Die Kerkhistoriese Genootskap van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

Die doel van die Genootskap wat op 25 April 1958 opgerig is, is in die Konstitusie soos volg verwoord: Die doel van die Genootskap is die bevordering van die algemene belangstelling in en die bestudering van die geskiedenis van die Christelike kerk in die algemeen en van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in die besonder.  Die gedagte en dryfkrag agter die oprigting het uitgegaan van emeritus prof dr S P Engelbrecht, voormalige hoof van die Departement Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Teologiese Fakulteit Afdeling A van die Universiteit Pretoria en sy opvolger prof dr A D Pont. Deur middel van Die Hervormer is alle belangstellende predikante en lidmate van die Kerk genooi om deel te hê aan die oprigting van die Genootskap deur as lede aan te sluit. Wat die twee professore as akademiese beoefenaars van die kerkgeskiedenis gemotiveer het, was hulle kommer oor die tendens wat aan die toeneem was dat by al meer lidmate die kennis van en belangstelling in die Kerk se verlede aan die agteruitgaan was.


Om die geformuleerde doel te bereik is ‘n aantal bepalings in die Konstitusie opgeneem wat, kort gestel, insluit die hou van jaarlikse kongresse, die publikasie en beskikbaarstelling van kongresreferate, die aktiewe deelname aan die navorsing met betrekking tot die kerkgeskiedenis en aan die opsporing en bewaring van kerklike dokumente en oudhede, die bevordering van daadwerklike belangstelling vir die kerklike Museum en Argief wat in Pretoria opgerig is. Gedurende die afgelope vyftig jaar is hierdie bepalings benut om as werkgemeenskap ten opsigte van die kergeskiedenis in die Nederduitsch Hervormde Kerk besig te bly om nie net navorsing oor die verlede van die Kerk te doen nie maar ook ‘n bydrae te lewer om die verlede van die kerk in die algemeen en van die Nederduitsch Hervormde Kerk in besonder, behoue te laat bly.

Op die kongres van 8 Oktober 2009 is bestek opgeneem oor die werksaamhede van die afgelope vyftig jaar en is met beskeie trots kennis geneem van die diens wat in belang van die kerkgeskiedenis in die Nederduitsch Hervormde Kerk gelewer is. Terselfdertyd het die Genootskap hom opnuut daartoe verbind om die doel van die Genootskap steeds ywerig na te streef om ‘n daadwerklike bydrae te lewer om die voortdurende gesprek in die Kerk te stimuleer en sover moontlik te bemiddel tussen die hede en die verlede met die oog op die toekoms. Om dit te kan bereik is daar die voorneme om opnuut die predikante en die lidmate van die Kerk uit te nooi om lede te word. Daar is ook ‘n besluit geneem om ‘n eie tydskrif, soos die Konstitusie dit reeds in 1958 as moontlikheid in vooruitsig gestel het, te ondersoek en te implimenteer. By die Kerklike Argief en Museum sal, soos in die verlede, deur daadwerklike steun en belangstelling betrokke gebly word. Die Genootskap het ook die voorneme om hom te beywer dat die vak Kerkgeskiedenis en Kerkreg weer aan die Teologiese Opleiding ‘n voltydse hoogleraar in diens sal hê.

'n Seleksie van referate gelewer tydens kongresse gehou deur die Genootskap

11de Kongres van die Kerkhistoriese Genootskap (22 November 1972)
Die Bartholomeusnag: Vier honderd jaar - Dr SJ Botha

Die godsdienstig-kulturele bydrae van die Hugenote tot die Afrikaanse volkswording - Dr J Ploeger
Opmerkings oor die Covenant-gedagte by John Knox en die Skotse reformasie - Prof AD Pont

34ste Kongres: Kerk en Onderwys (25 Mei 2004)
Die Kerk se beskouing oor sy verpligting tot betrokkenheid by onderwys soos blyk uit die vorige Kerkwette en huidige Kerkorde - Prof S J Botha


37ste Kongres: Cottesloe 50 jaar later...(23 Augustus 2010)
Aanloop tot Cottesloe - Dr J J Steenkamp


38 ste Kongres van die Kerkhistoriese Genootskap (24 Augustus 2011)
Kerklike verantwoordelikheid vir die politiek: Van Ruler se teokratiese denke - Dr H J Botes (N H Gemeente Naboomspruit)

Die verhouding tussen godsdiens en politiek: ʼn Ontologiese besinning - Prof D Goosen

39ste kongres van die Kerkhistoriese Genootskap (31 Oktober 2012)
Die God van die eerste gebod in die Heidelbergse Kategismus: Die verstaanshorison geskep deur Philipp Melanchthon en Zacharias Ursinus – Prof IWC van Wyk
Die Godsbegrip soos dit deur die Heidelbergse Kategismus begrond en bely word
– Prof C F C Coetzee