Lukas 2:8-14


Kersfees of krismis?


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Ek wil graag vir julle vanaand my lewensverhaal vertel: My naam is Nicolaas en ek is gebore in die jaar 280 nC in 'n klein dorpie met die naam Patara in Klein-Asië. My ouers was baie goed vir my — hulle was vername en welgestelde mense en het altyd gesorg dat ek nooit gebrek ly nie.

Maar toe gebeur daar 'n vreeslike ding — 'n pessiekte breek uit — en onthou nou, in my tyd was daar nog nie hospitale en dokters en al die medisynes wat julle vandag het nie — en daarom het duisende mense aan die pessiekte doodgegaan, ook my ouers. Dit was vir my baie erg, want ek was nog maar jonk. Wat my egter laat oorleef het, was my geloof in ons Here Jesus Christus wat ek by my ouers geleer het.

In daardie dae was daar nog nie boeke soos julle vandag het nie. Hier en daar was daar ‘n paar perkament- en papirusrolle waarop die Bybelboeke met die hand oorgeskryf is. Dokumente soos hierdie was baie skaars, en daarom het ons die meeste van die Bybel en van Jesus geleer deur dit wat mense, veral ons ouers, aan ons oorvertel het. Een van my gunstelingverhale was die verhaal van Jesus se geboorte. Dit is een van die min dinge wat ek van my ouers kan onthou: elke jaar met die herdenking van Jesus se geboortedag het my pa ons vertel van Jesus wat in 'n stal gebore is, van die wyse manne wat kom eer betoon het, die skaapwagters en die engelekoor wat gesing het : Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het.

Hierdie verhaal het telkens 'n baie diep indruk op my gemaak. Om te dink dat Jesus dit vir my gedoen het; dat God my so liefgehad het dat Hy as' t ware neergebuig het na die aarde toe deur sy Seun te stuur om vir my gebore te word, vir my te sterwe, om so vir my en al die ander mense wat glo die ewige lewe te gee. Ek het daarom my bes probeer om in my lewe iets van die liefde van God sigbaar te laat word om so te help dat die vrede op aarde waarvan die engele gesing het, 'n werklikheid sou word.

Ek is na my ouers se dood weg uit Patara en het by familie in die dorpie met die naam Myra gaan bly. Daar het ek groot geword en elke dag probeer uitleef wat ek by my oorlede ouers geleer het. Op 'n dag het die mense van die plaaslike kerk my kom vra of ek nie kans sien om die leiding te neem in die gemeente nie, want die vorige leier is oorlede. Daardie tyd het hulle die leiers van 'n gemeente ‘biskop’ genoem. So het dit dan gebeur dat ek biskop Nicolaas geword het.

In daardie tye was dit maar moeilike tye vir die Christelike kerk. Die Romeinse keisers het niks van die Christene gehou nie. Een van hulle, keiser Diocletianus, het my laat arresteer en my in die tronk gegooi, net omdat ek 'n Christen was, veral omdat ek biskop was. Maar die Here sorg darem vir 'n mens: Hy het 'n volgende keiser, keiser Konstantyn, 'n gelowige laat word en keiser Konstantyn het my vrygelaat uit die tronk. Ek is terug na Myra toe en het weer aangegaan met my werk as biskop.

Vir my was dit die heel lekkerste om mense te kan help. Ek het my bes probeer om te sorg dat die armes altyd ietsie het om te eet, al het dit beteken dat ek die boere en die winkeleienaars moes gaan soebat vir kos. Baie mense het na my toe gekom om hulp te vra — en as ek kon help, het ek graag. Met my erfgeldjies en die geldjie wat ek as biskop gekry het, het ek selfs vir die dogters van die dorp 'n bedraggie gegee sodat hulle 'n bruidskat kon hê as hulle die dag trou.

Nou wil ek julle 'n geheim vertel. Elke Kersfees het ek, op die aand voor Kersdag, 'n vermomming aangetrek en dan het ek skelmpies na die huise van die arm mense in die dorp gegaan en stilletjies vir die kinders in daardie huise 'n geskenkie neergesit sodat hulle ook iets kon hê om oor bly te wees met Kersfees. Ek het dit so geniet om die volgende dag te hoor hoe verras, bly en opgewonde die kindertjies oor hulle geskenkies was.

Ek is oorlede in die jaar 314 nC. Na my dood het die kerk my verhef tot 'n heilige en het hulle my Sint Nicolaas begin noem. Hulle het ook my oorskot na Italië toe gevat en daar gaan begrawe. Dit is tot vandag toe nog daar. Hulle vertel vir my dat die storie van my lewe, veral van die geskenkies wat ek so in die geheim uitgedeel het, oor die hele wêreld versprei het. Ek hoor tot dat meer kerke na Sint Nicolaas vernoem is as na enige ander persoon op aarde — en dit alles net omdat ek probeer het om in my lewe die lied van die engelekoor werklikheid te laat word!

