Galasiërs 5:13-26


Besef ons werklik dat ons deur Christus vrygemaak is?


 

Broers en susters in onse Here Jesus Christus:
Verskeie Protestantse kerke, of dan, kerke wat stam uit die Reformasie, vier vandag reg oor die wêreld Bartolomeussondag. Gedurende die nag van Saterdag 23 en dag van Sondag 24 Augustus 1572 wat sedertdien bekend staan as Bartolomeussondag is ongeveer 5 000 tot 10 000 Christene vermoor deur die destydse maghebbers in Frankryk, en in die dae wat gevolg het, 'n verdere 25 000. Die redes wat tot hierdie gebeure gelei het is legio, maar in wese het dit daarop neergekom dat hierdie Protestante/Christene vermoor is omdat hulle in Jesus Christus geglo het as die enigste weg tot verlossing, en hulle daarom nie kon vereenselwig met die Roomse Kerk en Roomse oortuiginge van die tyd nie.

In die volgende jare wat gevolg het, het die Christene in Frankryk verdere felle vervolging beleef, en bloedige godsdienstige oorloë is teen hulle gevoer in die naam van God. Die interessante is egter dat hierdie mense hulleself as vry beskou het, 'n vryheid wat gegrond was in 'n persoonlike geloofsverhouding met Jesus Christus. Hulle vryheid was dus nie afhanklik van en geleë in die ontvlugting van die onderdrukkende politieke strukture van 'n bloeddorstige Franse owerheid nie.

Nee, al was hulle totaal onvry, onvry om hulle geloof uit te lewe, onvry om Christus te kon aanbid waar en wanneer hulle wou, met ander woorde, Christus te kon aanbid soos ons vanoggend hier rustig kan doen, in ons eie taal, saam met ons eie mense, en op ons eie manier, was hulle vry. En het hulle daarom vas en sterk gestaan regdeur alle vervolging en teenkanting heen.

Om dan terug te dink aan die vervolging van hierdie gelowiges, en by implikasie alle Christene wat oor alle tye heen moes lei ter wille van hulle geloof, vier ons jaarliks op die naaste Sondag aan 23 en 24 Augustus Bartolomeussondag.

Die vryheid van hierdie Christene, 'n vryheid in 'n onvrye wêreld, broers en susters, bring ons dan vanoggend ook by ons teksvers uit, te wete Galasiërs 5:13: `]ulle is tot vryheid geroep'. Oor hierdie vryheid waartoe ons opgeroep word en kom ek sê voorlopig, in die omstandighede waarin ons deesdae leef wil ek vanoggend met u handel onder drie hofies/opskriffies: die oorsprong van die vryheid waarvan Paulus hier praat en waartoe ons opgeroep word, die inhoud van hierdie vryheid, en hoe ons hierdie vryheid gelowig behoort uit te leef.

Dus, eerstens die oorsprong van hierdie vryheid waartoe Paulus ons in hierdie vers oproep. Aangesien ons almal in sonde ontvang en gebore word, broers en susters, is ons almal van nature slawe, dit wil sê, ons is van nature onvry. En wie onvry is, is nie wat God hom oorspronklik gemaak het nie, en doen nie dit waartoe God hom bestem het nie.

Die slaaf van die sonde is nie kind van God nie en handel nie soos 'n kind van God nie. Hy het God en sy naaste nie lief nie, en hy kan ook nie, want hy het net homself lief, en is die slaaf/gevangene van sy eie begeertes. Ook gebruik hy altyd almal en alles tot sy eie voordeel, en is daarom 'n vyand van almal en 'n gevaar vir almal.

Uit hierdie toestand, broers en susters, het Jesus Christus ons kom bevry. Daarom is vryheid waarvan die Bybel praat dus in die eerste plek allereers en ten diepste 'n wegneem van ons sonde en die herstel van 'n verwoeste lewe. En omdat vryheid 'n geskenk van Christus is, is Hy daarom die oorsprong van ons vryheid. Want ons was dood in die sonde, maar in Christus het ons tot 'n nuwe lewe opgestaan. Waar ons vry is, vry van die sonde, vry om weer te word waarvoor God ons bestem het en waartoe Hy ons geroep het, en, baie belangrik, vry van nog baie ander dinge, en vry vir baie ander dinge. Hierby kom ons later.

