`N KORT GESKIEDENIS VAN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

Nederlandse wortels

Die kerke van reformatoriese oorsprong (gewortel in die Calvinistiese Hervorming van die 16de eeu) is sedert 6 April 1652 aan die Kaap geplant. Die Kaapse Kerk was 'n loot van die Nederlandse stam en het tydens die hele Nederlandse bewind (tot 1795) onder die Klassis (Ring) Amsterdam geressorteer.
Die eerste predikant aan die Kaap was ds. Johan van Arckel wat in 1665 aangekom het.

Die Kerk kry beslag

Die Groot Trek van die 1830's is 'n sleutelgebeurtenis in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit het Suid-Afrika staatkundig verdeel en kerklik die weg berei vir die totstandkoming van die drie Afrikaanse Kerke voor 1860. Verwydering tussen die Trekkers en die Kaapse Kerk het verskeie oorsake gehad maar uiteindelik wou Kaapse predikante nie die Trekkers bedien nie en nie een wou predikant onder die Trekkers word nie.
Op 21 Mei 1837 het die gewese sendeling Erasmus Smit homself as predikant georden nadat 'n kerkraad in Februarie 1837 gekies is. Sedert 1824 het die Kaapse Kerk die naam Nederduitsch Hervormd gehad en die Voortrekkers het hierdie naam behou. (Die Kaapse Kerk sou na 1842 as die Nederduitsch Gereformeerde Kerk bekendstaan.)

Die Trekkers het gemeentes in Natal, die Vrystaat en Transvaal gestig. Van 1841-1846 het die Trekkers hulp ontvang van 'n Amerikaanse sendeling, Daniel Lindley. In 1850 is die gemeentes in Natal en die Vrystaat by die Kaapse Kerk ingelyf.

In Transvaal, die bakermat van die Hervormde Kerk was dit egter 'n ander saak. Steeds sonder 'n predikant, het ouderlinge soos FG Wolmarans, PJ van Staden en andere die leiding geneem. Die eerste gemeente in Transvaal, Potchefstroom, is in 1842 gestig, gevolg deur Rustenburg in 1850. Die Kerk in Transvaal wou nie hul selfstandigheid prysgee deur by die Kaapse Kerk ingelyf te word, en daardeur onder die Britse goewerneur se gesag staan nie. Daarom is daar gesoek na 'n predikant uit Nederland. Ds Dirk van der Hoff het in 1853 predikant van Potchefstroom geword, en daarmee die eerste predikant in Transvaal. In dieselfde jaar het die eerste Algemene Kerkvergadering op Rustenburg plaasgevind. Na agt jaar as enigste predikant vir die hele Transvaal, het hulp in 1861 gekom en is ds AJ Begemann as predikant van Pretoria bevestig en ds GW Smits as predikant van Rustenburg. In 1864 is ds NJ van Warmelo ook as predikant bevestig.

Kerkvereniging misluk

Die kerk het gedurende 1860-1880 gegroei en tien nuwe gemeentes is gestig. Vanaf 1882 was daar formele samesprekinge tussen die Ned Herv Kerk en die Ned Geref Kerk in Transvaal oor kerkvereniging (die Gereformeerde Kerk het nooit aan die samesprekinge deelgeneem nie). Ondanks stroefheid is die vereniging op 7 Desember 1885 in Pretoria deurgevoer en is na die Verenigde Kerk verwys, amptelik Nederduitsch of Gereformeerde Kerk.

Die sogenaamde konsulentsgemeente van Pretoria (daar was in Pretoria sedert 1869 twee gemeentes binne dieselfde grense) het egter nie verenig nie. Die middelpunt van die gemeente was naby Bronkhorstspruit op ouderling MJ Prinsloo se plaas Witfontein. Die gemeente het die ark van die NHK geword deur nie te verenig nie. Woorde van 'n gemeentevergadering van 13 Februarie 1886 het nou gevleuelde woorde geword: "Gevoelt ons integendeel tevreden te blijven hetgeen wij was en nu nog ben, namelijk Ned.Herv."
Hierna het uit baie voormalige Hervormde gemeentes lidmate na vore getree wat nie wou verenig nie, maar Hervormd wou bly. Ds MJ Goddefroy, wat in 1887 bevestig is as predikant van Pretoria, Middelburg en Trichardtsfontein, sou 'n leidende rol speel in die heropbou en reorganisasie van die Hervormde Kerk.

