DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS VAN 1561

Die historiese situasie
In die nag van 1 of 2 November 1561 is 'n pakkie oor die muur van die kasteel by Doornik, in die suide van Nederland gegooi. In die pakkie was 'n gedrukte eksemplaar van die Nederlandse Geloofsbelydenis en 'n brief aan koning Filips II, die koning van Spanje wat ook die heerser van die Nederlande was. In dié brief het die vervolgde Calviniste in Suidelike Nederlande 'n beroep op die koning gedoen om die vervolging van die Calviniste te staak. Om aan te toon dat die Calviniste nié ketters was of die bestaande burgerlike orde omver wou werp nie, is die Geloofsbelydenis ingesluit om aan te toon dat die Calviniste 'n suiwer Bybelse leer verkondig en aanhang.

Die opsteller van die Geloofsbelydenis was Guido de Brès (1522-1567), 'n jong Calvinistiese predikant wat vanaf 1559 in Doornik gewoon het en daar die evangelie verkondig het. Vanweë die geloofsvervolginge deur die Roomse owerhede, moes hy voortdurend rondswerf en kon hy baie selde in die openbaar preek.

Ter wille van sy vervolgde geloofsgenote het hy in 1561 die Geloofsbelydenis opgestel en daarvoor klaarblyklik die Franse Geloofsbelydenis van 1559 as voorbeeld gebruik. Aangesien daar nog geen vaste Protestantse kerklike organisasie in daardie tyd was nie, is die Geloofsbelydenis nie voor sy publikasie kerklik goedgekeur nie.  De Brès het egter met die opstel van die Belydenis verskillende kerklike leiers geraadpleeg. Hierdie Belydenis het so duidelik die geloofsopvatting van die vervolgde Calviniste vertolk, dat dit waarskynlik reeds in 1563 op 'n geheime Sinode van die kerke onder die kruis, dit wil sê van die vervolgde Calvinistiese gemeentes, as Belydenis aanvaar is. In 1566 het die Sinode te Antwerpen die Belydenis volledig hersien en die teks van die Belydenis, soos ons dit vandag nog besit, grotendeels vasgestel.

Oorspronklik is die Belydenis in die Franse taal opgestel, maar reeds in 1562 is dit in Nederlands vertaal, waarskynlik deur Hermanus Moded. 'n Latynse vertaling word die eerste maal in 1581 te Genève gepubliseer. Die Nederlandse Geloofsbelydenis, in sy Nederlandse vertaling, is vanaf 1571 deur die Nederlandssprekende Calvinistiese Hervormde Kerk as Geloofsbelydenis aanvaar. Daar is die Nederlandse vertaling as die amptelike teks aanvaar wat elke predikant, voor sy ampsaanvaarding, met instemming moes teken. Die Sinode van Dordrecht (1618-1619) het die teks van die Geloofsbelydenis die laaste maal hersien en gefinaliseer.

Verweerskrif aan koning Filips II as voorwoord toegevoeg tot die Nederlandse Geloofsbelydenis
Van die gelowiges in die Nederlande wat na die ware Hervorming van die evangelie van ons Here Jesus Christus wil lewe, aan die onoorwinlike koning Filips, hulle opperheer.

Indien ons toegelaat was, genadige heer, om ons self voor u op die aanklagte teen ons te verdedig en voor die reg van ons saak aan te toon, sou ons nie hierdie heimlike weg gevolg het nie. Nou was ons egter verplig om deur 'n stom versoekskrif of 'n skriftelike belydenis die bitter klagtes en behoeftes van u volk onder u aandag te bring. Vandat u van ons niks anders hoor as vals aanklagte en berigte, word ons nie alleen verhinder om voor u te verskyn nie, maar word ons uit u gebied verjaag en waar ons ook al teëgekom word, vermoor of verbrand. Daarom versoek ons dat u, genadige heer, ons in die Naam van God sal toestaan wat 'n mens selfs aan diere nie kan weier nie, naamlik om ons noodkreet van ver af aan te hoor. Indien u majesteit ons saak aangehoor het en ons skuldig bevind, kan die brandstapels maar vermeerder en die pynigings en folterings maar toeneem in u koninkryk. Daarenteen versoek ons dat, indien ons onskuldig blyk, u van u kant aan ons steun en beskerming sal verleen teen die geweld van ons vyande.

Want, helaas, genadige heer, as 'n mens net kan beskuldig en die beskuldigde elke moontlikheid ontneem om homself te verdedig, wie sal dan onskuldig bevind kan word? Sou daar dan nog êrens van reg en geregtigheid sprake kon wees?

Daar word gesê dat ons ongehoorsame rebelle is wat slegs ten doel het om die staatkundige orde omver te werp en verwarring en chaos in die wêreld aan te rig. Verder, dat ons nie alleen onder u heerskappy en gesag probeer uitkom nie, maar dat ons u ook van u troon wil stoot. Ons word dus aangekla van misdade wat nie strook met ons belydenis nie, nie met die lewe van 'n Christen nie en selfs nie met mens wees in die algemeen nie. Indien dit waar sou wees, sou die ou woord van die tiranne tereg weer kon geld: Na die wilde diere met die Christene (kyk endnoot 1)!  Een ding staan egter vas: Dit is maklik om te beskuldig, maar beskuldigings moet bewys word!