Dus: Jesus is die oorsprong van ons vryheid. Maar wat is die inhoud van hierdie vryheid? Hierdie vryheid beteken nie, broers en susters, dat die mens nou kan kies wat hy wil doen en wat hy nie wil doen nie. Want die vryheid wat Jesus ons bied, is nie willekeur nie, ook nie patrone of strukture of noodwendig bevryding van bepaalde patrone of strukture nie dit het ons immers gesien uit die ervaring van hulle wat byvoorbeeld in onder andere Frankryk so intens vir hulle geloof gely het.

Nee, die inhoud van hierdie vryheid is 'n Persoon Jesus Christus. Hy het homself aan ons onvoorwaardelik aan 'n kruis gegee, en vra daarom van ons onvoorwaardelike diens aan Hom. Hy gee Hom aan ons, maar ook ons naaste aan ons, en vra 'n liefdevolle bereidheid tot diens.

Anders gesê: ons vryheid in Christus is 'n vryheid tot liefde: liefde tot Christus en liefde vir mekaar. Wat meer is: as Christus my Heer is en ek sy slaaf (nie meer slaaf van die sonde maar slaaf van Christus), en Christus is ook elkeen van u se Heer en elkeen van u sy slaaf, dan is ons slawe van mekaar. En moet ons dus bereid wees om mekaar onvoorwaardelik te dien.

Dit is tog wat Paulus hier sê: in die gewone lewe is daar slawe en here, maar in die Christelike lewe is daar net sprake van slawe. Jesus Christus was ons slaaf aan die kruis, want daar het Hy ons gedien, nou moet ons Hom dien, want ons is sy slawe, en by implikasie is ons slawe van mekaar.

En as dit so is, sê Paulus, sal ons mekaar nie byt en verskeur nie. Of, as ons letterlik vertaal wat daar staan, ons sal mekaar nie soos slange byt en vernietig nie. Ons is nie slange vir mekaar wat mekaar wil vergiftig nie. Ons is slawe van mekaar wat mekaar in liefde dien. Want mense wat deur en in die bloed van die lam gewas is, kan nie en mag nie meer bloeddorstig wees nie.

Dus: die oorsprong van ons vryheid is Christus, en die inhoud daarvan is diens aan God en mekaar in liefde. Hoe moet ons dit gaan uitleef?

Ons leef dit in die eerste plek uit in die ruimte wat God vir ons as gelowiges gegee het, die gemeente waaraan ons behoort. Waar ons in die eerste plek ons middele en kragte tot beskikking van sy gemeente (d w s sê, nie die predikant se gemeente, kerkraad se gemeente of my gemeente nie, maar God se gemeente) en kerk stel. Want die slaaf van die sonde dien homself, die slaaf van Christus dien Sy gemeente en hulle wat Hy vir ons in hierdie gemeente gegee het.

Ons leef hierdie vryheid uit deur werklik deurdag te antwoord op elke beroep wat God op my deur die gemeente maak. As ek tot kerkraad verkies word, roep God. Roep God op tot diens. En as ons positief geantwoord het op die roepstem van God deur die gemeente, hoe behoort ons ons vryheid dan uit te leef? Eenvoudig: deur in te spring, saam te werk en saam te doen. Deur eenvoudige dinge te doen soos vergaderings by te woon, besluite uit te voer, en ons lidmate in ons wyke te dien.

Verder leef ons ons vryheid uit om ons wykskerkraad vriendelik in ons huis te ontvang, hulle is immers die draers en brengers van die Woord. En daar, in vryheid, te praat oor dinge wat ons pla, voorstelle te maak tot verbetering van die gemeentelike lewe en struktuur.

Ook lewe ons ons vryheid uit deur beloftes aan God gemaak te gaan uitleef. Dink maar aan die meeste van ons se doopbelofte, en feitlik ons almal se beloftes toe ons belydenis van geloof afgelê het. En so kan ons verskeie voorbeelde opstapel van hoe ons die keuse het om, in vryheid, te dien en te leef.

Hoe, broers en susters, het ons in die verlede ons vryheid, in die algemeen, maar in besonder in die gemeente uitgeleef? Kan ons werklik sê dat ons ons middele en kragte vir die Here gegee het? Wat het ons gedoen toe God ons deur die gemeente geroep het? Ons wat positief geantwoord het, hoe het ons ons vryheid gaan uitleef? Kan ons werklik sê ons het soms nie onnodig nagelaat nie? En hierby sluit ek myself volledig in.