Oorlog en daarna

Die oorlog van 1899-1902 het die Kerk geweldig ontwrig. Lidmate het gesneuwel en in die konsentrasiekampe gesterf. Predikante en ouderlinge is as krygsgevangenes weggestuur en verskeie kerke en argiefstukke is verbrand. Na die oorlog het verskeie nuwe bekwame predikante die twintig gemeentes bedien. Die eerste een wat uit Nederland gekom het, was ds LE Brandt wat lank 'n leiersrol sou speel. Die eerste gemeente buite Transvaal is in 1905 op Vrede in die noorde van die Oranje-Vrystaat gestig.

Die Kerk het in die 20ste eeu gegroei. Van 'n sieletal van 25 423 in 1908 tot 133 485 vyftig jaar gelede en 142 089 in 2006. In 1910 was daar slegs 20 gemeentes wat gegroei het tot 183 in 1956 en 312 in 2006.

Sedert 1909 word die Kerk se gemeentes in ringe georganiseer.

Kerklike publikasies

Die eerste uitgawe van die Kerk se amptelike mondstuk, De Hervormer, het in 1899 verskyn, maar is vanweë die oorlog gestaak, en kon eers in 1909 weer voortgaan.

In 1907 het die Kerk se inligtingsbron, Die Almanak, vir die eerste keer verskyn.

In 1990 is die Kerk se maandelikse tydskrif, Konteks, in die lewe geroep.

Teologiese opleiding

Die teologiese opleiding was reeds sedert 1890 ter sprake, maar kon vanweë verskeie oorsake nie tot stand gebring word nie. Intussen het die bekwame predikant van Pretoria, prof PJ Muller, twee studente, JJ Prinsloo en JJ Kuhn, as predikante opgelei. Hulle is in 1909 tot die bediening toegelaat. In dieselfde jaar is die eerste Kuratorium benoem met die doel om 'n opleiding op te rig. In 1917 het die Fakulteit Teologie aan die Transvaalse Universiteitskollege (later Universiteit van Pretoria) tot stand gekom.

Sending

Die sendingopdrag binne die Nederduitsch Hervormde Kerk is aanvanklik deur individue, soos ds HCM Fourie bevorder, ondanks verskeie vooroordele wat bestaan het. Vanaf 1928-1945 was die sendingwerk deur die Nederduits Hervormde Sendinggenootskap Eiendoms Beperk gedoen. In 1945 het die kerk self verantwoordelikheid vir die opdrag aanvaar, maar werk sou eers vanaf 1951 daadwerklik onder leiding van dr (later prof) PS Dreyer gestalte kry. Die Sendingraad, soos dit later bekend geword het, het hulle vir 'n eie opleiding beywer. Vanaf 1961 is saam met die NG Kerk by Turfloop opleiding gegee. In 1979 is oorgeskuif na die Universiteit van die Noorde en het dit bekend geword as die Hervormde Teologiese Opleiding. Vanaf 1985 is die HTO by Klipdrift naby Hammanskraal gevestig. In 2006 is die HTO omskep in die Afrika Instituut vir Missiologie (AIM).

Barmhartigheidswerk

Die Hervormde Kerk het diep spore getrap in die maatskaplik-sosiale wêreld van kinderverwaarlosing- en armoedevraagstukke. In 1923 het die Nederduitsch Hervormde Weeshuis (NHW) op Krugersdorp tot stand gekom en het later uitgebrei. Die Algemene Diakonale Raad het later intens by die werk betrokke geraak. Die armoedevraagstuk, veral van die verstedelikte Afrikaner ná 1902, het die Kerk aangegryp. Sedert 1924 het die Ondersteuningsraad baie projekte aangepak wat steeds in verskeie vorme
voortgaan. So is bejaardesorg 'n hoë prioriteit gewees en in 1929 reeds is die eerste bejaardetehuis van die Kerk, Ons Tuis, se deure geopen.

Vroue se bydrae

Die rol van vroue in die Kerk is sedert 1940 georganiseer in die Nederduitsch Hervormde Sustersvereniging (NHSV). Onskatbare werk is en word deur die NHSV op die gebied van Christelike barmhartigheid verrig.

