2 Korintiërs 3:1-18; Matteus 17:1-5


Ware aanbidding


 

  1. EKSEGETIESE OPMERKINGS

1.Die argument wat Paulus in 2 Korintiërs 3:1-18 voer sluit aanby die gedeelte 2 Korintiërs 2:12-17. In hierdie gedeelte sê Paulus die volgende: hy en die ander bedienaars van die Woord word deur God gebruik om die evangelie te verkondig. Hulle verkondiging is soos wierook wat (onsigbaar) mense bereik. Sommiges aanvaar die evangelie, ander nie.

2.Hoekom is hulle in staat om dit te doen? Omdat hulle ‘een is met Christus’ (2:14), die Here vir hulle geleenthede skep (12), die evangelie in opregtheid verkondig (2:17), verbonde is aan Christus (2:17), die opdrag van God ontvang het om dit te doen (2:17), dit aan God verantwoordelik is (2:17), deur Christus ten volle op God vertrou(3:4), en God hulle bekwaam maak om dit te doen (3:6).

  1. Wat is die inhoud van die evangelie wat hulle verkondig? Die bediening van die wet (die ou verbond) was ‘n bediening wat tot die dood gelei het (3:7), wat mense veroordeel (3:9), wat ‘n sluier oor hulle gesig en verstand geplaas het (3:14). Die bediening van die nuwe verbond, daarenteen, is ‘n bediening wat mense vryspreek (3:9), die sluier van hulle gesig wegneem wat hulle in staat stel om werklik in God se teenwoordigheid te kan kom (3:18), wat hulle vry maak (3:17), en wat hulle in staat stel om te ervaar hoe die Gees van God in die lewe van mense werksaam is (3:18).
  1. Wat is die gevolg (in die lewe van Paulus en die ander bedienaars van die Woord) van hierdie bediening? Dit gee aan hulle vrymoedigheid om die evangelie aan ander te verkondig (3:12), hulle hoop word deur die versoening gedra (3:12), die sluier word van hulle gesig weggeneem sodat hulle werklik kan sien hoe God is (3:18), hulle word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (3:18), hulle weerspieël al hoe meer die heerlikheid van die Here (3:18), en die Gees van God is werksaam in hulle lewens (3:18).
  1. Mynsinsiens sou ons kon sê dat 2 Korintiërs 3 te make het met die spiritualiteit van Paulus en die ander bedienaars van die versoening. Die gedeelte adem iets van hulle ervaring van God, hoe hulle God in hulle lewens teenwoordig beleef, en wat die gevolg van hierdie ervaring vir hulle sigbare geloofslewe is. Die gedeelte beskryf hoe Paulus (en die ander) se geloof tot sigbare godsdiens omvorm word. Volgens Paulus beteken om in die teenwoordigheid van God te kan kom om deur God verander te word al hoe meer na die beeld van Christus. Om werklik die heerlikheid van God in Christus te ervaar het die gevolg dat dieselfde heerlikheid in jou lewe sigbaar word. Om God in Christus te ken, werklik te ontmoet, laat die sondaarmens nie ongeraak nie. Ware ontmoeting lei tot ware lewe. Om God werklik te ken, is om meer en meer te groei na die beeld van Christus.
  1. Adventstyd is ‘n tyd waarin die Kerk weer eens ‘wag’ op die koms van die Here. Anders gesê: Adventstyd het te make met die gelowige se kom in die teenwoordigheid van God. God kom nie alleen na ons toe in die adventstyd nie, ons as sy kinders moet ook soek en smag na die ervaring van God se teenwoordigheid in ons lewens. Die preke wat volg wil iets van hierdie soeke, en die ervaring om in God se teenwoordigheid te wees, verbeeld.
  1. MOONTLIKE PREEKSKETS

Tema: Ware aanbidding

Skriflesing: Matteus17:1-5; 2 Korintiërs 3:18

Uitgaande van bogenoemde eksegetiese opmerkings kan met die gemeente gehandel word oor hulle verwagting van en ervaring tydens die erediens. Vir sommige gelowiges is dit genoeg om maar net in die erediens te kom sit, saam met die gemeente hulle skuld en geloof te bely, rustig na ‘n preekte sit en luister (waarmee hulle instemmend kan wees), en dan rustig terug te keer huistoe. Die feit dat hulle in God se teenwoordigheid gekom het (tydens die erediens) het hulle in wese onaangeraak gelaat. Dit was maar net nog ‘n erediens, nog ‘n preek (selfs nie tesleg nie!), Maandag kom weer, en die lewe gaan voort soos in die verlede.