Die profete en apostels en die lidmate van die vroeë kerk is oorlaai met beskuldigings en op grond van uiterlike indrukke en die oppervlakkige oordeel van mense met dieselfde soort laster geteister. Soos hulle in die openbaar teenoor hulle tydgenote betuig en geprotesteer het, protesteer en betuig ons nou voor God en sy engele dat ons niks meer begeer as om in gehoorsaamheid aan die owerheid en met 'n skoon gewete te lewe, God te dien en ons lewe daagliks na sy woord en heilige gebooie te hervorm nie.

Behalwe hierdie verborge getuienis van ons gewete, sal ook hulle wat die regspraak oor ons uitoefen, kan getuig dat hulle nooit iets onder ons waargeneem het wat geïnterpreteer kan word as ongehoorsaamheid, as gemik teen u majesteit of wat bedoel is om die openbare vrede te ontwrig nie. Inteendeel, hulle het gevind dat ons gedurende ons byeenkomste bid vir die konings en vorste van die wêreld en in die besonder vir u, genadige heer, en diegene wat u in die beheer en regering van u  lande, gebiede en provinsies gestel het (Rom 13). Ons word immers deur die Woord van God en die gedurige onderrig van ons leraars geleer dat die konings, vorste en owerhede se gesag berus op die ordening van God en dat elkeen wat teen die owerheid in opstand kom, in opstand is teen die ordening van God en die verdoemenis te wagte kan wees. Ons gee toe en erken dat dit op grond van God se alwyse besluit is dat konings heers en vorste die reg bepaal. Kortom, dit is nie 'n saak wat sy ontstaan in onreg of tirannie het nie; dit is 'n instelling van God (Spr 8:15).

En om te bewys dat dit nie net woorde is nie, maar dat dit ons sterk op die hart gedruk en by ons ingeprent is, vra ons wie van ons ooit geweier het om aan u, genadige heer, die belasting of tol wat ons opgelê is, te betaal? Trouens, so gou as wat ons van u bevel in dié verband verneem het, het ons betaal.  Wie is met wapens betrap? Watter sameswering teen u is ooit ontbloot? Selfs hulle wat allerlei wreedhede pleeg en beweer dat hulle in u naam, en in opdrag van u optree, kon niks hiervan vind nie, ten spyte van die feit dat sommige van ons so wreed gepynig en gefolter is dat selfs die vriendelikste en sagmoedigste mens onder dié uittarting in gramskap en wanhoop moes verval.

Ons dank God dat die bloed van ons broers in ons guns getuig, die bloed wat vir ons saak, of liewer, vir die saak van Jesus Christus en ter wille van die waarheid uitgestort is. Die verbannings, arrestasies, pynbanke, ballingskappe, folterings en tallose ander maniere waarop ons verdruk is, bewys dat ons nie 'n wêreldse bedoeling en gesindheid het nie, aangesien ons sonder hierdie geloof en leer van ons veel gemakliker sou kon gelewe het. Maar uit eerbied vir God en gedagtig aan die waarskuwing van Jesus Christus, dat Hy ons voor sy Vader sal verloën as ons Hom voor die mense verloën (Matt 10:33), gee ons ons rûe vir die slae, ons tonge vir die mes, ons monde vir die snoer (Luk 9:26), ons liggame vir die vuur. Ons weet dat hy wat Christus wil volg, sy kruis moet opneem en homself moet verloën.  Geen persoon by sy positiewe, wat nie blind of van sy sinne beroof is nie, sal kan dink dat hulle wat hulle land, hulle familie en hulle vriende verlaat om in vrede en rustigheid te kan lewe, daarop uit is om opstand aan te blaas nie; dat hulle wat bereid is om te sterwe vir daardie evangelie waarin geskrywe staan dat aan die keiser gegee moet word wat aan die keiser toekom en aan God wat aan God toekom (Matt 22:21), daarop uit is om die koning tot 'n val te bring of sy gesag te ondermyn nie. Terwyl ons ons liggame en besittings opoffer en oorgee aan die koning, smeek ons u majesteit nederig, dat ons toegelaat mag word om aan God te gee wat Hy  vra en wat ons Hom regtens nie kan weier nie, omdat Hy ons sy eiendom gemaak het en ons vir Hom verkry het deur 'n dure prys te betaal (1 Kor 6:20).

Ons vyande maak misbruik van u goedheid, lydsaamheid en gewilligheid om te luister as hulle u wysmaak dat slegs ons klein getalle ons verhinder om teen u op te staan, asof ons almal ongehoorsaam of teen u opstandig is en asof ons slegs wag tot ons getalle groot is voordat ons teen u te velde trek om u aan te val of teen u oproer te verwek. Laat hulle die saak maar verdraai soos hulle wil, ons verseker u, genadige heer, dat daar in u Nederlande meer as 'n honderd duisend man van dié geloofsoortuiging is waarvan ons u nou die belydenis aanbied. Nogtans is daar nog nooit by een van hulle enige plan tot opstand gevind of selde 'n woord met so 'n strekking gehoor nie. Ons noem die groot getal wat ons reeds uitmaak, genadige heer, nie om selfs die geringste onder u offisiere en amptenare te intimideer nie, maar om die lasterlike verdraaiing waarmee ons beswadder word, te weerlê en om 'n beroep op u te doen om toegeneë teenoor ons te wees.

