2 Korintiërs 3:1-18; Hebreërs 12:1-3


Om te sien en werklik te sien


 

1.EKSEGETIESE OPMERKINGS

1.Die argument wat Paulus in 2 Korintiërs 3:1-18 voer sluit aan by die gedeelte 2 Korintiërs 2:12-17. In hierdie gedeelte sê Paulus die volgende: hy en die ander bedienaars van die Woord word deur God gebruik om die evangelie te verkondig. Hulle verkondiging is soos wierook wat (onsigbaar) mense bereik. Sommiges aanvaar die evangelie, ander nie.

2.Hoekom is hulle in staat om dit te doen? Omdat hulle ‘een is met Christus’ (2:14), die Here vir hulle geleenthede skep (12), die evangelie in opregtheid verkondig (2:17), verbonde is aan Christus (2:17), die opdrag van God ontvang het om dit te doen (2:17), dit aan God verantwoordelik is (2:17), deur Christus ten volle op God vertrou(3:4), en God hulle bekwaam maak om dit te doen (3:6).

  1. Wat is die inhoud van die evangelie wat hulle verkondig? Die bediening van die wet (die ou verbond) was ‘n bediening wat tot die dood gelei het (3:7), wat mense veroordeel (3:9), wat ‘n sluier oor hulle gesigen verstand geplaas het (3:14). Die bediening van die nuwe verbond, daarenteen, is ‘n bediening wat mense vryspreek (3:9), die sluier van hulle gesig wegneem wat hulle in staat stel om werklik in God se teenwoordigheid te kan kom (3:18), wat hulle vry maak (3:17), en wat hulle in staat stel om te ervaar hoe die Gees van God in die lewe van mense werksaam is (3:18).
  1. Wat is die gevolg (in die lewe van Paulus en die ander bedienaars van die Woord) van hierdie bediening? Dit gee aan hulle vrymoedigheid om die evangelie aan ander te verkondig (3:12), hulle hoop word deur die versoening gedra (3:12), die sluier word van hulle gesig weggeneem sodat hulle werklik kan sien hoe God is (3:18), hulle word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (3:18), hulle weerspieël al hoe meer die heerlikheid van die Here (3:18), en die Gees van God is werksaam in hulle lewens (3:18).
  1. Ons sou kon sê dat 2 Korintiërs 3 te make het met die spiritualiteit van Paulus en die ander bedienaars van die versoening. Die gedeelte adem iets van hulle ervaring van God, hoe hulle God in hulle lewens teenwoordig beleef, en wat die gevolg van hierdie ervaring vir hulle sigbare geloofslewe is. Die gedeelte beskryf hoe Paulus (en die ander) se geloof tot sigbare godsdiens omvorm word. Volgens Paulus beteken om in die teenwoordigheid van God te kan kom om deur God verander te word alhoe meer na die beeld van Christus. Om werklik die heerlikheid van God in Christus te ervaar het die gevolg dat dieselfde heerlikheid in jou lewe sigbaar word. Om God in Christus te ken, werklik te ontmoet, laat die sondaarmens nie ongeraak nie. Ware ontmoeting lei tot ware lewe. Om God werklik te ken, is om meer en meer te groei na die beeld van Christus.
  1. Adventstyd is ‘n tyd waarin die Kerk weer eens ‘wag’ op die koms van die Here. Anders gesê: Adventstyd het te make met die gelowige se kom in die teenwoordigheid van God. God kom nie alleen na ons toe in die adventstyd nie, ons as sy kinders moet ook soek en smag na die ervaring van God se teenwoordigheid in ons lewens. Die preek wat volg wil iets van hierdie soeke, en die ervaring om in God se teenwoordigheid te wees, verbeeld.

1.MOONTLIKE PREEKSKETS

Tema: Om te sien en werklikte sien

Skriflesing: Hebreërs12:1-3; 2 Korintiërs 3:18

Die Apostolicum word dikwels deur teoloë ‘n belydenis met ‘n leësentrum/kern genoem. Volgens hierdie belydenis is Jesus ontvang deur die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria, Hy het gely, is onder Pilatus gekruisig, het gesterf en opgestaan. Niks word gesê van Jesus se lewe nie tot voor sy kruisiging nie. Tog vertel die evangelies ons baie oor die lewe van Jesus. Alhoewel die Christelike godsdiens nie maar net verstaan kan word as ‘n imitatio Christi nie, is dit egter ook so dat die Woord ons leer dat ons in Christus nuwe mense moet word, dat Hy al meer in ons moet word en ons minder, dat Hy die middelpunt van ons lewe behoort te wees. By implikasie: dat ons moet lewe (natuurlik uit dankbaarheid vir reeds verkreë verlossing) soos Jesus gelewe het.

