1 Petrus 2:18-25


Juis hiervoor is julle geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het


 

Geliefdes van ons Here Jesus, volgens die kerklike kalender word die gebeure van die 23ste en 24ste Augustus 1572 vandag herdenk. Daardie gebeurtenisse staan bekend as Bartolomeusnag. Daarom kom die teksvers vir ons prediking uit 1 Petrus 2 vers 21: “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.”

Broers en susters, ek is seker toe ons hierdie gedeelte gelees het, het baie van ons aan een of ander situasie gedink waar jy dalk ook onregverdig en onbillik behandel is. Ja, hierdie riglyne wat vir ons gegee word is nie net van toepassing op jou verhouding met jou baas of hoof by die werk nie. Nee, dit gaan hier oor jou verhouding met ander gesagdraers. Dit is maklik om onderdanig en gehoorsaam te wees aan gesagdraers wat billik en regverdig is. Máár, om egter onderdanig en lojaal te wees teenoor onredelike gesagdraers of gesagstrukture, gaan teen ’n mens se natuurlike geaardheid in. En dít is juis wat God van elkeen van ons vra! Dit is genoeg om jou neerslagtig en pessimisties te maak. Ja, dit herinner jou ook baie aan die woorde van die bekende gedeelte uit Psalm 73 verse 13 en 14: “Dat ek die kwaad vermy het en met ’n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf.”

Die lyding van gelowiges is iets waarmee die kerk nie onbekend is nie. Regdeur die geskiedenis van die kerk kry ons voorbeelde van lyding, vervolging en ... ja, selfs dood. Die ergste is dat hierdie lyding en dood die gevolg van die opregte belydenis van die geloof in Jesus Christus was. Ja, mense het tot geloof in hierdie Jesus Christus gekom. Hulle lewens is in so ’n mate verander dat hulle nie anders kon nie as om dit te bely. Stilswye sou verraad beteken.

Maar hulle moes ongelukkig die hoogste prys hiervoor betaal! Ja, mense is gemartel, vervloek, geslaan en doodgemaak net omdat hulle hierdie wonderlike evangelie van vrede aangehang en verkondig het. Stephanus was die eerste van hierdie martelare. Hy is gevolg deur ’n lang lys van martelare, en langs die pad van die kerk deur eeue in die wêreld lê die grafte van derduisendes soos hy. Net so is hierdie verhaal van 1572 vir ons ook ’n bewys van gelowiges se belydenisse, en die gevolge daarvan. Maar hoe pas hierdie verhaal vandag by ons eie geskiedenis in?

Gemeente, kom ons kyk vereers na die geskiedenis van daardie aande in Augustus 1572. In die nagte van die 23ste en 24ste Augustus 1572, asook die paar nagte wat daarna gevolg het, is daar in Parys en die meeste van ander groot Franse stede ongeveer 10,000 Franse Hugenote vermoor. Dit was die gevolg van die aanhitsing en die opsweping van die Roomse koninginmoeder Catherine de Medici. Sy is deur haar seun, Karel IX, opgesweep om die Hugenote te vermoor. Sodoende kon hulle terselfdertyd ook ontslae raak van die leier van die Hugenote, Gaspard de Coligny. Ja, hierdie Franse Hugenote staan ook in die lang ry van die martelare. Hulle is maar net deel van die groter geheel martelare soos daar in Openbaring 6 vers 9 beskryf word: “Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het.” Tog, die omstandighede van die Hugenote was heeltemal anders as dié van die vroegste Christene in die tweede eeu. Hoekom?

Waar die vroegste Christene deur die heidense owerheid van Rome vervolg en om die lewe gebring is, is hierdie bloedbad van Bartolomeusnag deur mense, wat hulleself Christene noem, veroorsaak. Hierdie gebeure laat ons opnuut besef dat die aanspraak op kerklikheid en christelikheid nie kan standhou nie. ’n Kerk of christelike gemeenskap kan nie in die Naam van Jesus Christus mense vervolg en doodmaak, en dan nog Kerk wil wees nie! Het die Here Jesus dan nie self gesê dat diegene wat nie vir Hom is nie, teen Hom is? Maar die teendeel is net so waar: Wie vir Jesus is, kan mos nie teen Hom wees nie! Hoe is dit dan moontlik dat een groep Christene ’n ander groep Christene uitmoor? Hoe rym hierdie feite met die belydenis van ’n gelowige dat Christus die ware Vredevors is? Wel, volgens Petrus is die Christen daartoe geroep om, ter wille van sy geloof in Jesus Christus, lyding te verdra.

