Filippense 1:3-11


Wegbereiders vir Christus


 

Broers en susters en kinders in onse Here Jesus Christus:

Gedurende Adventstyd die vier weke voor Kersfees waarin ons die koms van die geboorte van Jesus Christus (die Messias) afwag gebeur dit baie (en ook heel tereg) dat daar gepreek word oor die rol van Johannes die Doper as die wegbereider van Jesus. Oor hoe Johannes die Doper die koms van Jesus na hierdie aarde toe, na ons as sondaarmense toe, bekendgemaak/verkondig het. Of, soos die evangelies dit uitdruk, hoe Johannes vir Jesus die weg voorberei het, sy wegbereider was. En dan ook met groot sukses, al het dit sy lewe gekos.

Opgrond hiervan, broers en susters, is die vraag wat ons vanaand wil vra die volgende: Wie, broers en susters, is vandag die wegbereiders vir Christus? Of, kom ons vra dit anders: Wie behoort vandag aan diewêreld te verkondig dat Jesus Christus op Kersdag vir ons mens geword het, dat God mens geword het vir sondaarmense? Wie behoort verder, broers en susters, die wegbereiders te wees vir Jesus Christus tot in die harte van mense in, maar ook tot in die lewe van die gemeenskap in waar u en ek woon?

Paulus se antwoord op hierdie vrae in Filippense 1:3-11 is eenvoudig en duidelik: die gemeente. Die gemeente as eenheid (saam), maar ook afsonderlik (ouers en kinders, oud en jonk, kerkraad en lidmate).

Goed, sal u sê, maar hoe? Ek is deel van die gemeente, ek wil `n wegbereider vir Jesus Christus wees, maar hoe doen ek dit? In die gedeelte beantwoord Paulus hierdie vraag soos volg: Gelowiges, kinders van God, gesamentlik en individueel, word wegbereiders vir Christus, en dra dit uit deurdat die evangelie `n gemeenskap tussen mense skep (in `n bepaalde gesin, werkkring, erediens, gemeente, kerk).

Hierdie gemeenskap wat gestig word, bestaan uit veel meer as normale verhoudings waar byvoorbeeld die vraag wie die ander is, wat hy/sy doen of besit, waarin hy/sy presteer, hoe belangrik hy/sy is, so uiters belangrik is. Nee, sê Paulus hier, hierdie gemeenskap lyk en is totaal anders: in hierdie gemeenskap is almal ontvangers van die genade, voorwerp van God se liefdesdaad en dus liefdesversorging, mense aan wie God groot dinge gedoen het, en daarom, mense wat moet/wil lewe vanuit die feit dat hulle hierdie evangelie gehoor en geglo het.

Interme van die Kersevangelie word dit só uitgedruk: Hierdie gemeenskap bestaan uit mense in wie God `n welbehae het; uit mense wat net soos hulle is deur God in Christus aangeneem is as sy kindersen daarom deur sy trou bewaar word (Joh 1:12); Jesus Christus self is hulle vrede (Ef 2:14), Hy bring en hou hierdie vreemde gemeenskap in die kerk aanmekaar.

Dit wil sê, dit is `n gemeenskap wat deur Christus geskep word, dit is gemeenskap met Hom, en daarom `n gemeenskap wat in die gemeente en wêreld moet voortgaan.

Op Kersdag het dit gebeur: Jesus Christus het na die aarde toe gekom, God met ons geword, en gemeenskap met Hom kom stig. Wat gevolg het is die kerk, en ook sy Woord, die Bybel, wat die evangelie bevat waaruit die kerk, sy kerk vandag nog leef.

En waar die kerk vandag hierdie evangelie hoor, en in die besonder in hierdie tyd die Kersevangelie, word `n wegbereidende gemeenskap weer en weer gestig, `n gemeenskap wat in verbondenheid aan Christus en aan mekaar hierdie Kersevangelie so moet uitdra dat Jesus Christus ook na ander kom, dat ander ook sal verstaan en sien waaroor Kersfees en die Kerstyd werklik gaan.

Om dit egter te kan regkry, broers en susters, moet ons goed verstaan dat die gemeenskap wat die hoor van hierdie Kersevangelie die koms van Jesus na hierdie wêreld toe stig, `n eiesoortige en unieke gemeenskap is. So eiesoortig en uniek is dat, indien dit sy eiesoortigheid en uniekheid verloor, dit nie meer moontlik is om wegbereiders vir Jesus Christus te wees nie.

Kyk wat sê Paulus in ons gedeelte oor die eiesoortigheid en uniekheid van hierdie gemeenskap waaraan ons behoort:

Die gemeenskap waaraan ons behoort en byvoorbeeld met mekaar in hierdie gemeente het en kan beoefen, bestaan alleen en sal alleen bly bestaan omdat dit ontvang is en ontvang word uit die troue hand van God. Daarom leef dit van die luister na die evangelie, en word dit gedra deur die gebed. Dit is verder `n gemeenskap wat nie bestaan omdat dit allerlei gebruike en tradisies het nie. Dit is ook nie `n gemeenskap wat bestaan omdat dit bepaalde gebruike tydens Kerstyd handhaaf nie.