Hebreërs 12:2 vra van die gelowige dieselfde, alhoewel net in ander woorde: hou die oog gevestig op Jesus Christus. Anders gesê: kyk altyd na Jesus, sien Jesus, sien Hom werklik raak. Wat beteken dit egter om regtig na Jesus te kyk, Hom regtig raak te sien? Hierdie vraag se agtergrond lê ten gronde van die probleem/aspek wat in die prediking ontbloot wil word: mense kan sien, maar tog nie sien nie, kyk en tog nie kyk nie.

Verskeie voorbeelde in die evangelies kan opgenoem word van hoe sekere mense Jesus nie maar net wou sien nie, maar regtig wou sien. Vir die herders van Lukas 2 was ‘n boodskap van die engel nie genoeg nie,hulle wou Jesus self sien, daarom het hulle moeite gemaak om na Bethlehem gegaan. Vir die wyse manne was ‘n lig in die naghemel ook genoeg nie, hulle wou die Lig van Bethlehem self sien. Johannes en Andreas (Johannes 1) het by die Johannes die Doper (wie hulle aanvanklik gevolg het) gehoor van die Een wat na hom sou kom. Dit was nie vir hulle genoeg nie. Daarom het hulle later volgelinge van Jesus geword. Matteus het, toe Jesus hom in sy tolhuis geroep het, Jesus in sy huis ingenooi om meer van Hom te wete te kom. En Saggeus was bereid om in ‘n boom te klim om Jesus regtig te sien.

Daarteenoor het die ryk jongman na Jesus gekom, nie om Hom te leer ken nie, maarom ‘n antwoord op ‘n vraag te kry. Hy wou sien, maar nie regtig sien nie. Hy het redding gesoek, nie dieRedder nie, hy het medisyne gesoek, nie die Geneesheer self nie, die korrekte uitleg van die wet gesoek, nie die Leermeester self nie.

Dus: vir sommige gelowiges is ‘n terloopse ontmoeting met Jesus Christus genoeg, ander weer soek meer.. Laasgenoemde geloofshouding is wanneer ons werklik die oog hou op Jesus Christus. Om werklik die oog gevestig te hou op Jesus Christus kan nooit gebeur deur maar net terloopse ontmoetings met Jesus Christus nie. ‘n Vinnige gebed, om saam met die gemeente jou skuld en geloof te bely beteken nie noodwendig dat ons Jesus Christus werklik sien nie. Verder:deur maar net advent te vier met die gedagte dat Jesus Christus na ons gekom het, sonder om te smag om Hom weer en weer te ontmoet, werklik te ontmoet en werklik te sien, is nie om werklik advent te vier nie.

In die prediking moet vervolgens ook die volgende duidelik gemaak word: Hulle wie God regtig wil sien, hulle wie God regtig wil ontmoet, ook weer in die adventstyd, sal God sien, omdat God Hom altyd deur die wat soek, laat vind.

Moontlike preek

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:

Wat leer die evangelies ons van Jesus Christus? Ek reken ons sou ten minste die volgende met oortuiging kon sê: Nog nooit het die wêreld iemand met so ‘n rein hart, so ‘n vleklose karakter geken nie. Jesus Christus se oor was so ingestel dat Hy niemand se geroep om hulp of versoek vir wat ook al gemis het nie. Sy genadewas so oorvloedig dat Hy nooit ‘n kans verby laat gaan het om iemand te vergewe nie. Geen leuen het oor sy lippe gekom nie, en niks het Hom laat afdraai van die doel waarvoor Hy gekom het nie: om die sondaarmens met God te versoen. Hy het uitgereik en aangeraak waar ander verstoot en teruggedeins het. Hy het volhard tot die einde, terwyl almal rondom Hom uitgesak het.

Om hiervan met instemming kennis te neem, is egter — en hieroor is die Woord baie duidelik — nie genoeg nie. Want wanneer die Woord sê dat ons in Christus nuwe mense moet word, dat Jesus meer in onsl ewens moet word en ons minder, dat ons Jesus Christus die middelpunt van ons lewens moet maak, sê die Woord eintlik niks minder as dat ons ook so behoort te lewe nie. Dat ons moet streef om soos Jesus te word nie.