Geliefde broers en susters, natuurlik praat die apostel Petrus van ’n spesifieke soort lyding. In ons gelese gedeelte is hy besig om met die gelowige slawe te praat. Hy is besig om vir hierdie slawe, wat terselfdertyd Christene is, aan te dui watter lewenshouding hulle behoort te hê.

Ons moet in gedagte hou dat die vrouens en slawe van destyds die grootste gedeelte van die gemeentes uitgemaak het. Hulle is egter nie as belangrik gereken nie. Slawe het dus geen regte gehad nie. Hierdie slawe word nou deur Petrus vermaan om aan hulle eienaars gehoorsaam en onderdanig te wees, ongeag die gesindheid van die eienaars. As Christenslawe in die huishoudings van heidense base sou hulle juis aan beledigings, en onredelike behandeling blootgestel gewees het ... om nie eens van lyfstraf en marteling te praat nie. Omdat hulle dan aan onregverdige lyding onderwerp was, het dit gewoonlik ook bygedra tot sielesmart en gewetensnood. Nou bemoedig Petrus hulle met die woorde dat hulle, te midde van lyding, moet weet dat God by hulle is. God ondersteun hulle in hulle lyding, en daarom sal hulle deur die krag van God daardie lyding kan oorwin.

Nou was daar egter die neiging by sommige van die slawe om moedswillig te wees, hulle heidense eienaars uit te tart deur opstandigheid en ongehoorsaamheid. Wanneer hulle dan deur hulle sogenaamde “wrede en ongenaakbare” eienaars gestraf of selfs gemartel word, het hulle laggend grootmeneer by die ander slawe gaan spog oor hoe hulle daardie lyding weerstaan en verdra het. Hierdie gewoonte is deur Petrus afgekeur en veroordeel. Immers, watter eer en roem skuil daar vir hulle in so ’n optrede waar hulle wél kwaad gedoen het en bloot regverdig gestraf is? Wat Petrus eintlik met hierdie vraag in hulle koppe wou tuisbring, is dat hulle slegs daarop kan roem as hulle onregverdig gestraf word. Met ander woorde, die dag wanneer hulle hulle werk goed en pligsgetrou gedoen het, en dan wél deur die heidense eienaars geslaan of gemartel word, en steeds blymoedig daaroor kan wees, kan hulle daarop roem. Dít is presies wat die Here Jesus bedoel het toe Hy die volgende gesê het: “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet ... Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ’n groot beloning wees: Julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes” (vgl Luk 6:32-36).

Maar, geliefde gemeente, met hierdie vermaning wou Petrus nie sommer ’n morele kode vir die slawe opstel nie. Nee, hierdie oproep van hom word veranker in Jesus Christus. Hoekom moes hulle juis onregverdig ly en boonop daaroor bly wees? Die rede word gegee: Dit is die gehoorsame navolging van die voorbeeld van Jesus! Ja, die Here Jesus het dit uitdruklik in Markus 8:34 gesê: “As iemand agter My wil aankom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg ...” Omdat Jesus Christus onregverdig in die plek van die sondaarmens gely het, moet die Christen vandag ook bereid wees om onregverdig vir sy geloof in Jesus te ly.

Oor hoe jy dit as gelowig moet doen, kan daar ook geen onduidelikheid wees nie. Petrus gebruik vier voorbeelde om vir ons te wys dat Jesus sélf die voorbeeld gestel het: Eerstens, Jesus het nie sonde gedoen nie ... immers, Hy het nie ’n leuen aan die gesagsdraers vertel om uit die moeilikheid te kom nie. Ja, dink maar aan sy arrestasie in die Tuin van Getsemane (vgl Joh 18:4-8); tweedens, Jesus het nie teruggevloek toe die soldate op Hom geskel en gespoeg het nie (vgl Mat 27:27-31); derdens, Jesus het nie allerhande dreigemente uitgeskreeu en geweld met geweld beantwoord nie. Ja, selfs nie al het Hy die mag gehad om sy engelemagte aan te roep nie (vgl Mat 26:53). Nee, die vierde voorbeeld wat vir ons voorgehou word, is ook wat daar van ons verwag word! Jesus het sy saak in die hande van sy hemelse Vader gelaat. Hoekom? Omdat God se oordeel regverdig is! Ja, ’n Christen móét dit weet: As mense jou onregverdig behandel of straf, is jou saak in die hande van God! God sal beskik!