Helaas, as u die swaard sou trek om 'n bloedbad onder so baie mense aan te rig o God behoed ons - wat 'n verwoesting sal u nie aanrig onder u onderdane, watter wonde sal u nie onder u volk slaan nie, hoeveel trane en versugtinge, hoeveel weeklag van vroue en kinders, van familie en vriende sal u nie vir u rekening neem nie? Watter oog sal nog droog bly, sal sonder trane kan aanskou hoe vele eerbare en geliefde burgers teen wie niemand 'n wrok koester nie, na donker en verskriklike gevangenisse, na pyniging en verdrukking weggevoer word om 'n dood van skande en marteling te sterwe - selfs meer wreed en barbaars as wat heidense en goddelose tiranne ooit kon uitdink? En hulle vrouens sal, indien hulle daarin kon slaag om te ontsnap, in vreemde lande van deur tot deur kos moet bedel, terwyl hulle kindertjies aan hulle klou.

Genadige heer, mag dit tog ook nie gebeur dat die nageslag u regering as bloeddorstig en wreed beskrywe nie! Mag dit nie gebeur dat die mense eendag sê dat die eer van u voorvaders, die adel van u vader en u eie deugde en vroomheid swart gesmeer is deur 'n wreedheid, ja 'n wreedheid wat 'n mens miskien nog by diere sal kry, maar wat benede die waardigheid van mense is nie. So iets is volledig in stryd en onversoenbaar met wat 'n mens van 'n prins en vors verwag; wat 'n mens by hom soek, is toegeneentheid en sagmoedigheid, trouens, dit is juis hierdie deugde wat 'n koning van 'n tiran onderskei.

Ons word nie alleen as vyande van u regering en die openbare belang vervolg nie, maar ook as vyande van God en sy kerk. Daarom vra ons nederig dat u u eie oordeel vel op grond van die geloofsbelydenis wat ons u aanbied en wat ons bereid en gereed is om, indien nodig, met ons bloed te verseël. Uit hierdie geloofsbelydenis sal u hopelik agterkom dat ons ten onregte skeurmakers, verbrekers van die eenheid en ongehoorsame ketters genoem word. Ons stel en bely die vernaamste punte van die Christelike geloof, soos vervat in die Twaalf Artikels en in die Algemene Geloofsbelydenis. Ons glo die ganse leer wat Jesus Christus tot ons lewe, geregtigheid en saligheid geopenbaar het, soos meegedeel deur die evangelieskrywers en die apostels en verseël met die bloed van vele martelare.  Hierdie leer is suiwer en volledig bewaar deur die vroeë kerk, totdat dit deur die onkunde, gierigheid en eersugtigheid van leraars, deur menslike vindinge en instellings wat in stryd met die ware evangelie was, bedorwe geraak het. Ons teenstanders ontken onbeskaamd dat hierdie evangelie die krag van God is tot redding van elkeen wat glo, wanneer hulle ons veroordeel en vermoor omdat ons weier om ons te hou by wat in dié leer nie gevind kan word nie (Rom 1:16). Hoe kan hulle ontken dat hulle teen die Heilige Gees laster as hulle sê dat die hele skat van God se wysheid en die volledige, genoegsame middele tot die heil nie in die Ou en Nuwe Testament vervat is nie, maar dat hulle eie vindinge daarby moet kom? Hulle sê ook dat almal wat dit nie net so of meer belangrik ag as die evangelie nie, vervloek en uitvaagsels van die gemeenskap is, en dat hulle verdien om na die liggaam vernietig te word en na die siel in die diepte van die hel te versink.

As swakke mense vrees ons sulke woorde. Hulle wat die mag het om ons tot die brandstapel te veroordeel, slaag wel deeglik daarin om ons met hulle dreigemente te intimideer. Maar, dan hoor ons weer die woorde van die apostel as hy sê: Al sou 'n engel van die hemel neerdaal en aan ons iets anders as die evangelie verkondig, vervloek is hy (Gal 1:8). Ons hoor Johannes sy profesie met hierdie woorde afsluit:

Ék betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is... (Op 22:18). Kortom, ons sien dat ons onder die verpligting staan om slegs die Woord van God te gehoorsaam en nie na eie goeddunke te handel nie.  Ons word verbied om iets toe te voeg of af te doen aan die heilige gebooie van God.