Ons teksvers van vanoggend, Hebreërs 12:2, sê presies dieselfde, alhoewel net in ander woorde: hou die oog ge­vestig op Jesus Christus. Of nog anders gesê: sien Jesus altyd raak, kyk na Jesus. Die vraag is egter, broers en susters, en dit is wat ek in die res van vanoggend se prediking gaan probeer antwoord, wat beteken dit om Jesus Christus te sien, Hom regtig te sien, om regtig die oog op Hom gevestig te hou?

Die herders van Lukas 2 sal vir ons kan sê. Toe die engel aan hulle verskyn het en aankondig dat die Verlosser gebore is, was dit nie vir hulle genoeg om dit net te hoor nie. Hulle wou die Verlosser self sien. Daarom het hulle alles net so gelos en na Bethlehem gegaan.

Kort op hulle hakke was Simeon, ‘n getroue en vroom man wat in die tempel diens gedoen is toe Jesus gebore is. Lukas vertel van Simeon dat die Heilige Gees aan hom bekend gemaak het dat hy nie sou sterwe voordat hy die Here gesien het nie. ‘n Paar dae nadat die herders Jesus gesien het, het Simeon, toe hy die bondeltjie in die komberse in Maria se arms gesien het, geweet dat hy in die aangesig van die almagtige God was. En dit was vir Si­meon genoeg. Party mense wil nie sterf voordat hulle die hele wêreld gesien het nie. Vir Simeon was sy ontmoeting met die Here genoeg.

Die wyse manne het dieselfde begeerte gehad. Soos Simeon wou hulle die Here self sien. Soos die herders was hulle nie tevrede met wat hulle in die naghemel gesien het nie. ‘n Lig oor Bethlehem was nie genoeg nie, hulle wou die Lig van Bethlehem sien. En al moes hulle agterna die magtige Herodes met  ‘n ompad vermy, hulle het alles gedoen wat hulle kon om Jesus te sien.

Daar is nog voorbeelde wat mense wat nie maar net van Jesus wou hoor of Hom op ‘n afstand wou sien nie, maar Hom regtig wou sien. Johannes en Andreas, aanvanklik volgelinge van Johannes die Doper. By Johannes het hulle gehoor van die Een wat na hom sou kom, die ware Verlosser, die een wie hy nie werd was om sy skoen vas te maak nie. Dit was vir hulle egter nie genoeg om net van Jesus te hoor nie. Hulle wou Hom sien, hulle wou Hom leer ken. En toe hulle Hom uiteindelik ontmoet, vertel Johan­nes 1:38 ons, was hulle versoek nie ‘n wonderwerk of die beantwoording van ‘n strikvraag nie. Nee, hulle wou Jesus leer ken. Daarom was hulle vraag: Rabbi, waar gaan u tuis? Ons wil by u kom bly. Ons wil u leer ken. En wat was Jesus se antwoord? Nie: kom loer maar gou in as julle wil nie. Nee. Kom saam, dan sal julle sien.

Dieselfde geld vir Matteus. U sal onthou dat Matteus ‘n belastinggaarder vir die regering was. Sy bure het hom ‘n skelm genoem. In sy tolhuis het hy elke dag gesit. Presies waar Jesus hom gekry het. Toe Jesus vir hom sê ‘volg My’, het Matteus dit gedoen, want sommer in die volgende vers (Matt 9:10) tref ons hom saam met Jesus aantafel aan. ‘n Kort gesprekkie op straat kon hom dus nie bevredig nie. Hy wou meer tyd hê saam met Jesus om Hom werklik te sien.

‘n Laaste voorbeeld, dié van Saggeus. Hy was baie klein, so klein dat hy nie oor die mense kon sien wat Jesus in die straat afgevolg het nie. Om tot by Jesus te kom was vir hom eintlik onmoontlik, want vir hom sou die mense nie pad gee nie, want ook hy was ‘n belastinggaarder. Dit was eg­ter nie vir hom goedgenoeg om van ander te hoor hoe Je­sus lyk en wat Hy besig was om te doen nie. Hy wou Jesus met sy eie oë sien. Daarom het hy in ‘n boom geklim.