Maar weet julle, later aan het mense snaakse dinge met my begin aanvang. Die digter, Clement Moore, het vir my 'n rooi neus en agt klein takbokkies gegee. Thomas Nast, 'n kunstenaar, het my geteken met 'n groot boepmaag en hy het vir my rooi klere, afgewerk met wit pels, aangetrek. Om nie eers te praat van al die name wat ek bygekry het nie: Sint Nicolaas word toe mos Belsnickle, Kris Kringle, Santa Claus, Sinterklaas...

Dit is my storie. Ek, eenvoudige ou Nicolaas van Patara, Nicolaas, biskop van Myra, wat maar net iets van Jesus se liefde wou deel met ander, wat maar net iets van die vredeslied van die engele sigbaar op aarde wou maak.

Dit, broers en susters, is werklik hoe Sint Nicolaas se lewensverhaal sou klink as hy vandag met ons sou kon praat. Dit is die verhaal van ‘n gelowige mens, ‘n mens wat nie die geloof ingewikkeld wou maak nie. Iemand wat eintlik maar net die liefde en vrede wou lewe. Iemand, laat ek byvoeg, wat werklik gedink het soos Jesus.

Nou sou ‘n mens natuurlik rustig, en heel korrek, kon oordeel oor al die mense wat van Nicolaas se lewe iets gemaak het wat dit nie is nie. Maar laat ons maar nie te vinnig oordeel nie. Want ons tyd, baie rondom ons, en dikwels ook ons self, gaan eenvoudig rustig voort om die lewe van iemand wat in geloof God wou dien, te verander en aan te pas om te pas by wat so baie mense ‘Krismis’ noem (om die kras woord hier te gebruik).

Dit is Sinterklase net waar jy kyk, op straathoeke, in winkelvensters, op advertensies in al wat koerant is. Sinterklase wat mense aanspoor om te koop, asof dit kastig Sinterklaas se werk is om 'n opgetofde smous te wees, ‘n betaalde werker om saam met kinders afgeneem te word en verkope op te jaag.

Die ware gees van Kersfees lê nie hierin nie. Nee. Die ware gees van Kersfees lê in Lukas 2:14 ‘Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het’, ‘n vers wat Nicolaas, as gelowige, aangespoor het om iets sigbaar te maak van Jesus Christus se vleeswording, iets sigbaar te maak van hoekom God vir ons mense mens geword het.

Wat sê Lukas 2:14 in kort? Dat God, in Jesus Christus, vrede tussen Hom en die sondaarmens gebring het. In Christus het God ‘n welbehae in sy mense, sy kinders. En wanneer ons in vrede met mekaar gaan lewe, wanneer ons ook in mekaar ‘n welbehae vind, dan eer ons God.

Die tragiese, broers en susters, is dat juis vrede seker die saak is waarna die meeste mense smag, waarna soveel gemeenskappe smag, waarna die wêreld smag. Gewone mense smag na vrede, juis omdat gewone mense dikwels die slagoffers is van strukture, mag, geweld, sistemiese onregverdigheid, internasionale politiek, internasionale konflikte, internasionale ekonomiese mededinging, noem maar op. En dit is, broers en susters, nie alleen hoe ons wêreld lyk nie, dit is ‘n wêreld waarin ons maar net moet leef, en oorleef. Soveel soek na vrede, smag na vrede.

Ook ons. En wat maak ons? Kom Kersfees, die fees van vrede, die feestyd waartydens ons vrede kan soek, en uitleef, en so min van hierdie vrede word sigbaar in ons lewens. Ja, miskien nog so ‘n bietjie vrede hier rondom Kersfees. In terme van die gees in die lug is dit darem nie so moeilik nie. Maar na Kersfees, as die lewe weer die pad met my vat, die jaar met my begin weghardloop, tyd my dag reël, my dag boek my baas word, moet dan nie van my rustigheid en ‘n gesindheid van vrede vra nie. Want dan is ek besig om te oorleef, tyd vir leef, en sinvol leef, is daar dan nie.

Dan, broers en susters, maak ons van Jesus se menswording, van die engele se vredeslied, van God se uitgesproke welbehae in sy kinders, presies wat baie mense oor baie jare met ‘n doodgewone gelowige, Nicolaas, se lewe gemaak het. Dan staan ons maar net so skuldig.

Kersfees gaan oor God. God se eer. Dat Hy geëer sal word, verheerlik sal word. Omdat Hy Jesus gebore laat word het. Vir ons. Sodat daar vrede tussen God en mens kon kom. Met die gevolg dat God in sy kinders ‘n welbehae het.

As dit ons nie laat smag na vrede, laat soek na vrede, verlang na vrede nie, het ons nog nooit Kersfees verstaan nie. Dan het ons van Kersfees krismis gemaak!
Amen