Jesus Christus sê dat Hy ons alles geleer het wat Hy van sy Vader gehoor het. Indien Hy ter wille van die onvermoë van die apostels om te verstaan, iets verswyg het van wat Hy belowe het om te openbaar (deur die Heilige Gees wat Hy aan hulle sou stuur), is ons oortuig daarvan dat Hy hierdie belofte aan hulle gestand gedoen het, omdat Hy self die Waarheid is (Joh 16:12, 13). Die verborgenhede is daarom saamgevat in die evangelie en in die geskrifte van die apostels wat geskryf is nié die genoemde belofte en die uitstorting van die Heilige Gees. Hieruit blyk dat ons teenstanders die woorde van die evangelieskrywer misbruik wanneer hulle die verborgenhede wat die apostels nie sou kon verstaan nie, aan hulle eie seremonies en ydele bygelowe gelykstel. So stry hulle teen die Woord van God. Dit sou 'n klein takie wees om hierdie stellings van ons met skriftuurlike getuienis te bewys - weet asseblief dat ons daartoe gewillig is. Ons wil egter nie hierdie brief onnodig uitrek en u majesteit vermoei nie.

Nederig bid ons in die Naam van Hom wat u as koning laat regeer en bestendig, om nie toe te laat dat mense met gierige, eersugtige en ander kwade bedoelings 'n houvas op u kry en u gesag en mag misbruik nie. Hulle wil net hulle eie luste bevredig en hulle met die bloed van u onderdane vul en versadig. Hulle skep 'n verdraaide beeld van die ywer van godvresende en gelowige mense met valse aanklagte van oproer, afval, ergernis en dies meer, en so steek hulle u teen ons op.

Helaas, genadige heer, dit was nog altyd so dat die wêreld die lig gehaat en teen die waarheid gestry het. Maar kan 'n mens iemand wat hom by hierdie waarheid hou en hom daardeur die onmin van die mense op die hals haal, 'n oproermaker noem? Inteendeel, die oproer en die onmin moet toegeskryf word aan daardie onversoenlike vyand van God en mens, die duiwel, wat teen die waarheid stry en die voortgang daarvan in die wiele ry, ten einde sy ryk nie te verloor nie. Dit bestaan uit alles wat deur die evangelie verbied word, naamlik afgodery, valse godsdienste, hoerery en ontelbare ander sondes. Voeg daarby die ondankbaarheid van die wêreld wat nie bereid is om met erkentlikheid die Woord van die Meester, Herder en God te aanvaar nie, maar hom daarteen verset. Die rede wat aangevoer word, is dat hierdie gebruike reeds so 'n lang geskiedenis agter die rug het dat daar nie nou aan verander kan word nie. Hy wat die wêreld en die eeue gemaak het en vir wie alles hede is, word dus met die argument van die geskiedenis afgewys. Dit is u verantwoordelikheid genadige heer, ja dit is u plig om van hierdie dinge te weet en u teen die dwalinge te verset, hoe diep gewortel hulle ook al in die geskiedenis geraak het. Op u rus ook die verpligting om die onskuld te beskerm van hulle wat tot nog toe meer verdruk as aangehoor is, ten spyte van die feit dat hulle niks verkeerds gedoen het nie.

Mag die Here u daarin seën en bewaar; mag die Here sy aangesig oor u laat skyn, u beskerm en u in alle voorspoed onderhou.

Amen

TEKS

Artikel 1 - Die enige God
Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike wese is wat ons God noem.

Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome  wys, regverdig, goed, en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Artikel 2 - Die middele waardeur ons God ken
Ons ken Hom deur twee middele:

Eerstens deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.

Dit is immers voor ons oë soos 'n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom 1:20).  Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Tweedens maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend en wel soveel as wat vir ons in hierdie lewe tot sy eer nodig is en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.

Artikel 3 - Die geskrewe Woord van God
Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid, sy dienaars, die profete en apostels, beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel en Hy het self met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe.

Daarom noem ons sulke geskrifte die Heilige en Goddelike Skrif.

Artikel 4 - Die kanonieke boeke van die Heilige Skrif
Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg: die boeke van die Ou Testament, naamlik die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium; die boeke Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem Paralipomenon), Esra, Nehemia, Ester, Job, die Psalms van Dawid; drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied; die vier groot profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf klein profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi.

Die boeke van die Nuwe Testament, naamlik die vier evangeliste: Matteus, Markus, Lukas en Johannes; die Handelinge van die Apostels; die veertien briewe van die apostel Paulus: aan die Romeine, twee aan die Korintiërs, aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus, Filemon en die Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die Brief van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en die Brief van Judas en die Openbaring van die apostel Johannes.

Artikel 5 - Die gesag van die Heilige Skrif
Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grond en daarmee te bevestig.  Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.

Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.

Artikel 6 - Onderskeid tussen die kanonieke en apokriewe boeke
Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke:

Die derde en vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester, die Gebed van die Drie Manne in die Vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en van die Draak, die Gebed van Manasse en die twee boeke van die Makkabeïrs. Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daar lering uit trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.

Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enige punte van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie.  Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.

Artikel 7 - Die volkomenheid van die Heilige Skrif
Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word.

Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe is, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie ja, al was dit ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8).

En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is.

Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of die opvolging van tye of van persone, of kerkvergaderings of verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want dié waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: Ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is (1 Joh 4:1). En: As daar iemand na julle toe kom wat 'n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie (2 Joh 1:10).

