Markus 14:26-31


'n Vreugdelied in die donker


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

`Nadat hulle ‘n lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe’. (Mark 14:26). Hierdie vers, broers en susters, so effens versteek, en so half skynbaar terloops in Markus 14, is ‘n vers wat ‘n mens so maklik by verby kan lees. En kom ek sê hoekom ek so dink.

Die hoofstuk begin waar Markus ons vertel dat Jesus se dood beplan word. In die volgende gedeelte word Jesus gesalf. ‘n Salwing, wat ons uit vers 8 kan aflei, niks anders is as ‘n voorbereiding of Jesus se begrafnis nie. Na hierdie gebeure lees ons dat een van Jesus se dissipels, Judas, onderneem om Jesus te verraai. Daarna word die paasmaaltyd voorberei, ‘n paasmaaltyd wat ook op Jesus se komende dood dui, soos ons dit immers telkens tydens Nagmaal vier. Daarna lees ons dat Jesus self sê dat een van sy dissipels Hom gaan verraai. Daarna stel Jesus die Nagmaal in, waarna Markus ons vertel dat ook Petrus Jesus sal verloën. Daarna volg die vertellings oor Jesus se doodsangs in Getsemane, sy gevangeneming, die onregverdige verhoor van die Joodse Raad. Ten slotte sluit die hoofstuk af met Petrus se verloëning van Jesus.

Dit is dus ‘n hoofstuk, broers en susters, wat ingelui word deur ‘n moordkomplot, en afgesluit word deur ‘n haan wat twee keer kraai en Petrus in trane uitbars. Dit is ‘n hoofstuk wat gaan van kwaad na erger: dit begin by ‘n moordkomplot deur Jesus se teenstanders, en eindig by Jesus se eie mense wat Hom ook verwerp.

En in die middel van hierdie somber hoofstuk, broers en susters, staan vers 26. Staan vers 26 wat in die donkerte van die ontvouende gebeure flikker soos ‘n kersie. Van alle kante af vou die donkerte oor Jesus toe: mense wat Hom verraai, mense wat nader storm met stokke en swaarde en soene, mense wat uitmekaar hardloop soos skape sonder ‘n herder.

En wat maak Jesus? Saam met sy dissipels, toe nog by Hom, sing Hy in die midde van al hierdie donkerte, ‘n lofsang. ‘n Mens kan verstaan, broers en susters, dat die engele — met die aankondiging van Jesus se geboorte — ‘n lofsang wou sing. Ja, ‘n mens kan ook maklik verstaan — soos ons byvoorbeeld in Openbaring 5:11-12 lees — dat alle verlostes eendag in die hemel voor God se troon lofsange sal sing.

Maar ‘n lofsang hier? In die midde van sulke omstandighede, en komende gebeure? Hier waar die skadu van die kruis so donker val? Waar eintlik niks meer positief is nie? En dit deur die Een wat gekruisig gaan word? Dit pas mos nie!

Ja, ‘n treurlied sou ons dalk kon verstaan of as gepas hier beleef. Selfs ‘n klaaglied. Maar nou sing Jesus ‘n lofsang En wat meer is, broers en susters, dit is nie sommer net ‘n gewone lofsang wat Jesus hier sing nie. Nee, en hierdie is baie interessant. Die woordjie wat hier in vers 26 met lofsang vertaal is, is die woordjie Hallel. Jesus het die Hallel gesing. Die Hallel, wat niks anders is as Psalm 113 tot Psalm 118 nie, en alles behalwe ‘n treurlied is!

Wat broers en susters, is die inhoud van hierdie lofsang, Psalm 113 tot 118? U kan dit maar vanaand later gaan nalees, maar kom ek gee u ‘n kort opsomming. Die Hallel, Psalm 113 tot 118, besing die sorg van God, die feit dat God alles beheer, dat Hy alles geskep het, dat sy almag en heiligheid van so ‘n omvang is dat alles bewe as die Here verskyn. Dit sing van die eer wat alleen aan God toekom, van God wat smeek bede verhoor, van God se liefde wat nooit ophou nie, van die feit dat God nooit sy kinders alleen laat nie, juis omdat daar geen einde aan sy liefde en sorg is nie.

Pas dit hier, wil ons vra? Is dit nie ‘n vertalersfout, of dalk ‘n glips van Markus gewees nie? Nee, broers en susters, dit pas. Want juis hier, waar die duisternis vir Jesus die donkerste geword het, hier waar die magte van die bose die felste is, tussen die lofsang van die engele en die lofsang van die verlostes eendag in die hemel, word Hy, en ook getroos, deur hierdie wonderlike loflied.

‘n Loflied wat sê: God word nie geïntimideer deur die dood en die aanslae van die bose nie. Die duisternis en al die hel se woorde kry God nie onder nie. Daarom sing Jesus juis hier hierdie loflied. Want, broers en susters, en kom ons wees eerlik, as Jesus nie hier hierdie loflied kon sing nie, as die ligpoeletjie van vers 26 hier moes uitdoof, as die aanstormende bose magte die kersvlammetjie hier moes uitknikker, dan was dit regtig nag.

Maar nou sing Jesus, en sy dissipels word aangesteek om saam te sing. En terwyl hulle dit sing, roep dit die vreugde van ‘n God wat alles beheer wakker, dit sit ‘n lied oor God se eindelose liefde op hulle lippe. Dit laat hulle sing van hoop in hopelose tye, dit gee hulle moed waar moedeloosheid op die drumpel staan.

Ons moet dit waar hier gebeur het, broers en susters, baie mooi verstaan. Die vreugde wat hier tussen Jesus en sy dissipels posgevat het, was geen goedkoop vreugde nie. Dit is ‘n lied wat in die duisternis gesing is, ‘n lied wat gesing is met knersende tande, ‘n lied wat gesing is met ‘n kruis op die rug. ‘n Lied wat gesing is in baie moeilike omstandighede.

Nog meer: dit is ‘n lied, ‘n vlammetjie in die donker, ‘n liggie wat gesien kan word as die voorloper, die voor-skaduwee, van iemand wat gebore sal word, in die donker van hierdie wêreld. Dit is ‘n liggie in daardie donker nag wat ook iets wil sê van die ware Lig wat vir ons elkeen, in ons donker wêreld deurgebreek op die dag toe God in Jesus Christus mense, die ware Lig van die wêreld geword het.

‘n Lig, broers en susters, wat niks of niemand kan uitdoof nie. Want soos in die Hallel, en veral in Psalm 118, sing Paulus later ook ‘n lied van God se liefde. Dat niks ons daarvan kan skei nie. Nie hoogte, diepte, gevaar, benoudheid, afstand of swaard, of selfs die dood, nie.

Jesus Christus, broers en susters, het hierdie oomblik van benoudheid God se lof besing. Want Hy het geweet, sy Vader is in beheer. Sy Vader is soos ‘n Lig wat nie uitgedoof kan word nie. Is dit ook wat ons in tye van benoudheid doen? Meer nog: omdat God vir ons die Lig geword het, sy Woord die lig vir ons pad is, kan ons ook lig, moet ons ook lig vir die wêreld wees.

Is ons lig vir die wêreld, of laat ons soms te maklik toe dat die wêreld, en ons omstandighede, ons liggies uitdoof? As ons soms voel dit is wat gebeur, kom ons gaan lees maar weer Markus 14:26: daar het ons gesien watter verskil ‘n liggie in hierdie donker wêreld kan maak!
Amen