Miskien is dit ’n baie ver paadjie om te stap vanaf Petrus se uiteensetting van die slawe se lyding en ellende onder onregverdige heidense base, tot by daardie moorde op die Hugenote van Augustus 1572. Tog, dieselfde norme en beginsels geld vir gister en vandag ... ja, selfs vir môre. Wat waar was vir die Christenslaaf destyds, was waar vir die Hugenote ... en wat waar was vir die Hugenote, is ook waar vir ons vandag. Soms is lyding deel van ons lewe. Immers, Jesus het ons nie beloof dat daar nie swaarkry of ellende of lyding sal wees wanneer ons sy Naam bely nie. Nee, die teendeel is eerder waar! Die Here Jesus het ons baie duidelik daarteen gewaarsku: “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê” (Mat 5:11). En op ’n ander plek waarsku Jesus soos volg: “... hulle [sal] julle gevange neem en vervolg. Hulle sal julle oorlewer vir verhoor in die sinagoges en vir opsluiting in gevangenisse; hulle sal julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam” (Luk 21:12). Ja, ’n Christen sal beslis nie vervolging , verdrukking en lyding ... ja, selfs die dood, kan ontvlug op grond van jou geloof in Jesus Christus nie! Nee, inteendeel, dit is juis op grond van hierdie Naam dat ons deur die wêreld gehaat en vervolg word (vgl Mat 24:9).

Broers en susters, omdat Jesus dit aan God oorgelaat het om te vergeld, net so moet die gelowige slaaf, die Hugenoot en die moderne Christengelowige ook nie self aan vergelding dink nie, maar dit oorlaat in die hande van die Here God. Luister maar na die goeie raad van die Spreukeskrywer in Spreuke 20 vers 22: “Moenie sê: ‘Ek wil my wreek oor die kwaad wat aan my gedoen is’ nie; vertrou op die Here, en Hy sal jou help.”

En as ons die nagedagtenis van die geloofsmartelare eer en respekteer, is dit veral omdat hulle hierdie groot waarheid nie net raakgesien het, maar ook uitgeleef het. Ja, hulle het juis op God vertrou toe dit uiters belangrik was ... hulle geloof het nie verswak of selfs geknak in die aangesig van die dood nie! Tog, hierdie geloof en krag was nie uit hulleself nie. Nee, saam met die psalmdigter kan hulle ook die belydenis maak: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd” (Ps 73:26). Deur sy Woord en Gees het God juis vir hulle geloof geskenk en dit versterk, sodat hulle die lyding kon verduur. Daarom is ons nagedagtenis aan hulle onlosmaaklik verbind aan die krag van die evangelie van die Vredevors, Jesus Christus.

Maar nou sal ons sien dat hierdie dinge baie keer in ons eie lewens ook waar is. Hoeveel maal het ons nie al gedreig om met wapengeweld die regering van die dag omver te werp nie? En dink net aan die kere wat ons woedend geword het oor sekere morele waardes wat afgebreek word, soos die aborsiewet; die wet op pornografie en die dwelms ... en dit nogal deur mense wat daarop aanspraak maak dat hulle sogenaamde Christene is! Hoe is dit tog moontlik? Is daar dan verskillende waardes vir Christene? Geld een stel reëls vir my en ’n ander stel vir jou? Nee, die God van destyds is ook die God van vandag. Daarom word daar van ons verwag om in sy Seun se voetspore te volg, ongeag van hoe graag ons die wêreld se haat met dieselfde vurigheid wil beveg. Die Kerk het tog net die Woord van God as die enigste wapen teen hierdie bose wêreld. Immers, dit is skerper as enige swaard met twee snykante ... dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart (Heb 4:12).

Gemeente, vandag nog word dieselfde evangelie van Jesus Christus verkondig. Ja, selfs vandag nog word dit deur die wêreld as ’n dwaasheid bestempel. Dit is omdat die belydenis in die Naam van Jesus vir hierdie wêreld ’n verleentheid is. Maar saam met Paulus sal ons bely: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo ...” (Rom 1:16).
Amen