Deur gebruik te maak van Matteus 17:1-5 kan egter aangetoon word dat in Jesus Christus se lewenie so was nie. In hierdie gedeelte vertel Matteus ons dat Jesus, nie alleen ‘n behoefte gehad om in God se teenwoordigheid te kom nie (in die gedeelte deur middel van die gebed), maar dat sy gesig verander het toe Hy in God se teenwoordigheid gekom het. Verder was Jesus se soeke na die teenwoordigheid van God nie maar ‘n behoefte wat op die ingewing van die oomblik ontstaan het nie. Hy het sy stilwees voor God sorgvuldig beplan. Hy het vriende gekies om Hom te vergesel, Hy het sy eie bediening vir ‘n oomblik gelaat, Hy moes die pad kies waarop Hy wou stap om God te gaan ontmoet, en Hy moes op daardie pad hou om God te kon ontmoet. Hy was dus voorbereid vir sy ontmoeting met God.

Wat was die gevolg van Jesus Christus se ontmoeting met God? Sy gesig het verander, sy gesig het begin straal soos die son. Of, in terme van in terme van 2 Korintiërs 3:18: sy gesig (en lewe) het die heerlikheid van God weerspieël.

In die prediking moet lidmate opgeroep word om, veral in die adventstyd waarin God weer na ons toe kom in sy seun, Jesus Christus, waarlik die teenwoordigheid van God veral in die erediens (natuurlik ook elke dag) te soek. Opgrond van die bediening van die nuwe verbond, die bediening van die versoening, kan die kind van God in die teenwoordigheid van die heerlikheid van God kom. Indien aanbidding lei tot ware ontmoeting, lei ware ontmoeting tot kinders van God wat nie alleen meer en meer groei na Christus nie, maar tot kinders van God wat die heerlikheid van God in die wêreld uitstraal.

 

Moontlike preek:

Broers en susters in onse Here Jesus Christus

Mense in `n vliegtuig en mense in `n kerkbanke het baie met mekaar ingemeen. Albei groepe is op reis. Albei groepe gedra hulle goed en fatsoenlik. Sommige dut in (hopelik net van die kinders in die kerk!) en sommiges staar by die venster uit. Die meeste is ook tevrede met `n voorspelbare ervaring. Vir baie is die tekens van `n goeie vlug en `n goeie erediens dieselfde: Lekker, sê ons graag. Dit was `n lekker vlug. Dit was `n lekker erediens. En ons klim van die vliegtuig af, stap uit die kerk uit soos ons gekom het, en ons is dood tevrede om die volgende keer weer te kom.

Daar is gelukkig soms hulle wat nie tevrede is met net maar lekker nie. Hulle verlang na meer. Hulle wil meer uit `n vlug/erediens hê as maar net die normale, die doodgewone, die verwagte. Soos die een seuntjie op die vliegtuig. Hy wou nie net vlieg nie. Hy wou ook diel oods ontmoet. Van die begin af, toe hy sy sitplek ingeneem het, het hy die wat hom bedien daarvoor begin vra. En elke keer wat een van die bemanning by hom verby is, het hy weer en weer gevra. Ek wil die loods ontmoet. Ek wil by die stuurkajuit in.