Artikel 8 - God is een in wese en onderskeie in drie Persone
Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat Hulle nie met mekaar deel nie.

Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge.

Die Seun is die Woord, die wysheid en die beeld van die Vader.

Die Heilige Gees is die ewige krag en mag wat van die Vader en die Seun uitgaan.

Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, onderskei deur sy eienskappe, op so 'n wyse dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie.

Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.

Artikel 9 - Skrifgetuienis oor die Drie-eenheid
Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit dié werkinge wat ons in onsself voel.

Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie. Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Gen 1:26, 27: 'Toe het God gesê': "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld...." ...God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep" (Gen 3:22). 'Toe het die Here God gesê: "Die mens het nou soos een van Ons geword...."

Wanneer God sê: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld....", blyk dit daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: "God het...geskep....", wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Weliswaar sê Hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe ons Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor wat sê: "Dit is my geliefde Seun..." (Matt 3:17). Die Seun is in die water gesien, en die Heilige Gees het Hom in die vorm van 'n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: "...doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees" (Matt 28:19).

In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriel aan Maria, die moeder van die Here: "Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God" (Luk 1:35).

Eweneens: "Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees" (2 Kor 13:13; kyk endnoot 2).

Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volkome kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet.

Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die eie werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word genoem ons Skepper deur sy krag; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons harte. Hierdie leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk, van die tyd van die apostels af tot nou toe, altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse Christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en dergelike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is.  Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik die van die Apostels, Nicea en Atanasius, en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.

Artikel 10 - Die Godheid van Jesus Christus
Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy 'n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Fil 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; sê leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word:

Moses sê dat God die wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord wat hy God noem (Gen 1:1; Joh 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb 1:2; Kol 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is (kyk endnoot 3).

Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, vir wie ons aanroep, aanbid en dien.

Artikel 11 - Die Godheid van die Heilige Gees
Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie, maar van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon in die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.

Artikel 12 - Die skepping van alle dinge, veral dié van die engele
Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel 'n eie wese, gestalte, voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien.  Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het sê ontaard dat hulle vyande van God is, sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk - ook op elke lidmaat - om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseïrs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeïrs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg was en nie sleg geword het nie.

Artikel 13 - Die voorsienigheid van God
Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie, maar dit volgens sy heilige wil só bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.

Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na die dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry. Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval nie, maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom.  Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader, nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt 10:29, 30). Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle sonder sy toelating en wil ons geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureïrs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.

Artikel 14 - Die skepping van die mens en die sondeval, en die gevolge daarvan
Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê, goed, regverdig en heilig, sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon ooreenstem.

Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde, en daarmee aan die dood en die vervloeking, onderwerp.

Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het, deurdat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor. Hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat in ons is, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: 'Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie' (Joh 1:5), waar die heilige Johannes die mense duisternis noem.

Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as 'n slaaf van die sonde is nie: "...Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie" (Joh 3:27). Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie..." (Joh 6:44).

Wie sal roem op sy eie wil as hy verstaan dat die sondige natuur immers vyandskap teen God is (Rom 8:7)? Wie sal roem op sy eie kennis as die mens wat die Gees van God nie het nie, nie die dinge van die Gees van God aanvaar nie (1 Kor 2:14)?  Kortom: Wie sal ook maar op 'n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar dat ons bekwaamheid uit God is (2 Kor 3:5)? Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly: "...want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer" (Fil 2:13).

Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand gebring het nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: "...sonder My kan julle niks doen nie" (Joh 15:5).

Artikel 15 - Die erfsonde
Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is 'n verdorwenheid van die hele natuur en 'n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit 'n giftige fontein.

Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie, maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe.

God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie, maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word. Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit navolging ontstaan nie.

Artikel 16 - Die ewige verkiesing van God
Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam homself deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort het, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy die wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus ons Here.

God is regverdig, deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly, waarin hulle hulleself gewerp het.

Artikel 17 - Die Verlosser deur God beloof
Ons glo dat ons goeie God in sy wonderlike wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het. God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en om hom salig te maak - sy Seun, wat uit 'n vrou (Gal 4:4) gebore sou word om die kop van die slang te vermorsel (Gen 3:15).

Artikel 18 - Die menswording van Jesus Christus
Ons bely dat God die belofte wat Hy aan die vaders deur die mond van sy heilige profete gemaak het, inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal.  "...Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word" (Fil 2:7), deur werklik 'n egte menslike natuur met al sy swakhede, maar sonder sonde, aan te neem.  Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder toedoen van 'n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref die menslike natuur aangeneem nie, maar ook 'n egte menslike siel, om so 'n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om altwee te red, aangesien beide verlore was.

Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb 2:14), dat Hy wat die vlees betref, 'n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand 2:30; Rom 1:3), 'n vrug van die moederskoot van Maria (Luk 1:42), gebore uit 'n vrou (Gal 4:4), 'n spruit van Dawid (Jer 33:15), 'n loot uit die wortels van Isai (Jes 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte, maar sonder sonde, sy broers gelyk geword het (Heb 2:17; 4:15).

Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Emmanuel is, dit wil sê: "...God met onsé (Matt 1:23).

Artikel 19 - Die twee nature van Christus
Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie, maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou.

Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (kyk endnoot 4) en hemel en aarde vervul, so het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel 'n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by 'n ware liggaam behoort.

Alhoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy tog die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is.

Hierdie twee nature is só saam in een Persoon verenig, dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie.

Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus 'n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het.

Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het.

Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy 'n klein Kindjie was, al het die Godheid Homself toe 'n kort tydjie nie geopenbaar nie.  Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe.

Artikel 20 - God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur sy allerbitterste lyding en sterwe dra. So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het en so sy goedheid en barmhartigheid uitgestort het oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee, en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.

Artikel 21 - Die versoening deur Christus
Ons glo dat Jesus Christus - kragtens 'n eed - 'n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort, soos die profete dit voorspel het.

Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos 'n lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is (Jes 53:5, 9, 12); dat Hy as 'n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is, al het dié Hom eers onskuldig verklaar.

Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps 69:5); Hy het na liggaam en siel as Regverdige vir onregverdiges gely (1 Pet 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk 22:44) en Hy het uitgeroep: "My God, my God, waarom het U My verlaat" (Matt 27:46)?

Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons 'met julle oor niks anders...praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde' (1 Kor 2:2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken, oortref alles in waarde (Fil 3:8); dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie een offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb 10:14). Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God genoem is, Jesus, dit is Verlosser, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Matt 1:21).

Artikel 22 - Ons regverdiging deur die geloof
Ons glo dat die Heilige Gees 'n opregte geloof in ons hart laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na NIKS anders as na Hom nie.

Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, of dit is alles wel in Hom en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid.

Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie, maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs 'n halwe Verlosser is.

Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom 3:28).

Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons, in die gemeenskap aan al sy weldade, aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.

Artikel 23 - Ons geregtigheid voor God
Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Dit leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Ps 32:2; Rom 4:6).

Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is (Rom 3:24).

Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is, en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie, maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen.

Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos, ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om homself met vyeblare te bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn, terwyl ons in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons - helaas! - verteer moet word.

En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: "Moet tog nie 'n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie" (Ps 143:2)!

Artikel 24 - Ons heiligmaking en goeie werke
Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees; dat die geloof hom weergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir 'n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie.

Inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis.

Dit is daarom ook onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van 'n dooie geloof nie, maar van wat die Skrif noem, 'n 'geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan' (Gal 5:6); wat die mens  beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het. Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig, omdat hulle almal deur sy genade geheilig is.

Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is geregverdig deur die geloof in Christus nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van 'n boom goed kan wees voordat die boom self goed is.  Ons doen dus goeie werke, maar nie om iets te verdien nie - wat sou ons tog kon verdien?  Veeleer is ons die goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Fil 2:13).

Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: "...as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen" (Luk 17:10).

Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawes bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie.

En al kon ons ook in goeie werk lewer, is die herinnering aan net in sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid; en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van lyding en sterwe van ons Verlosser kon steun nie.

Artikel 25 - Die seremoniële wet in Christus vervul
Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het.  Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan - in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling.

Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.

Artikel 26 - Christus ons Voorspraak
Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons mense tot die Goddelike Majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewendheid laat terugdeins sodat ons 'n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat vir ons groter liefde het as Jesus Christus nie. Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van 'n mens en van 'n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Fil 2:6, 7; Heb 2:17).

As ons dus moes soek na 'n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom 5:10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God?

Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat die gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie, maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos uit hulle geskrifte blyk. Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel - wanneer hy hierdie dwase vrees, of liewer, die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem - dat Jesus Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb 2:17, 18).

En om ons nog meer moed te gee om na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: "Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word" (Heb 4:14-16). Dieselfde apostel sê: "...ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom..."; "...laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid" (Heb 10:19, 22).

En voorts: "Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hy 'n priesterskap wat nie op 'n ander oorgedra word nie. Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree" (Heb 7:24, 25).

Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie" (Joh 14:6)? Waarom sou ons 'n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom nie verlaat om 'n ander een te neem, of liewer, 'n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars was.

Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh 16:23).

Artikel 27 - Die algemene Christelike kerk
Ons glo en bely 'n enige, katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees.

Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie.

En hierdie heilige kerk word deur God bewaar teen woede van die hele wêreld, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mens lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baïl gekniel het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of beperk tot 'n sekere plek of sekere persone nie, maar is dit oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil in een en dieselfde Gees, deur die krag van die geloof saamgevoeg en verenig.

Artikel 28 - Elkeen is verplig om by die ware kerk aan te sluit
Ons glo - aangesien hierdie heilige vergadering 'n versameling is van hulle wat verlos word, en daarbuite geen saligheid is nie - dat niemand, wat sy stand en status ook is, in selftevredenheid hom van hierdie vergadering afsydig mag hou nie. Inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar, deur hulle almal - as lede van een en dieselfde liggaam - aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by die vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. 

Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.

Artikel 29 - Die kenmerke van die ware en die valse kerk
Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie, alhoewel hulle uiterlik daarin is, maar ons sê dat 'n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is.

Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het, en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf.

Kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp, en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.  Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom  daarvan af te skei nie. Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser, Jesus Christus, aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie, en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie. Inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het. Wat die valse kerk betref: Dit skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus en, dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Artikel 30 - Die regering van die kerk
Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word.

Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm.

Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en dat ook die armes en beproefdes volgens hulle nood gehelp en getroos word.

Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word, ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee (1 Tim 3).

Artikel 31 - Die ampsdraers van die kerk
Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van 'n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer.

Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom.

Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: Hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is - die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk.

Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen, en sover moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.

Artikel 32 - Die orde en die tug van die kerk
Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.

En daarom verwerp ons alle menslike uitdinksels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing.

Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder, en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou.  Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.

Artikel 33 - Die sakramente
Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy rekening hou met ons stompsinnigheid en swakheid, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou.

Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seëls van 'n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees.

Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees.

Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en van die heilige nagmaal van Jesus Christus.

Artikel 34 - Die heilige doop
Ons glo en bely dat Jesus Christus, wat die einde van die wet is (Rom 10:4), deur sy bloed te stort, 'n einde gemaak het aan elke ander bloedvergieting wat 'n mens tot versoening of voldoening van die sondes sou kan of wil aanwend. Hy het die besnydenis, wat met bloed gepaard gegaan het, afgeskaf en in die plek daarvan die sakrament van die doop ingestel. Deur die doop word ons in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra.

Dit dien vir ons tot 'n getuienis dat Hy ewig ons God en genadige Vader sal wees.

Daarom het Hy beveel om almal wat sy eiendom is, net met gewone water in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop (Matt 28:19). Hy toon ons daarmee dat, soos water die vuilheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word, en soos die water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendig in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Dit gebeur nie deur die uitwendige water nie, maar wel deur die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God, ons Rooi See waardeur ons moet trek om aan die slawerny van farao, dit wil sê die duiwel, te ontkom, en om in die geestelike land Kanaän in te gaan. Die bedienaars gee ons van hulle kant dus net die sakrament en dít wat sigbaar is, maar ons Here gee wat deur die sakrament aangedui word, naamlik die onsigbare genadegawes: Hy was ons siel, suiwer en reinig dit van alle vuilheid en ongeregtigheid; Hy maak ons hart nuut en vul dit met alle vertroosting; Hy gee ons egter sekerheid van sy vaderlike goedheid; Hy beklee ons met die nuwe mens en Hy ontklee ons van die ou mens en al sy werke.

Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie.

Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar ook vir ons hele lewe.

Daarom verwerp ons die dwaling van die Wederdopers, wat nie tevrede is met die een doop wat hulle een maal ontvang het nie, en wat bowendien ook nog die doop van die gelowiges se kindertjies veroordeel. Ons glo daarenteen dat ons hulle behoort te doop en met die teken van die verbond behoort te beseël, net soos die kindertjies in Israel kragtens dieselfde beloftes as wat aan ons kinders gemaak is, besny is.

En waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie.

Daarom behoort hulle die teken en die sakrament te ontvang van wat Christus vir hulle gedoen het, soos die Here in die wet beveel het om hulle kort na die geboorte deel te laat hê aan die sakrament van die lyding en sterwe van Christus, deur vir hulle 'n lam te offer wat 'n sakramentele heenwysing na Jesus was.  Buitendien doen die doop aan ons kindertjies dieselfde as wat die besnydenis aan die Joodse volk gedoen het; dit is die rede waarom die heilige Paulus die doop "..die besnydenis deur Christus..."noem (Kol 2:11).

Artikel 35 - Die heilige nagmaal
Ons glo en bely dat ons Verlosser, Jesus Christus, die sakrament van die heilige nagmaal beveel en ingestel het om hulle te voed en te onderhou wat Hy reeds wederbaar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat weergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur die Woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind. Almal deel nie in hierdie lewe nie, maar slegs die uitverkorenes van God. So het God tot instandhouding van die liggaamlike en aardse lewe vir ons aardse en gewone brood voorsien; dit dien die lewe en behoort, soos die lewe self, aan almal.

Maar om die geestelike en hemelse lewe wat die gelowiges besit, in stand te hou, het Hy vir hulle 'n lewende brood gestuur wat uit die hemel neergedaal het, naamlik Jesus Christus; Hy voed en onderhou die geestelike lewe van die gelowiges wanneer Hy geëet, dit wil sê deur die geloof geestelik toegeëien en ontvang word.

Om hierdie geestelike en hemelse brood vir ons af te beeld, het Christus aardse- en sigbare brood as 'n teken van sy liggaam en wyn as 'n teken van sy bloed ingestel. Hy gee ons daarmee dít te kenne: So waarlik as wat ons die sakrament ontvang en in ons hande hou en dit met ons mond eet en drink en dit daarna ons lewe in stand hou, net so waarlik ontvang ons vir ons geestelike lewe in ons siele deur die geloof - dit is die hand en mond van ons siel - die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Verlosser.

