DIE APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS

Historiese oorsig
In 'n legende uit die vierde eeu word daar vertel dat hierdie belydenis deur die apostels in Jerusalem saamgestel is, net voordat hulle op hulle sendingreise vertrek het.

Elke apostel sou dan 'n artikel bygedra het.

Vanweë dié legende het die belydenis ook die populêre naam, Die Apostoliese Geloofsbelydenis, gekry.

Die volledige belydenis, soos ons dit vandag ken, kom egter die eerste maal in die agste eeu voor. Onderdele van die belydenis is baie ouer en word al in die vierde eeu in Rome aangetref, terwyl sommige navorsers die oorsprong van die belydenis so vroeg as die jaar 150 stel.

Hoewel die oorsprong van die belydenis nie meer met sekerheid vasgestel kan word nie, is dit duidelik dat dit uit die gemeente Rome afkomstig is. Vroeg in die Middeleeue word dit al in sy huidige vorm gebruik by die doop van volwasse bekeerdes. Ongeveer in dieselfde tyd word dit ook 'n vaste onderdeel van die godsdiensoefening.

Hierdie belydenis wat in die Latynse of Westerse kerk algemeen in gebruik is, word nie in die Griekse of Oosterse kerk gebruik nie. Met die Kerkhervorming is die belydenis as 'n vaste element van die godsdiensoefening behou en verder word dit ook uitgelê in die kategismusse wat deur die Reformatoriese vadere opgestel is.

TEKS
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
Die wederopstanding van die vlees, en 'n ewige lewe.