Sy versoek het uiteindelik by die loods uitgekom. En toe die loods na die passasiersafdeling kom en hom uitnooi, het sy gesig verhelder. Nadat hy ingeloop het in `n wêreld vol meters en kontroles, en weer kom sit het, was sy gesig vol verwondering. En tevredenheid. Want wat hy wou hê het hy gekry. Soos die ander in die vliegtuig: hulle gesigte was normaal, eintlik rusteloos vervelig. Maar tevrede. Want wat hulle wou hê, het hulle gekry. Om uit te kom waar hulle wou. Daarom was hulle doodtevrede om rustig voorhulle uit te staar, met hulle eie dinge besig te wees. Hulle het nie gekom vir verrassings nie. Inteendeel. Die laaste wat hulle in `n vliegtuig hoog bo in die wolke wou hê was verrassings.

Kan u nou verstaan, broers en susters, hoekom ek aan die begin die vreemde vergelyking gemaak het tussen mense wat op `n vliegtuig sit en hulle wat in die kerk sit? Want in die kerk gaan dit met baie soos in die vliegtuig. `n Paar sit en gesels, ander lyk mistroostig, maar die meeste is tevrede. Tevrede om voor hulle uit te staar en huis toe te gaan wanneer die diens oor is. Tevrede om die byeenkomste geniet sonder enige verrassings of onstuimigheid. Tevrede met `n lekker diens en `n mooi preek. Soek en julle sal vind, het die Here tog gesê. En aangesien ons `n lekker diens en `n mooi preek gesoek het, en dit gekry is, is ons heel tevrede op pad terug huistoe.

Daar is egter, broers en susters, hulle wat in die kerkbanke kom sit en wat meer kom soek. `n Paar kom met die kinderlike geesdrif van die seuntjie. En daardie paar gaan weg uit die huis van die Here met oëwydgesper van die wonder dat hulle nie alleen in die kerk kon sit nie, maar dat hulle die teenwoordigheid van die Loods self kon ervaar.

Die gedeelte in Matteus 17, broers en susters, vertel ons dat met Jesus dieselfde gebeur het. Want Matteus vertel ons dat Jesus, toe Hy gegaan het om te bid, te aanbid,toe Hy in die teenwoordigheid van sy Vader gekom het, ook sy gesig verander het. Party van u sal dalk vra: maar het Jesus, wat God selfwas, dan gegaan om te aanbid? Die antwoord op hierdie vraag, broers en susters, is nie alleen ja nie. Want was meer is: Jesus het nie alleen gegaan om te aanbid nie, nee, Hy het `n bepaalde tyd afgestaan om saam met sy vriende in God se teen­woordigheid te kon wees, `n gebeurtenis wat Hy deurdag en goed beplan het.

Uit die gedeelte in Matteus 17 lei ek af dat Jesus nie maar net op die ingewing van die oomblik besluit het om te gaan aanbid nie. Nee. Hy moes bepaalde voorbereidings tref. Hy het bepaalde vriende gekies, Hy moes sy bediening aan die mense staak sodat sy hart, sy eie hart, bedien kon word. Die plek waarheen Hy wou gaan, was `n entjie weg. Hy moes die pad daarheen kies, op daardie pad bly om daar te kom. En, helaas, teen die tyd wat Hy bo op die berg was, was sy hart gereed om voor sy vader te kon gaan staan. Want Hy was voorbereid.

Is dit, broers en susters, hoe u en ek maak wanneer ons kom aanbid? Berei ons ons reg voor ons hier kom sit? Stap ons in die week bepaalde paaie wat ons na hierdie gebeurtenis sal lei? Of word ons maar net wakker, staan op en arriveer? Bid ons vooraf, broers ensusters, sodat ons gereed sal word om te bid wanneer ons hier kom? Lees ons vooraf die Woord, sodat, wanneer ons hier kom, die Woord ons kan lees? Kom ons honger? Kom ons gewillig? Kom ons met die verwagting dat God met ons gaan praat? Of, kom ons stel dit kort en kragtig: wanneer ons hier instap, sê ons sommer al daar by die trappe, vra ons sommer al daar by die deur: Mag ek vandag assebliefdie Loods sien? En vra ons, smeek ons, pleit ons regdeur ons teenwoordigheid hier: ek wil so graag die Loods sien!