Hoe het ons mekaar gedien? Soos slawe, of soos mense wat mekaar se bloed soek, dit, terwyl ons sê Jesus se bloed het ons skoongewas? Hoe het ons van mekaar verskil? Hoe het ons ons konflikte opgelos? Hoe het ons saam beplan? Hoe het ons saam gedink? Het ons soms enigsins wel saam gedink? Hoe het ons as slawe van mekaar vir mekaar ruimte gemaak?

Een saak, broers en susters, is vir my persoonlik baie tragies. Ons lewe in 'n tyd waar baie vryhede van ons weggeneem word. Kom ons wees nou maar eerlik hieroor. In ons daaglikse wandel praat ons dikwels oor hierdie dinge. Ons gesprekke handel oor ons eie mense wat werk verloor, oor ons skole, oor ons taal, oor die ekonomie, oor die geweld om ons. En ons staan en voel magteloos. Totaal onvry. Want wat kan ons maak as ons almal slawe van die ekonomie of slawe van geweld geword het, slawe in die sin dat ons daaraan uitgelewer is en die gevoelenheid het dat ons niks daaraan kan doen nie, en dat ander, wat moet, dit ook nie doen nie? So, wat is tragies hieraan? Dit: die dinge waaraan ons soms niks kan doen nie lei tot 'n gevoel en gesindheid by ons wat maak dat die dinge wat ons nog wel kan doen, ook nie meer gedoen word nie. En dit is juis wat die viering van hierdie dag onder andere vir ons wil sê: die gelowiges in Frankryk was vasgevang in 'n politieke struktuur van vervolging, tirannie en uitbuiting, maar hulle vryheid om Christus en mekaar te dien kon niemand van hulle wegneem nie. En het hulle dit bly uitleef.

Vandag is dit met ons min of meer ook so. Ons is van baie dinge onvry, ons word aan baie dinge uitgelewer, ons is dikwels die objekte van diefstal, regstellende aksie en geweld, of dan ten minste baie naby aan ons. Maar ons is nie onvry om mekaar in liefde te dien en te dra nie, broers en susters! Niks keer ons om slawe van Christus en mekaar te wees nie. Doen ons dit nog, broers en susters? Doen ons dit nog in hierdie gemeente? Doen ons dit nog vir mekaar, vir almal, nie een uitgesluit nie?

Want ons kan, ons is vry! Jesus het ons vry van onsself gemaak, vry vir mekaar, vry vir Hom! Vry van die mag van die sonde. Vry om te kan kies vir Hom. Vry om te kan lewe! Ja, in ons lewe vandag!

Ek wil vanoggend, broers en susters, afsluit deur 'n baie persoonlike oproep tot u almal te doen. In u teenwoordigheid, en met groot erns, verbind ek myself weer volledig en sonder enige voorbehoud, om u een en elk te dien soos Christus van my verwag. Dankie dat u in die verlede verstaan het en vergewe het waar ek nagelaat het. Dankie dat u verstaan het dat almal gebreke en tekortkominge het. Dat ons verskeie kere openlik, reguit en in liefde met mekaar kon praat oor dinge wat gepla het. En dit kon oplos. Omdat ons slawe van mekaar is, diensknegte van ons hemelse Vader, en van mekaar.

Daarom, broers en susters, neem ek die vrymoedigheid om, in die naam van ons almal se Here, u op te roep om dieselfde verbintenis te maak. Geen bydrae of stukkie diens is ooit te klein of onbelangrik nie. Kom ons vat mekaar se hande, kom ons gebruik ons vryheid, in 'n soms baie onvrye wêreld, om vir mekaar te doen waartoe ons geroep is en wat vir ons moontlik is. Kom ons eer die wat hard werk en ons voorgaan. En kom ons help hulle. Maar kom ons spring in en begin self te doen. God het u almal nodig, nie net 'n paar van ons nie.

Kom ons laat nie toe dat dinge daarbuite dinge hierbinne verwoes nie. Hier is ons vry, hier kan ons dien, hier staan niks in ons pad nie. Want as ons dit nie doen nie, broers en susters, gaan ons ondergaan. En as ons ondergaan, sal dit net wees omdat ons nie van ons vryheid om te dien, gebruik gemaak het nie.

Julle, broers en susters, is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid gebruik as verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Ja, dra mekaar, en mekaar se laste, en gee so uitvoering aan die wet van Christus.

Hierdie vryheid kan niemand van ons wegneem nie, net onsself.
Amen