur hulle dan na Jesus om uit te vind wat aan die gang is, en dan terug te kom om aan hom verslag te doen. En toe hulle by Jesus kom, stuur God `n engel om aan hulle te sêdat hulle nie weer na Herodes moet gaan nie.

Baie duidelik, broers en susters, alles draai om Jesus. Die Kindjie laatdinge gebeur. Hy laat mense kom en gaan. Hy laat mense beplan. Hystaan in die middelpunt. Al die ander figure — Herodes, die sterrekykers, die skrifgeleerdes, die priesterhoofde, die ster — is slegs daar omdat Jesus daar is.

En wat meer is — en dit is baie interessant in die teks — Jesus se teenwoordigheid roep almal op tot `n keuse: Of jy is vir Hom en vereer Hom (soos die sterrekykers), of jy is teen Hom en verwerp Hom (soos Herodes).

Wat Matteus dus hier wil sê is dit: Jy kan nie neutraal teenoor Jesus staan nie. Wanneer Christus na iemand toe kom, is dit of ja of nee, jy is vir Hom of jy is teen Hom. Soos dit ook dwarsdeur die geskiedenis van Jesus geblyk het. Tot by sy kruisdood, waar sommiges Hom gespot het, maar ander gesê het: Waarlik, Hy was die Seun van God.

Jesus Christus, broers en susters, waar ons in die Adventstyd sy koms afwag, kom vandag nog so in ons midde. Sy Advent, sy koms na die wêreld toe, is nie afgesluit nie. In hierdie Adventstyd kom Hy weer na ons toe, soos Hy elke dag na ons toe kom. En wanneer Jesus na ons toe kom, broers en susters, is die keuse wat aan ons gestel word nie minder radikaal nie. Jy is of vir Hom, of teen Hom. Ons sê of ja vir Christus, of nee. Of met ons hele lewe, of sekere tye of sekere oomblikke in ons lewens.

En is dit nie juis die rede hoekom ons in die geloof soms so faal nie? Ons wil vir Jesus aan die een kant ja sê, maar partykeer ook weer nee. Ons wil nie heeltemal goddeloos wees soos Herodes nie (dit is darem te erg, ons is mos gelowig), maar aan die ander kant wil ons ook nie heeltemal godvresend soos die sterrekykers wees nie (want dit vra darem nou weer te veel van ons). Nee. Soms wil ons liewer tussen die sterrekykers en Herodes tereg kom. Maar dit kan nie.

Dieselfde geld ook vir die doopouers van vanoggend (en natuurlik ook vir ons almal wat ons kinders ten dope gebring het). Aan die een kant sug ons om die genade van God by die doopvont te ervaar waar Hy met ons en ons kinders sy ewige verbond bevestig. Ons is ook bereid om te sê dat ons nie daarsonder kan nie. Ons wil by God wees. Ons wil Hom inons lewens teenwoordig hê. Soos die sterrekykers.

Maar darem nie altyd nie. Want om in die geloof werklik te stry na `n nuwe gehoorsaamheid (dit wat die doopformulier van ons vra) is nie altyd te maklik of te lekker nie. Dit vra soms baie. Dit vra soms te veel, sal ons selfs sê. Dan is ons soos Herodes. Ons wil Jesus uit ons lewens weer. Ons wil niks van Hom weet nie. Want hy bedreig ons lewens soos ons dit vir onsself, soos ons dit wil hê, ingerig het.

Kersfees, broers en susters, dwing ons dus om te kies. Kersfees, Kerstyd sê: Jesus het gekom, Hy kom weer, Hy kom elke dag, Hy kom weer vandag na ons toe by wyse van sy Woord. En wanneer Hy kom, is daar altyd reaksie. Want God laat nie toe dat Hy ongesiens verbygaan nie. Hy roep op. Hy berispe. Hy oordeel. Hy straf.

Maar Hy het ook lief. So lief dat Hy se enigste Seun gegee het. Daardie Seun kom in hierdie Adventstyd weer na ons toe. Wanneer ons nou hierna by die doopvont gaan staan, kom Hy na ons toe. En wanneer Hy kom, antwoord ons op sy koms, al wil ons nie altyd, al dink ons nie altyd dat ons antwoord nie.

Want ons lewe is ons antwoord. Ons lewe na ons kinders se doop is ons antwoord. Hoe ons hierdie jaar Kersfees gaan vier, is ons antwoord. Hoe ons hierdie jaar gelewe het was ons antwoord.

Amen