Daar is egter ook voorbeelde in die Bybel van hulle vir wie so ‘n terloopse ontmoeting met Jesus, ‘n ontmoeting wat enkel en alleen tot hulle eie voordeel sou strek, genoeg was. Neem maar die geval van die ryk jongman. Anders as vir Saggeus het die mense pas gegee, hy was immers die ryk jongman. En luister mooi wat vra hy vir Jesus toe hy hom gaan sien: meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Reguit op die man af, hierdie jongman. Nie tyd vir koeitjies en kalfies en ander formaliteite nie. Kom sommer gou by die punt uit. Soos ek, sien ek u is besig. Sê my daarom net gou hoe ek gered kan word, en dan sal ek u nie langer lastig val nie.

Sien u die verskil? Hy wou medisyne hê, die ander die Geneesheer. Hy was op soek na die antwoord op ‘n vraag. Die ander was op soek na die Leermeester self. Hy was op soek na redding, die ander was op soek na die Redder.

Hoe, broers en susters, hou u en ek ons oog gevestig op Jesus? Soms lykdit of dit vir baie genoeg is om maar net vinnig met Hom in die gebed te praat. Of van Hom te hoor wanneer daar in die kerk gepreek word. Of om saam met die gemeente te bely dat ons in Hom glo. Of om vir ander te sê dat ons ‘n Christen is. Of om te kan sê dat ons darem weet waarheen te gaan wanneer daar nood is.

Is dit nie verder so, broers en susters, dat ons dikwels maar net vir Jesus ken, of Hom wil sien, wanneer ons nood het, wanneer ons Hom nodig het of wanneer ons weet ons daaruit voordeel kan trek nie?

Dit, broers en susters, is nie wat dit beteken om Jesus Christus werklik te sien nie. Dit is nie wat dit beteken om jou oog gevestig te hou op Jesus Christus nie. Inteendeel. Wie Jesus nie maar net wil sien nie, maar werklik wil sien, is nie maar net tevrede met engele nie. ok nie met ‘n ster in die hemel nie. Hulle wie Hom werklik wil sien vra sy adres, nooi Hom in sy huis in. Waag alles om Hom werklik te sien. Los alle ander prioriteite en maak Hom die eerste prioriteit in die lewe.

Met die wonderlike wete: God laat Hom vind. Niemand wat Hom werklik soek, werklik wil sien, wys Hy af nie. Hy het nie vir Matteus gesê dat hy te sondig was om saam met Hom aan huis te kom nie. Ook is Saggeus nie weggewys nie. Selfs nie eers die ryk jongman met al sy verkeerde motiewe nie. Hulle was almal welkom. Dus ook u en ek.

Wa tmeer is, broers en susters, God beloon die wat Hom werklik soek. Wat is hierdie beloning: Kom ons hoor mooi wat 2 Korintiërs 3:18 sê: terwyl ons die heerlikheid van die Here aanskou (dus: Hom werklik sien vir wat Hy is), word ons gedaante verander na dieselfde beeld…as die Here wat die Gees is.

Hoor ons mooi wat die Woord hier sê, broers en susters? Hulle wat die Here soek, hulle wat Hom regtig wil sien, hulle wat regtig hulle oog gevestig hou op Jesus Christus, hulle word verander deur die Gees om meer en meer soos Jesus te word.

Jesus Christus het ‘n rein hart gehad, ‘n vleklose karakter. God wil jou so maak. Jesus Christus se oor was so ingestel dat Hy niemand se geroep om hulp of versoek vir wat ook al gemis het nie; God wil ons sulke ore gee.. Sy genade was so oorvloedig dat Hy nooit ‘n kans verby laat gaan het om iemand te vergewe nie. God wil vergifnis so in ons lewens laat seëvier. Geen leuen het oor sy lippe gekom nie, God wil ons lippe so verander. Hy het uitgereik en aangeraak waar ander verstoot en teruggedeins het. Hy wil ons ook onbeperk en sonder voorbehoud laat uitreik.

Wat meer is: Christus het geen skuld gevoel nie; Hy wil ook ons skuld verban. Hy het geen slegte gewoontes gehad nie; Hy wil ook ons s’n wegneem. Hy het nie die dood gevrees nie; Hy wil hê dat dit met ons dieselfde sal wees.

Hoekom, broers en susters, is dit nog nie so in ons lewens nie? Hoekom word ons nie minder en Christus nie meer in ons nie? Dalk omdat ook ons maar net medisyne soek en nie die Geneesheer nie, redding soek maar nie die Redder nie. Dalk, omdat ons nog nie werklik  Jesus Christus gesien het nie.

Want wie sien, en werklik sien, word van gedaante verander na dieselfde beeld as die Here wat ook die Gees is.

Amen