DIE GELOOFSBELYDENIS VAN NICEA

Historiese oorsig
Hierdie belydenis wat in Artikel 9 van die Nederlandse Geloofsbelydenis genoem word, het 'n interessante geskiedkundige agtergrond. Die Geloofsbelydenis van Nicea is in 325 deur 'n konsilie van biskoppe van die hele kerk, onder voorsitterskap van keiser Konstantyn, opgestel. Met dié belydenis wou die vadere die ware geloof suiwer omlyn teenoor die dwaalleer van Arius en sy volgelinge. Hierdie belydenis is betreklik kort en het geëindig met die woorde: ‘... en in die Heilige Gees.’ Daarna het 'n viertal veroordelings van die leer van Arius gevolg.

Na die aanvaarding van hierdie belydenis was daar 'n uitgerekte stryd oor die woordgebruik en die inhoud van die belydenis. By die Konsilie van Konstantinopel is die belydenis van Nicea herbevestig. Maar die Konsilie het waarskynlik nié 'n teks van die belydenis van Nicea voor hom gehad nie, maar wel die teks wat ons vandag gebruik. Hierdie teks het basies dieselfde inhoud as dié van Nicea, maar is uitvoeriger en waarskynlik afkomstig van 'n belydenis wat in Jerusalem gebruik is. Die verskil met die oorspronklike belydenis van Nicea is dat hier die uiteensetting oor die persoon van Jesus Christus uitvoeriger is; dat die gedeelte oor die persoon en werk van die Heilige Gees ook meer sê, terwyl die artikels oor die kerk, die opstanding en die ewige lewe, nie by die Nicea-belydenis voorkom nie.

Vanaf 451 word hierdie geloofsbelydenis, volgens die oordeel van die Konsilie van Chalcedon, beskou as die amptelike geloofsbelydenis van Nicea én Konstantinopel. As sodanig is dit dan in die Oosterse en Westerse kerk aanvaar en reëlmatig in die godsdiensoefening gebruik.

In die Westers-Latynse kerk is gedurende die Middeleeue die woorde ‘... en die Seun ...’ amptelik toegevoeg tot die artikel wat lui: ‘Ons glo ... (en) in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan.’ Hierdie toevoeging het tot 'n skeuring tussen die Oosterse en Westerse kerk gelei, omdat die Oosterse kerk hierdie toevoeging nie wou aanvaar nie.

Gedurende die Hervorming is hierdie belydenis gehandhaaf as deel van die erfenis van die kerk, hoewel dit geen vaste plek in die godsdiensoefening gekry het nie. Die rede hiervoor was dat die hervormde vadere geoordeel het dat alleen dié belydenis wat in die kategismus uitgelê word en dus deur almal geken word, in die godsdiensoefening gebruik kan word. Omdat die inhoud en betekenis van hierdie belydenis van Nicea en Konstantinopel vandag in verskillende boeke en geskrifte uitgelê word, word hierdie belydenis in ons godsdiensoefening ook gebruik as 'n alternatief vir die Twaalf Artikels (Apostoliese Geloofsbelydenis).

TEKS
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;
en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;
God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;
deur wie alle dinge ontstaan het;
wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;
en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;
wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;
wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.
Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;
ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.