Dit staan dus bo alle twyfel vas dat Jesus Christus nie tevergeefs sy sakramente vir ons voorgeskryf het nie; Hy doen immers in ons alles wat Hy vir ons deur hierdie heilige tekens voor oë stel, al gaan dit ons verstand te bowe en is dit vir ons onbegryplik hoe dit gebeur, net soos die werking van die Heilige Gees ondeurgrondelik en onbegryplik is. Tog dwaal ons nie as ons sê dat wat deur ons geëet en gedrink word, die eie en natuurlike liggaam en die eie bloed van Christus is nie; maar die manier waarop ons dit nuttig, is nie met die mond nie, maar met die gees deur die geloof.

Daarom, al bly Christus altyd aan die regterhand van sy Vader in die hemel sit, hou Hy tog nie op om ons deur die geloof aan Homself deel te laat hê nie. Hierdie feesmaal is 'n geestelike maaltyd waar Christus Homself met al sy weldade aan ons meedeel en waar Hy ons Homself en die verdienste van sy lyding en sterwe laat geniet. Hy voed, versterk en vertroos ons arme troostelose siel as ons sy liggaam eet, en Hy verkwik en herstel dit as ons sy bloed drink.

Verder, hoewel die sakramente ín die sake waarvan hulle tekens is, bymekaar hoort, word beide nie deur alle mense ontvang nie.

Die goddelose mens ontvang wel die sakrament tot sy verdoemenis, maar hy ontvang nie die waarheid van die sakrament nie.

So het Judas en Simon die Towenaar albei wel die sakrament ontvang, maar nie Christus wat daardeur voorgestel word nie; hê word slegs aan die gelowiges gegee.

Ten slotte, ons ontvang die heilige sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging 'n heilige gedagtenis aan die dood van Christus, ons Verlosser, onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen.

Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink as hy van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink nie (1 Kor 11:29).

Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot 'n vurige liefde vir God en ons naaste beweeg.

Daarom verwerp ons alle brousels en verwerplike uitdinksels wat mense by die sakrament bygevoeg en daarmee vermeng het, as verontheiligings daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die instelling wat Christus en sy apostels ons geleer het en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het.

Artikel 36 - Die burgerlike owerheid
Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag, konings, vorste en owerhede aangestel het.  Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van die wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop.

Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm.

En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie, maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder en orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word, soos Hy in sy Woord beveel.

Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, "..sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid"(1 Tim 2:2).

Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur.

Artikel 37 - Die laaste oordeel, die opstanding en die ewige lewe
Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het - die tyd is vir alle skepsels onbekend - en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en die dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer.  Dan sal, gedagvaar deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vroue en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tess 4:16). Want al die dooies sal uit die aarde opstaan, hulle siele saamgevoeg en verenig, elkeen met sy eie liggaam waarin hy geleef het. En hulle wat dan nog sal lewe, sal nie soos die ander sterwe nie, maar in 'n oogwink verander en uit verganklikheid onverganklik word.

Dan sal die boeke, dit is die gewetens, geopen en die dooies geoordeel word (Op 20:12) volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of kwaad (2 Kor 5:10). Ja, die mense sal rekenskap moet gee van elke ligsinnige woord wat hulle gesê het (Matt 12:36), al beskou die wêreld dit slegs as kinderspel en tydverdryf; en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend, maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van die moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God oor die goddeloses sal voltrek, wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het.

Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word, dog slegs om gepynig te word in die "..ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is..."(Matt 25:41).

Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader (Matt 10:32) en sy uitverkore engele bely (Op 3:5); alle trane sal van hulle oë afgevee word (Op 21:4); dan sal dit bekend word dat hulle saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is.  En as 'n beloning uit genade sal die Here self so 'n heerlikheid aan hulle gee as wat die hart van 'n mens nooit sou kon bedink nie.  Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.
Amen

Endnote

  1. Die Kerkvader Tertullianus (einde tweede eeu n.C.), wat 'n beroemde verweerskrif ter verdediging van vroeë Christene geskryf het, dien kennelik as model vir Guido de Brès as hy hierdie brief skryf. So haal Tertullianus byvoorbeeld 'n dergelike spreekwoord van sy tyd aan: Na die vure met die Christene! (Apolog. 40, 2).
  2. In die oorspronklike teks van die Nederlandse Geloofsbelydenis word 1 Johannes 5:7 ook as bewysplek aangehaal. Aangesien die teks in die beste manuskripte nie voorkom nie, word dit hier op voetspoor van die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, weggelaat. Die weglating verander nie die inhoud en betekenis van die artikel nie.
  3. In die oorspronklike teks van die Nederlandse Geloofsbelydenis word Miga 5:1 en Hebreërs 7:3 ook as bewysplekke aangehaal. Omdat die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel anders lees en die weglating van die tekste niks aan die inhoud van die artikel verander nie, word dit uit die teks weggelaat.
  4. Hebreërs 7:3 verskyn in die teks as bewysplek. Aangesien dit in die nuwe Afrikaanse vertaling anders vertaal word, word dit in 'n voetnoot geplaas, omdat dit niks aan die inhoud van die teks verander nie.