Mense wat dit doen, broers en susters, sal die doel van aanbidding ontdek: die doel van aanbidding, die doel van teenwoordig kom voor die aangesig van die groot Loods, van God, is om God toe te laat om onsgesig te verander. Soos met Jesus gebeur het. Sy gesig het begin straal soos die son , lees Matteus 17:2.

Kom ons praat vinnig hieroor, broers en susters. Die verband tussen ons gesig en aanbidding is nie maar net toevallig nie. Ons gesig is die mees publieke, ontblote gedeelte van ons liggaam. Dit is ook die herkenbaarste gedeelte van ons liggaam. Dit is die eerste gedeelte van die liggaam van iemand waarna ons kyk. Dit is die gedeelte van die liggaam waarmee ons die meeste ander mense beskryf. Ons maak byvoorbeeld nie `n skool se jaarblad vol met fotos van almal se voete nie.

Daarom, omdat ons gesig die sigbaarste gedeelte van ons liggaam is, gebruik God juis dit om sy werking, sy goedheid, sy liefde en genade in ons lewens te weerspieël. Hoor hoe pragtig Paulus dit beskryf: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesigte weggeneem. Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

Met ander woorde: God nooi ons uit om sy gesig te aanskou sodat hy onss`n in die oomblikke van ware aanbidding, kan verander. Sterker gestel: God hou daarvan om die gesigte van sy kinders te verander. Sy vingers vryf die kommerplooie weg. Skaduwees van skaamte en twyfel word onder sy vingers potrette van genade en vertroue. Hy laat gespanne kake ontspan en stryk bekommerde voorkoppe glad. Sy aanraking kan die sakke van moegheid onder ons oë verwyder, sy aanraking verwyder trane van wanhoop in trane van vreugde.

Hoe doen God, dit, mag ons vra. Deur aanbidding. So eenvoudig. Dalk sou ons iets meer ingewikkelds verwag. Dat ons dalk veertig dae moet vas of Levitikus uit ons kop moet leer. Nee, broers en susters. God se manier is baie eenvoudig. Hy doen hierdie dinge, onder andere, natuurlik, deur aanbidding. Deur ware aanbidding.

Wat is aanbidding? Hoor hoe mooi beskryf Dawid dit in Psalm 34:4: ‘Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy naam prys’. Aanbidding, broers en susters, ware aanbidding, is om na sy huis te kom sonder om maar net die gewone te verwag. Sonder om maar net met die gewone en die lekker tevrede te wees. Om te kom en te soek na die Loods self. Na God self. En, omdat God nie kan wag om ons te ontmoet nie, omdat God nie kan wag om deur sy Gees langs om te kom sit nie, is aanbidding om die grootheid en teenwoordigheid van God te besing. Dit is om in God se stuurkajuit in te gaan en te sien waar Hy sit en waar Hy werk. Om te sien, raak te sien watter groot dinge Hy doen.

En is dit nie, broers en susters, eintlik wat ons nodig het nie? Om raak te sien, terwyl ons aanbid, watter groot dinge God doen nie. Dinge wat groter is as my probleme, groter is as my bekommernisse, groter is as my groot vrae?

Aanbidding, broers en susters, ware aanbidding, doen dit aan `n mens. Hoe kan ons sing, Heilig, heilig, heilig, sonder dat ons gesigte straal? Die feit van die saak is, broers en susters, `n helder gesig, `n gesig wat opleef, wat leef, wat verander, is die gesig van die mens wat werklik voor God kom staan het. Nadat God met Moses gepraat het (Eks34:33-35), moes hy sy gesig met `n doek bedek, so het dit gestraal,nadat Stefanus,  terwyl hy gestenig is, die hemel gesien het, het sy gesig geblink soos die van `n engel (Hand 6 en 7), en nadat Petrus Jesus se gesig daar op die berg gesien het, wou hy iets doen vir God. Hy het nie verstaan dat God eerder harte wil hê as tente nie, maar hy wou ten minste iets doen. Sy sien van Jesus se aanbidding, sy gesig, het hom aan die gang gesit.