Nee. Dit leef van die genade alleen: die genade wat juis in die Kerstydbeleef word daar waar die hart van God oopbreek in Jesus Christus, God se hart oopbreek in `n doodgewone stal, God se hart oopbreek in ongelooflike liefde.

Vir hierdie liefde, broers en susters, behoort ons elke dag met eerbied en danksegging voor God te buig, soos daar ook vertel word van die paar Russiese werkers wat spontaan, toe hulle eendag in die stof `n skildery van Jesus se geboorte gekry het, uit eerbied hulle hoede afgehaal het en voor die skildery neergebuig het.

Tweedens: Die gemeenskap waaraan ons behoort is `n gemeenskap wat sy aandeel aan die genade van God slegs kan behou, hoe vreemd dit ook al mag klink, deur dit weg te gee, deur ander `n aandeel daaraan te gee. Kersfees kan nooit alleen gevier word nie. Gemeenskap kan nooit gemeenskap wees as ek alleen is nie. Gemeenskap is daar waar, omdat God ons dra, ons genadig is en ons versorg, ander my dra en ek ander, ek genade aan ander gee en ander aan my, ek ander versorg en ander my (soos Paulus hier in die tronk).

Dit wil sê, broers en susters, Kersfees is alleen werklik Kersfees, en ons is alleen die wegbereiders van Christus se koms na die wêreld gedurende hierdie Kersfees, wanneer die liefde wat in God se hart virons in `n stal oopgebreek het, ook in ons harte oopbreek vir ander naby aan my en by my.

Derdens: Hierdie gemeenskap staan onder die dissipline van die liefde. En omdat hulle onder die dissipline van die liefde staan, sê Paulus, bestaan hierdie gemeenskap uit mense wat groei in fyn aanvoeling en begrip. Fyn aanvoeling en begrip in terme van die leef van die liefde, maar ook oor waaroor dit werklik tydens Kersfees behoort te gaan.

Geliefdes, kom ons vat saam: hoe vier die wêreld (en soms ook gelowiges) in ons tyd Kersfees? Kom ek noem net `n paar voorbeelde:

 Daar is eerstens die romantisering/sentimentalisering van Kersfees: deur die jaar is daar onder mense geweldige onvrede, gesinne verwoes mekaar, gelowiges lewe sonder God. Maar op Kersdag heers daar `n sogenaamde vrede, is gesinne ewe skielik in hierdie `onheilige` vrede ewe rustig saam, en praat almal wat die hele jaar van God vergeet het, oor God. Dit is mos die gees van Kersfees;

Daardie materialisering/kommersialisering van Kersfees: behoeftes word geskep, en verkope styg: Die fees van aanbidding in `n stal word `n fees in die handelshuis en inkopiesentrums van elke dorp en stad;

En daar is die sosialisering van Kersfees: die `welbehae in die mens`lei daartoe dat allerlei organisasies en individue meteens betrokkeraak by Kersaksies gerig op allerlei groepe, sake en individue. So word baie mense bevry van hulle slegte gewete oor hulle betrokkenheid by mense die res van die jaar. Die vraag is net: gaan dit in hierdie aksies oor toewyding aan die Heer van die fees, of oor die mens by  die fees?

Nee, broers en susters. So vier kinders van God nie Kersfees nie. Op Kersdag het God na ons toe gekom. Hy het gemeenskap met ons kom stig. Hy het aan ons die genade kom gee. So het ons die voorwerp van God se liefdesdaad en lief­desversorging geword, mense aan wie God groot dinge doen.

Hulle wie hierdie evangelie gehoor het, en dit werklik glo, sal `n wegbereider vir Christus word. `n Wegbereider wat, soos God nahom/haar toe gekom het, so sal lewe dat God ook na ander toe kom. Dat Jesus Christus hierdie Kersfees ook weer na die wêreld toekom, werklik na die wêreld toe kom.

En dit alleen sal ons regkry indien ons werklik na die Kersevangelieluister, en weer hoor van `n God, ons God, wie se hart vol van liefde vir sondaarmense eenvoudig net moes oopbreek. En dieselfde in ons harte gebeur. En ons geskenke aan ander daarom geskenke van liefde sal wees, nie alleen in Adventstyd of Kersfees nie, maar die helejaar.

Dan het Christus werklik ook in ons tyd en gemeenskap na ons toe gekom. Soos 1 Johannes 4:12 dit stel: Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons.

Wegbereiders is mense wat roep, in alle omstandighede: God is God-met-ons!

Wegbereiders is mense wat van die Kersgety `n jaargety maak: by hulle is daar altyd vrede en liefde vir mekaar en ander.

Wegbereiders is soos die lentebloeisels wat deur die winterslaap bars. Tussen al die bruin en doodsheid staan hulle uit soos grasgroen bloeisels van lewe. So bring hulle Jesus Christus elke dag na die wêreld. So maak hulle dit vir ander moontlik om iets van God se liefde, versorging en vrede raak te sien en te ervaar.

Amen