Sedert 1979 is vroue toegelaat om as diakens, ouderlinge en predikante te dien. Die NHK se eerste vrouepredikant was prof Yolanda Dreyer. Prof Elsabé Kloppers was die eerste vrouepredikant in Suid-Afrika wat 'n doktorsgraad in Teologie verwerf het.

Afrikaans as kerktaal
Op liturgiese gebied het die Kerk in 1933 Nederlands as kanseltaal vaarwel geroep toe die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans in gebruik geneem is, en in 1944 die eerste Afrikaanse Psalm- en Gesangeboek. In 1978 en 2001 is daar weer nuwe weergawes vir die kerksang aanvaar en in 1983 'n nuwe Bybelvertaling.

Kerkwapen
Die wapen van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika bestaan in hoofsaak uit die wapen van die voormalige Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) met byvoeging van ’n randskrif met die Kerk se naam. Dit toon die noue band wat tussen die ZAR en die Nederduitsch Hervormde Kerk bestaan het, wat volgens artikel 20 van die ZAR se grondwet (1858) staatskerk was. Die eerste weergawe van die wapen is in 1858 deur die Volksraad van die ZAR goedgekeur. Daarna is byvoegings gemaak en het dit in sy bekende vorm gedurende 1870 op posseëls verskyn. Die Vierkleur pryk ook op die wapen. Dit is deur ds Dirk van der Hoff ontwerp en vanaf 1858 as landsvlag gebruik. Gedurende die 19de eeu het die Kerk nie die wapen gebruik nie. In 1879 het die Algemene Kerkvergadering goedgekeur dat die wapen as seël gebruik kon word – iets wat nooit uitgevoer is nie. In 1924 is die wapen vir die eerste keer as Kerkwapen op die Almanak gebruik. Vanaf 1925 het ook Die Hervormer die wapen begin gebruik. Sedertdien is pogings aangewend om die wapen esteties en heraldies te verbeter. In 1992 het die Algemene Kerkvergadering ’n kerklike weergawe van dié ou wapen laat goedkeur. Die wysigings op die ZAR-wapen hou in dat die arend en leeu beter aan heraldiese eise voldoen, die vlae effens anders gerangskik is, en die skild groter en meer ovaalvormig is.

Nuwe logo
Hierdie metaforiese voorstelling van Jesus wat die dissipels se voete was, word gebruik om iets van die wese en roeping van ons kerkwees oor te dra. Die groot figuur wie se voete gewas word, is die wêreld wat met die evangelie bedien word. Die kleiner gebukkende figuur is Jesus Christus (en sy kerk op aarde) wat met sy hele wese dien. Die geboë lyne stel die dimensies voor wat deur die evangelie deurbreek moet word.

Hierdie metafoor bring ons onder die indruk van die verhouding tussen kerk en wêreld. Die dienskarakter van die kerk staan voorop. Die kerk moet dien. Kerkmense sien dit nie altyd so nie. Ons is dikwels nie eers bereid om mekaar te dien nie, wat nog te sê om die wêreld te dien. Hier lê die krag van die voorstelling: die verhouding tussen die gebukkende figuur wat die veel groter en sterker figuur dienend versorg.

By hierdie verhouding van diensbaarheid kan mens nie verbykyk nie. Dit is waaroor die gedeelte in Johannes 13 gaan. Dit is waarop die vraag van Jesus aan die dissipels terugkom: Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Indien julle die wesenlike van hierdie optrede begryp het, sal julle kan uitgaan en dit ook aan die wêreld doen. Indien julle egter dink dat julle belangriker as Jesus Christus is, sal julle allerlei maniere bedink om by hierdie opdrag verby te kom. Jesus ag dit ook nodig om die dissipels daaraan te herinner dat hulle nié belangriker is as Hy nie: Dit verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een  wat hom gestuur het nie. (Joh 13:16).

Verstaan ons dat ons nie groter as Christus is nie? Verstaan ons dat ons om dié rede nie moet verwag om ánders as Christus behandel te word nie? Verstaan ons dat dit van ons slawe maak wat die wêreld onvoorwaardelik moet dien – selfs al word ons daarvoor vertrap, beledig, geminag en selfs doodgemaak? Verstaan ons dat ons nie op regte en voorregte aanspraak mag maak nie, maar alleen soos Christus moet dien? 

Daarom dié woorde op ons webblad:

Ons wil dien soos Christus ons kom dien het (tot en met Desember 2011)
In Christus se voetspore (2011 -)