En hieroor wil ek vanoggend my laaste opmerking maak. God verander nie net die gesigte van hulle wat opreg aanbid nie, Hy verander ook hulle wat ons so sien aanbid. Soos Petrus, toe hy daar op die berg Jesus se veranderde gesig gesien het, aan die gang wou kom, iets vir die Here wil doen, so gebruik God ons, ons wat waarlik kom aanbid, die Loods kom soek, en daarom verander word, ook.

En dit alles begin, broers en susters, so so eenvoudig. Wat dink u gaan deur die gedagte van iemand wat op `n Sondagoggend hier voor die kerk verbyry en `n massa klomp motors hier sien staan? Dalk: as so baie dit doen, moet ek ook miskien vir `n slag gaan kyk wat daar gebeur dat so baie soontoe gaan. Of, broers en susters, wat dink die een wat in die aand hier verbyry en `n paar verlate motors hier sien staan? Dalk: die arme paar dom bittereinders. Daar is so min hier want dit kan nie die moeite werd wees nie.

Soekendes, broers en susters, hulle wat nog net in die tempeldeure staan, verstaan nie eintlik wat aan die gang is in die huis van aanbidding nie. Hulle verstaan heel waarskynlik nie die betekenis van `n loflied, `n lied waarin en my sonde bely, of die belangrikheid van die Nagmaal nie. Maar hulle ken vreugde as hulle dit sien. En as hulle sien hoe God se teenwoordigheid moeë gesigte gesigte van vreugde maak, hoe aanbieding gesigte en mense verander, sal hulle dalk net graag ook God se gesig wil sien.

En terloops, is die teenoorgestelde nie ook maar net so waar nie? Watgebeur `n soekende as hy verveling op jou gesig sien? As jy frons, eerder as om werklik te aanbid? Waar ander duidelik vasgenael sit in God se teenwoordigheid,  maar jy is in jou eie klein ou werêldtjie besig? Waar ander na God se aangesig soek, en jy loer op jou horlosie?

En terwyl ek vanoggend so direk is, broers en susters, moet ek miskien dalk maar die een stappie verder gaan. Wat, broers en susters, leer ons kinders uit ons aanbidding? Sien hulle by ons dieselfde opgewondenheid as wanneer ons na `n sportwedstryd kyk? Sien hulle ons voorberei om te kom aanbid soos ons vir ons vakansie voorberei? Sien hulle dat ons gretig is om by God te wees in sy huis, en sien hulle ons wegloop presies soos ons daar aangekom het met dieselfde gesig, vol kommer, met styfgespande kake van die druk van die lewe? Hulle hou ons dop, broers en susters, glo my maar.

Ek sluit af: Kom u en ek kerk toe, broers en susters, met `n hart wat honger is om te aanbid? Jesus het met so `n hart na God op die berg gegaan. En daarom het Hy God gevind.

Mag ek u vanoggend op die hart druk om te wees soos Jesus? Berei jou hart voor vir aanbidding. Laat God toe om jou gesig en uitsig op die wêreld te verander deur ware aanbidding. Kom na sy huis, en nog voor die trappe, dring daarop aan in u hart om die Loods te sien. Te sien hoe Hy besig is om u lewe veilig deur die wolke en storms te lei. Mag dit voortaan ons elkeen se ervaring wees wanneer ons hier kom sit. Mag ons veranderd hier weggaan, en nie maar net tevrede nie.

Ook tydens die adventstyd. Mag u tydens hierdie advent, waar God weer in sy Seun na ons toe kom, so bewus word van God se teenwoordigheid in u lewe, dat u God opnuut sal vind, en opnuut, gelei deur die Gees, sal lewe om te word wat ons reeds in Jesus Christus is.

En bid God, elke dag, elke week, dat hulle wat U hier moet voortgaan, die woorde van Hom alleen sal ontvang om ware aanbidding vir u moontlik te maak.

Amen